Klubeindstryd eweneens ʼn WP-Sharks-saak

Nes die Curriebekereindstryd sal die finaal van die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale oopklubreeks om die Goue Beker tussen die Westelike Provinsie en die Sharks uitgespook word.

Dan moet ʼn mens seker maar aanvaar dis hoe die magsbalans in Suid-Afrikaanse rugby tans daar uitsien.

College Rovers (KwaZulu-Natal) het Saterdag in die halfeindronde vir ʼn groot verrassing gesorg toe hy die Blou Bulle se Quins-Bobbies-rugby (QBR) op eie werf in Pretoria met 31-28 getroef het.

Rovers het QBR in die eerste helfte met ʼn blitsoorlog getref, wat die tuisspan geheel en al onkant gevang het.

Toe hy rustyd tot verhaal kom, was die besoekers met 31-0 voor.

Matt Jones, Rovers se woelwater-flank, het drie keer agter die doellyn gaan kuier.

Die geykte “ʼn wedstryd van twee helftes” was hier werklik van pas, met QBR wat op sý beurt al die punte in die tweede helfte op die telbord geplaas het.

Sy terugvegpoging het egter met drie punte tekort geskiet.

Valsbaai se uitskakeling van die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala (Luiperds), was in ʼn mate voorspelbaar, maar hy het dalk verder gewen as wat algemeen voorsien is.

Hy het Impala in Kaapstad met 34-21 geklop, nadat hy rustyd reeds met 31-14 voor was.

Die Baai se ervare heelagter Adnaan Osman het 19 punte met ʼn drie, vier doelskoppe en twee strafdoele opgestapel.

Die eindresultaat: ʼn lippelek-lekker tuiseindstryd teen Rovers, wat hy in die groepfase met 15-14 in Durban geklop het.

Die puntemakers –

QBR 28 (0) – Drieë: Dale Hendricks, Mike Nienaber, Joe Motsepe, strafdrie. Doelskoppe: Morne Hugo (3).

Rovers 31 (31) – Drieë: Matt Jones (3), Chris Jordaan, Tythan Adams. Doelskoppe: Gavin Scott (3).

Valsbaai 34 (31) – Drieë: Michael Botha, Riaan O’Neill, Danie Roux, Adnaan Osman. Doelskoppe: Adnaan Osman (4). Strafdoele: Adnaan Osman (2).

Impala 21 (14) – Drieë: Bruce Muller, Tiaan Nel, Leon du Plessis. Doelskoppe: Cecil Dumond (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.