Klinkende sege ʼn triomf vir Namibië se Loubser

Cliven Loubser – 26 punte. (Foto: Facebook)

Namibië se klinkende sege in Casablanca, Marokko, op pad na aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan, was ʼn persoonlike triomf vir sy 21-jarige losskakel, Cliven Loubser.

Die Biltongboere het die plaaslike Atlasleeus in die reeks om Rugby Afrika se Goue Beker met 63-7 afgeslag (rustyd 35-0).

Loubser het 26 punte vir die wenspan behaal.

Dié boorling van Rehoboth het twee drieë gedruk en met vlekkelose skopwerk agt verdoel.

Benewens ʼn strafdrie, het Aranos Coetzee, Pieter-Jan van Lill, Janco Venter (2) en Justin Newman (2) die wenspan se ander drieë gedruk.

Namibië het die eerste keer in vanjaar se reeks ʼn drie afgestaan toe Marokko hom ná die strafdrie vas aan die slaap gevang het. Terwyl die Namibiërs houtgerus na die middellyn teruggedraf het, het die Atlasleeus vinnig afgeskop en sonder enige teenstand gaan druk.

Marokko het die grootste deel van die tweede helfte met 14 man gespeel, nadat sy vaskopstut vir ʼn boorvat op die Namibiese slot Ruan Ludick afgestuur is. Ludick moes die veld verlaat, oënskynlik met ʼn skouerbesering.

Die span wat die Goue Beker wen, sal daarmee ook sy WB-plek bespreek.

Met slegs die kragmetings teen Kenia (tans tweede met nege ligapunte) en Zimbabwe wat voor lê, het die Biltongboere 15 punte ná drie wedstryde.

Kenia, wat deur die Nieu-Seelandse oudbreier van Grens, Ian Snook, afgerig word, het Zimbabwe in Nairobi, Kenia, met 45-36 getroef (rustyd 33-17).

In ag genome hoeveel sterker die wenspan geag word, het die gewese Springbokafrigter Peter de Villiers se Swartwitpense hulle nie te sleg van hul taak gekwyt nie.

Alles is egter nie wel wat die Simbas betref nie. Die span se hulpafrigter, Murray Roulston, het Dinsdag bedank, enersyds omdat hy nog nie ʼn werkpermit kon kry nie, en andersyds omdat sy salaris agterstallig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Haai ouens, waar is die sokker? Jig en is dit nie ‘n verligting dat die Argentyne uitgeskakel is nie. Daardie Maradona en Messi het ego’s wat skrik vir niks, Maradona daar op die pawiljoen. Messi lyk elke minuut nors, op of van die veld. Almal skuld hulle iets. Jammer van Portugal wat uitgeskakel is deur Uruguay. Ronaldo is darem maar ‘n ster, en wat ‘n persoonlikheid! Baie geluk aan die Franse, hulle kan maar. Kom ons kyk vanmiddag en vanaand, dit sal net so interessant wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.