Kleiner Superreeks: Cheetahs kap terug na Stransky-uitlatings

Die Cheetahs het in ʼn sterk bewoorde verklaring die rugbykommentator en 1995-Wêreldbekerheld Joel Stransky tereggewys oor sy uitlatings tydens ʼn onderhoud met Radio Sport in Nieu-Seeland.

Stransky het in die onderhoud gesê hy sal dit verwelkom as die Cheetahs en die Southern Kings albei in die slag bly wanneer daar besluit word om die huidige Super18-reeks te verklein.

Die Cheetahs-konsessie bestempel Stransky se stellings as “oningelig”. Hulle het daarop gewys dat die Vrystaatse span in die Superreeks “in die boonste vier van die ses Suid-Afrikaanse spanne” op die punteleer lê.

Stransky se uitlatings volg nadat daar in die jongste tyd verskeie berigte was dat Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond waaronder die Superreeks ook val, die aantal deelnemende spanne wil verminder.

Dit word gedoen in ʼn poging om nuwe lewe in dié toernooi te blaas, met veral kykersgetalle wat in die laaste paar seisoene dramaties afgeneem het.

Die voormalige Wêreldbekerheld het voorts gesê “die ondersteunersbasis van die Cheetahs en die Southern Kings is baie klein”. Maar, sê die Cheetahs, “kykersgetalle wys dat meer mense na ons wedstryde kyk as enige van die Australasiese spanne”.

♦  Daar is by baie, reg of verkeerd, die siening dat die Cheetahs se span nie veel meer as van Varsitybeker-gehalte is nie. Goeie vertonings is dus nie week na week volhoubaar nie en ʼn gebrek aan spelersdiepte laat hulle ook in die steek in geval van beserings, word gesê.

Die finansiële onvermoë van die konsessie en Vrystaatse Rugbyunie om die uitstekende jong spelers van Bloemfontein te behou, is water op die meul van die kritici.

’n Speler soos die losskakel Fred Zeilinga, wat blink talentvolle spelers soos Clinton Swart en Niel Marais op die bank hou, het sy rugby eers in Durban gespeel, sonder om veel van ’n indruk te maak.

Die afgelope twee seisoene is hy egter een van die staatmakers in die Rosestad, waar sy spel die oog van die Springbok-afrigter Allister Coetzee gevang het, wat hom by die onlangse Bokoefenkamp betrek het.

♦  Die Vrystaters wys daarop dat tien van hulle spelers vanjaar na die Bokoefenkampe genooi is en dat bekende afrigters soos Rassie Erasmus, (Munster), Neil Powell, (Blitsbokke) en die huidige Cheetahsafrigter en nou ook die Bokke se hulpafrigter Franco Smith almal van die unie afkomstig is.

“Om die Cheetahs se deelname aan die Superreeks op te skort, sal ’n negatiewe inpak op die Suid-Afrikaanse rugbylandskap hê,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gerd Lourens ·

Raak eerder ontslae van die Kings, die Bulle en die Bokke…

Arie ·

Ek is ‘n bul maar die Cheetahs speel tans beter rugby as ons, stranky praat plein nonsens

Dries ·

Laat hulle vir hulle kry n paar jaar terug was dit juis hulle wat die Leeus uit gestem het uit Super rugby. Voel hoe voel dit om op genade te moet lewe

Anton ·

Kyk, hy het op sy kop geval en het seker die Bulls in gedagte gehad.

Clark ·

Ek is nie n cheetah ondersteuner nie maar sy uitlatings in die verband is onsin. Dit sal n baie swak besluit wees om die cheetahs uit die toernooi te haal

Willem pienaar ·

Kan Harold Vester asb Joel Stransky vra om nie weer sy voete in Vodacom Park te sit.

Douw ·

Ek wonder net wat die Cheetahs sou bereik het as hulle dieselfde finansieele bystand soos die Kings sou ontvang het.

Waarskynlik sou hulle een van die top provinsies in die land kon gewees het.

Ek stem saam met Gerd Lourens, raak ontslae van die Kings, Bulle en bokke.

Bulle is niks sonder huursoldate en met huursoldate is hul niks. Hulle kan net vasklou aan historiese uitslae. Die laaste paar jaar is hulle absoluut niks.

Nico K ·

Ek moet darem vir Dries antwoord. Die Cheetas het nie die Leeus uitgestem nie. Die rugbyraad het besluit die span wat laaste eindig val uit, en daardie jaar was dit toe die Leeus. Maar ek voel ook dat SA 5 spanne kan hê an hulle kan 2 van Australië se spanne uithaal. Die Rebels en Western Force het nog nooit iets gemaak nie en ek dink rugby is nie groot in daardie streke nie. Hulle paviljoene is maar leeg. (Hoewel SA se pawiljoene desdae ook maar leeg is.

Anton KLD ·

Nico K – Jy is reg oor die besluit van die rugbyraad. Die ander waarheid is dat die Unies moes stem vir of teen die besluit. Dit is waar die Cheetas gestem het om die Leeus te laat uitval.

dries ·

Hoekom moet daar twee Internasionale spanne in Gauteng wees. Kombineer Noord Transvaal en die Leeus saam en gee hulle n nuwe naam soos bv, Leeubuls.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.