Klein spanne staan hul man in Wêreldbeker-toernooi

Foto: (Kyodo News via AP)

Die statistieke sal jou vertel dat die topspanne van die Noordelike en die Suidelike Halfrond sake in die kwarteindronde van vanjaar se Wêreldbekertoernooi sal uitspook, maar ʼn mens wil ʼn lansie breek vir die kleiner spanne wat die toernooi Sondag vol opwinding afgesluit het.

Dis hoekom dit so jammer is dat die kragmeting in Kamaisji tussen Namibië en Kanada vanweë tifoon Hagibis afgelas is, want dit het een van die spanne die kans ontneem om met ʼn oorwinning te eindig.

Vir vier jaar is daar beplan en uitgesien na die groot dag, daar moes hordes kwalifiserende wedstryde gespeel word, vir vier jaar is daar gedroom van ʼn WB-oorwinning en toe gryp die natuur in.

Tog het Tonga, een van die ander kleintjies, sy kans behoorlik aangegryp deur die VSA met 31 – 19 in Higasjiosaka te klop.

Foto: (AP Photo/Aaron Favila)

Uruguay, wat met 13 – 35 teen Wallis in Koemamoto verloor het, het ook getoon dat die gaping tussen die topagt en die res van die spanne verklein het.

Dit was Tonga se negende opeenvolgende oorwinning oor die Amerikaanse Arende nadat hy skaars ses weke gelede met 7 – 92 deur die All Blacks vermorsel is.

Tonga het oor die afgelope maand met rasse skrede verbeter en namate die toernooi gevorder het, hul spelpeil gelig.

Laat dit ʼn les vir die besluitnemers wees, want in plaas daarvan om spanne soos die All Blacks, die Wallabies, Engeland en Frankryk toe te laat om die eilandspanne van hul beste spelers te stroop, is dit hoogtyd dat rugby in Fidji, Samoa, Tonga, Uruguay en die VSA verder ontwikkel word.

Foto: (Kyodo News via AP)

Uruguay, wat ook nog in sy kinderskoene as ʼn beroepspan is, het vroeër verras toe hy Fidji geklop het. Uruguay is nie meer die span wat met 134 – 3 in 2005 deur die Bokke geklop is nie, wat daarop uit is om negatief te wees nie, besit stadig te maak, die telling so laag as moontlik te hou en van skop-en-storm-taktiek gebruik te maak nie.

Hulle het nou vinnige, bekwame voor- en agterspelers wat mekaar aanvul.

Wallis, wat 13 veranderinge aan die span gemaak het wat Dinsdag in ʼn fisieke wedstryd vir Fidji geklop het, begin al hoe sterker as ʼn aanspraakmaker op hoër louere na vore tree. Hulle het sekerlik vyf drieë teen Uruguay weggegooi met ʼn laaste vorentoe aangee of ʼn aanslaan.

Wallis kom in aanstaande naweek se kwarteindronde teen Frankryk te staan en geoordeel aan hul diepte, spelskeppers en spelbrekers, behoort die Rooi Drake die halfeind te haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Netso! ·

Ek stem heelhartig saam dat stropey moet stop en dat daar meer ontwikkeling moet plaasvind. Die wereldbeker is besig om in n klug te verander, aangesien die Rugby Mafia finansieel baat en die res aan krummels moet kou. Moontlik iets soortgelyk vir opkomende lande. Behoort spelers wat ander weivelde soek by die huis te hou indien dit behoorlik bestuur word. Dit sal ook dan diepte veroorsaak en nie net steun op n sekere groepie spelers nie.

Frans C ·

Beroeprugby loop dieselfde pad as beroepsokker. Dit is ‘n werk en spelers speel vir spanne waar hul die beste vergoeding ontvang,net soos ander werknemers in ander beroepe dit doen.
Kyk maar hoeveel Springbokke speel oorsee en is in die huidige Bokspan.Soos die Rand verswak sal alhoemeer spelers hul heil oorsee gaan soek.Die spanne oorsee behoort meesal aan privaat ryk eienaars wat kan bekostig om die beste spelers aan te koop.

Die NZ en Australiese geldeenheid is ook sterker as die Rand en daarom is daar baie Suid See eiland spelers in die lande.

Dit is slegs in die kleiner spanne dat daar spelers is wat nog ‘n ander werk het en dus nie voltyds kan oefen nie. Solank vergoedingspakette ongelyk bly selfs in Suid Afrika sal die ryk unies altyd ‘n voordeel bo armer unies hê.Kyk maar hoeveel spelers die Sharks aangekoop het vir Superrugby doeleindes.Dit maak slegs die Sharks sterker ten koste van ander en nie Suid Afrikaanse rugby nie.

JohanL ·

Dit is ongelukkig so dat geld praat en jy gaan moeilik die ster van Fidji keer om vir ‘n span in Nieu-Seeland te gaan speel.

Maar waar Wereld Rugby wel meer moeite kan doen, is om die spel te ontwikkel onder die ander lande. Is dit nie immers een van sy grootste doelwitte nie? Inisieer byvoorbeeld ‘n “Drie-Nasies reeks” waar Tonga, Fidji en Samoa met mekaar meeding op ‘n dubbelrondte. Ek dink dit is haalbaar want afstande is nie groot nie. En al 3 lande speel huidiglik minder toetswedstryde as die top-lande – so ek dink itv tyd is dit ook haalbaar. Ten minste sal die spelers van genoemde lande wat “agterbly” en nie deur ander unies gegryp is nie, sodoende kan ontwikkel.

Jimmy ·

Die drie Suidsee lande speel elke jaar om die Pacific Nations Cup. Party jare word ander lande of spanne ook uitgenooi om deel te neem. In die RWC jaar word Japan, Kanada en die VSA ook betrek. Japan het vanjaar gewen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.