Kliniese All Blacks druk vyf keer

All-Blacks-logo_1087289[1]Die Poemas was nogal goed, die All Blacks skitterend. Vandaar dat Richie McCaw se Nieu-Seelandse span die 2015-Rugbykampioenskap met `n oorwinning van 39-18 afgeskop het.

Dit het weliswaar nooit gelyk of die Poemas dié een sou wen nie, maar hulle was goed op die verdediging, sterk in die vastelos maar ietwat planloos en sonder afwisseling teen die tuisspan se vlakstaande verdediging.

Dit was `n wedstryd waar dit weer beklemtoon is dat ouderdom nie noodwendig veel met gehalterugby te doen hoef te hê nie. Richie McCaw was uitstekend, sy Cusaders-spanmaat Dan Carter foutloos en invloedryk in sy eerste toets in byna twee jaar; Ma’a Nonu was elke keer `n handvol en die stut Tony Woodcock het in die los baljaar soos min flanke hom dit kan nadoen.

Nie dat Woodcock nie hard in die skrums gewerk het nie. Die faset was aanvanklik iets ysliks, waar die twee pakke mekaar aanvanklik letterlik nie `n enkele sentimeter kon skuif nie. Mettertyd het die All Blacks die effense oorhand gekry en dit was hier teen die einde, toe die Poemas egter hulle bank-voorry nadergetrek het, dat `n mens geweet het hoe sake sou in elke skrum sou verloop. Dit was ook tóé dat die enigste skrumstrafskop deur Craig Joubert toegeken is.

En van Joubert gepraat: hy was (weer) uitstekend – en diegene hier wat hom wil kruisig, moes maar net weer geluister het hoe hoog die Kiwi-kommentators hom ag.

Daar was `n paar blywende indrukke wat `n mens van die wedstryd oorhou:

♦ Die All Blacks wat met `n linie aanvallers met pragtige hantering telkens die amperse man-oor bewerkstellig het.

♦ Die rotsvaste verdediging van die Argentyne wat die Swarttruie telkens verhoed het om munt uit die aanvalle te slaan. Hulle het oomblikke voor rustyd egter in dié opsig gegly en die All Blacks `n ietwat onverdiende groot voorsprong van 18-6 besorg toe twee van hulle manne Nonu met hoogvatte probeer keer het.

♦ Die drie rolmaaldrieë. Die All Blacks s’n was eintlik nie eens `n rolmaal nie. Daar is glad nie gestoot of gemaal nie. Die lynstaan is gewen, dit het gelyk of die pak sou dryf maar Richie McCaw het eenvoudig voor om gekom, die bal is 15 sentimeter ver deur sy slot na hom uitgegee terwyl die Poemas vir die dryfslag gewag het, en hy is maklik oor.

Die Poemas het ook veel vinniger as Suid-Afrika begin met die rolgeldeelte van die losskrum en het om die kant vir hulle eerste drie geskil. Dit was `n opvallende variasie van Suid-Afrika se lang ruk van dryf voor hulle om die kante begin gaan.

En toe was daar die konvensionele reguit dryf wat die All Blacks nie kon keer nie – eg-Suid-Afrikaans in die uitvoering met reguit dryf doellyn toe.

♦ Die wyse waarop die vaste voorspelers hulle deel in die bewegings bygedra het.

Die Poemas, veral tuis, gaan moeilik geklop word. Die Bokke se wedstryd in Argentinië is egter nie deel van die Rugbykampioenskap nie, maar as laaste kans voor die Wêreldbeker sal dit een wees wat gewen móét word.

Punte:

Nieu-Seeland: Drieë: Richie McCaw, Ma’a Nonu, Charles Piutau, Kieran Read, Jodie Taylor. Doelskoppe: Dan Carter 4. Strafdoele: Carter 2
Argentinië: Drieë: Augustin Creevy 2. Doelskoppe: Nicolas Sanchez. Strafdoele: Sanchez 2

Spanne –

Nieu-Seeland
15 Israel Dagg, 14 Waisake Naholo, 13 Ma’a Nonu, 12 Sonny Bill Williams, 11 Charles Piutau, 10 Daniel Carter, 9 TJ Perenara, 8 Kieran Read, 7 Richie McCaw (kaptein), 6 Jerome Kaino, 5 Brodie Retallick, 4 Luke Romano, 3 Owen Franks, 2 Keven Mealamu, 1 Tony Woodcock. Bank: 16 Codie Taylor, 17 Wyatt Crockett, 18 Nepo Laulala, 19 Jeremy Thrush, 20 Liam Messam, 21 Andy Ellis, 22 Colin Slade, 23 Ryan Crotty

Argentinië
15 Joaquin Tuculet, 14 Horacio Agulla, 13 Marcelo Bosch, 12 Jeronimo De la Fuente, 11 Santiago Cordero, 10 Nicolas Sanchez, 9 Tomas Cubelli, 8 Facundo Isa, 7 Juan Martin Fernandez Lobbe, 6 Juan Manuel Leguizamon, 5 Guido Petti Pagadizabal, 4 Manuel Carizza, 3 Ramiro Herrera, 2 Agustin Creevy (kaptein), 1 Marcos Ayerza. Bank: 16 Julian Montoya, 17 Lucas Noguera, 18 Nahuel Chaparro Tetaz, 19 Benjamin Macome, 20 Javier Ortega Desio, 21 Martin Landajo, 22 Santiago Gonzalez Iglesias, 23 Lucas Gonzalez Amorosino

Skeidsregter: Craig Joubert (SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mambanzi ·

Dis hoe rugby gespeel moet word! Geen skrums wat inmekaar tuimel , geen balle wat weggeskop word en geen geel of rooi kaarte nie! Dankie AB’s.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.