Kliniese Engeland mors met Wallabies

Engeland se Anthony Watson (19 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Christophe Ena)

Om die Wêreldbeker-rugbytoernooi te wen, moet jy die basiese vaardighede reg uitvoer, klinies en gedissiplineerd wees en by jou wedstrydplan hou.

Dit was, en is, die wen-bestanddele van die Engelse rugbyspan toe hy Saterdag in Oita, Japan vir Australië met 40-16 in die eerste halfeindstryd van vanjaar se toernooi uitgeskakel het nadat die Rose rustyd reeds met 17-9 voor was.

Die punteverskil van 24 punte ewenaar Engeland se grootste oorwinning oor die Wallabies (30-6 in 2017). Dit het op die regte tyd gekom, wanneer die span moet kook, die selfvertroue hoog moet wees.

Engeland het vier drieë gedruk, die losskakel en kaptein, Owen Farrell, was met al agt skoppe in die kol om met 20 punte af te sluit en die span het persentasierugby in die laaste 20 minute gespeel toe die wedstryd in die sakkie was. Dan het George Ford as plaasvervanger-losskakel die bal baie suksesvol hoeke toe gejaag.

Vergeet ook maar van die praatjies dat die Engelse verroes sou wees en dat hul dissipline nie by die Franse skeidsregter, Jerome Garces, sou verbyglip nie.

England se Jonny May (middel) vier ‘n drie saam met spanmaats, (19 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Aaron Favila)

Hulle is goed afgerig, hulle het ʼn wenresep en hou daarby, hulle wurg die teenstanders en duik spanne se nerwe af agter die voordeellyn. Hul vaskopstut, Kyle Sinckler, hol soos ʼn losvoorspeler rond, die balvaardige slot Maro Itoje is ʼn bykomende losvoorspeler en die agtsteman, Billy Vunipola, ken net een pad: vorentoe.

Die Wallabies het in die strik getrap om van enige plek af te probeer aanval. Dis in hul gene, maar dit het die Engelse soos ʼn handskoen gepas, want die bloudruk wat in die kleedkamer bespreek is, kon nie uitgevoer word nie.

Die Wallaby-vleuel Marika Koroibete het wel die aanskoulikste drie gedruk toe hy Elliot Daly en ʼn hele paar ander spelers geflous het. Koroibete was diep in die tweede helfte weer oor die doellyn toe hy verder as 50 meter met die bal gehardloop het, maar daar was ʼn vorentoe-aangee in die aanloop daarvan.

Kan die Engelse gestuit word? Ja, want hulle is nie volmaakte produk nie.

Maar as jy hulle wil klop, sal jy voorlangs moet oorheers, die bal agter die agterste driehoek hou en al jou kanse benut.

Puntemakers:
Engeland  40 (17): Drieë: Johnny May (2), Kyle Sinckler, Anthony Josephs. Doelskoppe: Owen Farrell (4). Strafdoele: Farrell (4).
Australië: 16 (9): Drie: Marika Koroibete. Doelskop: Christian Lealiifano. Strafdoele: Lealiifano (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

AB ·

Geniet die oorwinning Engeland! Volgende week sal die All Blacks julle vlerkies vir julle knip!

Joon ·

Radio RSG het in die week een middag gese daar is net 1 Jappaner in span is dit waar of onwaar. Blykbaar bestaan die Japan se span uit verskillende land?

TwaalfBoor ·

Dit maak elkgeval nie saak nie. Dit gaan oor burgerskap en nie diversiteit nie.

Gert van Wierdapark ·

Die Wallabies se “ou hout” het nie veel in die wedstryd beteken nie! Planloos en voorspelbaar gespeel, “shame”!

Swartwolf ·

England verbeter met elke wedstryd. Die semi finaal Eng vs All Blacks moes eintlik die finaal gewees het. Dink bokke sal sukkel teen albei.

Frans C ·

Die Wallabies was takties swak, het nie geweet hoe om uit 25 meter te speel nie en hulself gedurig onder druk geplaas,Dit was reeds in Superrugby duidelik dat hul anders as die
All Blacks nie dominante spanne en spelpatrone het waarop die Nasionale afrigter kon voortbou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.