All Blacks, Lions se doel: klop die ander op hul sterkpunt

Net ses uit 38 wedstryde. Dis al wat die Britse en Ierse Leeus sedert 1904 teen die All Blacks kon wen, en hierdie geskiedenis is volgens eie erkenning iets wat in die toerspan se koppe maal.

Maar terwyl die kop en ander faktore soos altyd hul rol sal speel, sal die eerste toets Saterdag (afskop 09:35) op Edenpark bepaal word deur die stryd tussen die All Blacks se vinnige hande en ondersteuning, en die Britse en Ierse leeus se knaende en aggressiewe voorspelerspel.

Die span wat sy kanse gebruik, die ander op sy sterkpunt kan aanvat en klop, behoort die 1-0-voorsprong in die drietoets-reeks te neem.

Die Leeus het sedert die oorwinning teen die Crusaders naastenby by hul uitverkorenes gehou en van krag tot krag gegaan. Hulle het in ʼn gedugte eenheid ontwikkel en dit tot dusver skitterend reggekry om die hardloopgevaar van die tuisspanne grootliks met opskietverdediging te neutraliseer.

Die Leeus se krag, hul skop-en-jaag taktiek en veel verbeterde skrum- en lynstaanwerk sal ongetwyfeld ʼn groot toets vir die All Blacks stel.

Die tuisspan daarenteen, met balvaardige en self indrukwekkende voorspelers, kan deur die noodsaak vir harde werk gedwing word om voorlangs ʼn raps vaster te speel en die aggressie die hoof te bied.

In hoe ʼn mate dít die All Blacks se speelpatroon in die geheel sal beïnvloed, sal bepaal wie die pas gaan aangee.

Die Kiwi’s is daarvan oortuig dat hulle met hul gladde aangeë en uitstekende agterlyn hul deurbrake kan maak. Hulle het die spelbrekers daarvoor: Beauden Barrett, Sonny Bill Williams, Israel Dagg, Ben Smith…

En so kan jy aangaan en die een span teen die ander afspeel.

Maar daar is vele ander dinge wat die uitslag kan beïnvloed. Te veel selfvertroue, die reën wat Vrydag geval het en wat die veld seker effens nat en glad sal laat ná nog voorspelde reën Saterdagoggend, en die Leeus se aanpassing by die interpretasie van Jaco Peyper van die Suidelike Halfrond.

Spanne –

Nieu-Seeland
15 Ben Smith, 14 Israel Dagg, 13 Ryan Crotty, 12 Sonny Bill Williams, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kapt.), 7 Sam Cane, 6 Jerome Kaino, 5 Samuel Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Wyatt Crockett, 18 Charlie Faumuina, 19 Scott Barrett, 20 Ardie Savea, 21 Thomas Perenara, 22 Aaron Cruden, 23 Anton Lienert-Brown.

Britse en Ierse Leeus
15 Liam Williams, 14 Anthony Watson, 13 Jonathan Davies, 12 Ben Te’o, 11 Elliot Daly,10 Owen Farrell, 9 Conor Murray, 8 Taulupe Faletau, 7 Sean O’Brien, 6 Peter O’Mahony (kapt.), 5 George Kruis, 4 Alun Wyn Jones, 3 Tadhg Furlong, 2 Jamie George, 1 Mako Vunipola. Bank: 16 Ken Owens, 17 Jack McGrath, 18 Kyle Sinckler, 19 Maro Itoje, 20 Sam Warburton, 21 Rhys Webb, 22 Johnny Sexton, 23 Leigh Halfpenny.

Skeidsregter: Jaco Peyper

Afskoptyd: 09:35

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.