Kleyn kan ‘n grote word

Jean Kleyn. (Foto: WP Rugby)

Jean Kleyn. (Foto: WP Rugby)

Jean Kleyn kan oor die volgende drie jaar een van die grotes in Ierse rugby word, maar die groot vraag is, sou hy dit gehaal het as hy in Suid-Afrika agter gebly het?

Die 22-jarige Kleyn (2,02 m en 118 kg) is op pad Munster toe, waar hy deur Rassie Erasmus (en Jacques Nienaber) gelok is. Hy word as `n projekspeler beskou, en as alles vir hom reg verloop, kan hy oor drie jaar vir die Ierse rugbyspan in aanmerking kom. Hy sal nou in die kollig wees, hy sal intensiewe afrigting ontvang en kan in `n toetsslot ontwikkel.

Ek kan dalk verkeerd wees, maar Kleyn, wat 18 keer vir die Stormers en 24 keer vir Westelike Provinsie gespeel het, sou dalk nie op koms gewees het om dit in Suid-Afrika op topvlak te maak nie.

Net soos in die verlede, is Suid-Afrika se slotspens tot oorlopens vol. In die Kaap moes hy meeding met Eben Etzebeth en Pieter Steph du Toit, terwyl JD Schickerling gereeld die jawoord bo hom as plaasvervanger gekry het. In Pretoria is Lood de Jager, RG Snyman en Jason Jenkins in sy pad; in Durban word Stephan Lewies en Etienne Oosthuizen vir die Sharks gekies; en by die Lions loop Franco Mostert rond.

Kleyn kom uit `n rugbygesin. Een van sy oupagrootjies, Jan Gerber, het tussen 1927 en 1929 vir die Westelike Provinsie gespeel, sy oom Johan Gerber was tussen 1965 en 1970 een van die WP se slotte en sy ma se broer, Jan Maree, het in die jare negentig ook slot vir die WP gespeel.

Kleyn was in die Hoërskool Linden, waar hy nie eintlik die wêreld aan die brand gespeel het nie. Hy is Stellenbosch toe om te gaan studeer, waar hy vir die Maties se o.19-span in `n proefwedstryd teen die WP-rugbyinstituut gespeel het.

Hy is vir die WP se o.19- en o.21-spanne gekies en het sy buiging vir die WP in die Vodacambeker-reeks gemaak voordat hy nader getrek is vir die Stormers.

Maar as hy in die Kaap gebly het, sou die keurders hom bo Etzetbeth, Du Toit en Schickerling gekies het? Hulle het Du Toit dan juis teruggelok Kaap toe nadat hy Springbok by die Sharks geword het.

Ek glo dat Kleyn wel die nodige vaardighede het om bo uit te kom, en met die regte afrigting kan hy. Hy is fisiek, groot en atleties, maar hy sal onder meer met die 25-jarige Quinn Roux, die oud-Affie wat sy buiging in die onlangse reeks teen die Bokke gemaak het, moet meeding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.