Kiwi’s se groepe bekend, SA franchise’e soek nog afrigters

Nieu-Seeland is maar altyd daardie trappie (of meer) voor die ander rugbylande.

Hierdie keer is dit hul sentrale kontrakteringstelsel van hul beroepspelers wat jou tref. Kyk nou maar na die bekendmaking Dinsdag van al vyf hul SuperRugby-spanne vir aanstaande jaar.

Intussen sukkel dit in Suid-Afrika en is nog nie een van ons vier spanne vir die SuperRugby-reeks aangewys nie. Trouens, dit sal vrek moeilik wees om dit hoegenaamd nou reg te kry, want by drie van Suid-Afrika se franchise is daar nie tans ʼn hoofafrigter wat die leisels met die spankeuse kan neem nie.

Die vierde is Robert du Preez, wat nog sit en bak in die glorie van verlede week se sege in die Curriebeker-eindstryd.

Swys de Bruin, hoofafrigter van die Lions, se planne  is darem seker agtermekaar al is sy aandag op die oomblik op die Springbokke toegespits.

Maar wat van die Stormers? Hul hoofafrigter is nog nie eens aangestel nie. Boonop is daar ook interne probleme soos die Paul Treu-kwessie wat dinge verder vertroebel.

En die Bulls? Hul nuwe hoofafrigter sal glo ook nie voor aanstaande jaar aangestel word nie. Wie dit ook al sou wees, sal saam met Rassie Erasmus werk wat klaarblyklik die oorgangsfase tussen John Mitchell se vertrek en die inburgering van die nuwe man sal help oorbrug.

Die vertraging in die aanstel van die spelers is in die omstandighede verstaanbaar, maar ʼn mens kan nie anders as om te dink aan die onsekerheid by die spelers nie.

Heelparty van hulle wonder ongetwyfeld of hulle hul franchise se SuperRugby-groep gaan haal, en dit maak natuurlik hul besluitneming oor hul loopbane, of ten minste hul onmiddellike opsies, soveel moeiliker.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.