Klink ’n glasie op Alun Wyn

Alun Wyn Jones. Foto: Twitter.

Wanneer Wallis se Alun Wyn Jones hierdie Saterdag vir die Rooi Drake teen Skotland op die veld lei, sal hy in sy 149ste internasionale rugbywedstryd speel.

Sodoende sal hy die legendariese All Blacks-flank Richie McCaw se rekord vir die meeste toetswedstryde verbeter. Die charismatiese slot het reeds in 140 toetse vir Wallis gespeel, terwyl hy ook nege keer vir die Britse en Ierse Leeus gespeel het.

En volgens die Leeus-breier Warren Gatland het die 35-jarige nog baie petrol in sy tenk oor.

Daar word deesdae gereeld in die Britse media bespiegel oor wie die Leeus op hul Suid-Afrikaanse safari sal aanvoer. Die omstrede Engelse slot Maro Itoje is een van die gunstelinge, maar Gatland sê dat hy nie sommer van Jones sal vergeet nie.

“Wanneer jy na die Leeus kyk, behoort ouderdom glad nie ’n bepalende faktor te wees nie – juis omdat ʼn mens nie veel aan die toekoms dink nie,” het Gatland gesê.

“Jy dink nie oor die volgende toer oor vier jaar of om ’n Wêreldbeker-span aanmekaar te slaan nie; jy konsentreer net op die komende toer se doelwitte. Een van Alun se beste eienskappe is dat hy ongelooflik eerlik oor sy eie spel is – jy weet altyd presies waar jy met hom staan.”

Volgens Gatland het Jones oor die jare geleer hoe om sy werklas doeltreffend te bestuur.

“Hy is ’n fantastiese speler, hy skroom nie om leiding te neem nie en hy is baie eerlik.”

En waar hy baie opgewonde is oor Jones se teenwoordigheid in die Leeus-trui, glo Wayne Pivac dat die hardebaard selfs deel van Wallis se planne vir die volgende Wêreldbeker-toernooi kan uitmaak.

“As ’n mens na sy vermoë en huidige spelpeil kyk, voorsien ek geen rede waarom hy nie ook sy tasse vir die volgende Wêreldbeker in 2023 kan pak nie,” het die Wallis-afrigter gesê.

Jones het in 2006 sy buiging vir Wallis teen Argentinië gemaak. Hy is aanvanklik as losvoorspeler ingespan, maar die reus van 1,98 m en 122 kg het later die skuif na slot gemaak.

Die Wallis/Skotland-kragmeting skop môre om 16:45 af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.