Klubrevolusie noodsaaklik vir hoër spelvlak

Durbell se Garth April is nou by die Sharks (Foto: Image SA /SARU)

Durbell se Garth April is nou by die Sharks (Foto: Image SA /SARU)

Dit sal niks minder nie as `n revolusie op klubvlak verg om die peil van klubrugby verder te lig as wat tans die geval is.

Die reekse om die Varsitybeker en die Goue Beker (voorheen die Gemeenskapsbeker) het die afgelope paar jaar berge versit om die aansien van klubrugby landwyd te herstel.

Daar is egter steeds ontsaglike klowe tussen die topspanne en die onderste laag in die senior liga van elke bond, behalwe dalk die Suidwestelike Distrikte (SWD) waar die mededinging verlede seisoen skerp, buitensporige tellings skaars en verrassings aan die orde van die dag was.

Die dilemma is pas weer beklemtoon toe Rustenburg Impala vir Harlequins, wat verlede jaar die Blou Bulle se vierde beste Carltonklub was, 104-13 in die Noorderbonde se Assupolreeks oorskadu het.

Pale Toe! is lank reeds `n voorstander van oorgrens-superligas om krag teen krag te meet en die herlewing van klubrugby op `n gesonde en volhoubare voet te plaas.

Superklubrugby kan selfs help om die skade wat die uitvloei van topspelers vir SA rugby inhou doeltreffender teen te werk.

Willem Strauss, `n internasionale rugbypromotor, het op navraag aan Pale Toe! gesê dis nie onmoontlik om borge vir sodanige reekse te kry nie, maar daar sal `n revolusionêre denkskuif by klubs in die rigting van beroeps- en semi-beroepsrugby gemaak moet word.

Hy sê borge sal behoorlike handelsgeleenthede en blootstelling moet kry. Dusver was sogenaamde klubborgskappe nie juis iets anders nie as blote skenkings.

♦ Die bydrae wat klubrugby steeds as voedingsbron vir provinsiale en selfs franchis’e kan lewer, blyk onder meer uit Garth April se vordering sedert verlede jaar uit Durbanville-Bellville se klubspan tot in die Sharks se Superrugbyspan, en van Leegan Moos uit Evergreens tot in die SWD Arende se span.

Jacques Kotzé (agter) en Damian Jansen van Rensburg (voor) - nou by die Pumas. (Foto: Hennie Homan/Steval Pumas)

Jacques Kotzé (agter) en Damian Jansen van Rensburg (voor) – nou by die Pumas. (Foto: Hennie Homan/Steval Pumas)

Die Pumas het einde verlede jaar nie minder nie as nege klubspelers genooi om saam met die bond se uitsoekgroep te oefen, en Jacques Kotzé (Witrivier) en Damian Jansen van Rensburg (Nelspruit) is op die duur in die groep behou.

♦ Strawwer voorbereiding op hierdie vlak behoort klubs eweneens beter vir die reeks om die Goue Beker voor te berei en ook hier die peil te lig.

♦ Gegrond op verlede jaar se prestasies, kan `n mens geredelik vyf sulke superligas in die vooruitsig stel.

Noord

Klubs soos die Tukkies, Polisie, Centurion (albei Blou Bulle), die Universiteit van Johannesburg (UJ), Pirates (albei Goue Leeus), Brakpan (Valke), NWU Pukke, Rustenburg Impala (albei Luiperds) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Shimlas kan by só `n liga ingedeel word.

Die Shimlas is wel baie verder as die res geleë, maar kraggewys is hierdie die enigste groep waar die Vrystaatse studente se uitskieter-topspan sinvol inpas.

Sentraal

Die UV se Irawas (Vrystaat), Welkom Rovers (Griffons), Sishen, Kimberley (albei Griekwas) en Vereeniging (die Valke se naaswenner) lyk na die sterkste kandidate vir `n sentrale groepering.

Vaal Reefs en Klerksdorp se vertoning vanjaar in die Griffonsliga sal `n aanduiding gee of hulle hierby kan inskakel.

Die Griffons se streekkampioene, Reitz (Oos-Vrystaat) en Hoopstad (Sandveld), kan dalk `n saak vir insluiting uitmaak, maar dis `n vraag of hulle die diepte vir só `n veeleisende reeks kan bymekaarskraap, en hulle sal ook moet bewys dat hul sterker as die ander klubs in die Griffons-Luiperdsliga is.

Northam, die Limpopo Blou Bulle se kampioen, bied nogal `n turksvy. Dis onwaarskynlik dat hy die mas in `n Noordelike superliga sal opkom, maar afstand kan `n probleem skep om hom by die Sentrale groep in te skakel. Dis amper 600 km daarvandaan Bloemfontein toe.

Oos

`n Oostelike groepering kan Witrivier, Nelspruit (albei Pumas), Durban Collegians, College Rovers, UKZN Impi (al drie KwaZulu-Natal) en die UV o.23-span (Vrystaat) omvat.

Die Universiteit van KwaZulu-Natal se gekombineerde span wat in die reeks om die Varsitybeker speel, sal ook hier die aangewese kombinasie wees.

Leegan Moos - nou by SWD. (Foto: Gold Cup Rugby)

Leegan Moos – nou by SWD. (Foto: Gold Cup Rugby)

Kostegewys sal dit seker goedkoper wees om die Kovsies se o.23-span ook in die voorgestelde Sentrale superliga te laat speel, maar uit `n rugbyoogpunt sal dit beter wees om die drie Kovsiespanne in die Bloemfonteinse Stadsbekerreeks oor drie verskillende superligas te versprei.

Suidoos

Old Selbornians van Oos-Londen, Oos-Londen Polisie (albei Grens), Port Elizabeth Polisie, Despatch (Oostelike Provinsie), Evergreens en Progress van George (SWD) lyk na min of meer vanselfsprekende keuses vir `n Suidoostelike oorgrensliga.

Die Oostelike Provinsie se Gardens (Uitenhage) en Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) kan vir insluiting oorweeg word.

In die NMMU se geval kan `n gekombineerde span van die kampusse in Port Elizabeth en George selfs deug.

Suidwes

`n Suidwestelike superliga behoort die Westelike Provinsie se vier topspanne – die Maties, die Ikeys, Valsbaai en Hamiltons – asook die nasionale oopklubkampioen, Durbanville-Belville, en die Boland se Worcester Villagers en Wesbank in te sluit.

♦ Hierdie ligas sal noodwendig gelyktydig met die bonde se klubligas moet plaasvind, omdat die rugbykalender nie vir `n afsonderlike tydgleuf voorsiening maak nie, en moet verkieslik oor `n dubbele ronde tuis én weg beslis word.

Bonde kan na gelang van hul eiesoortige behoefte en omstandighede hierdie klubs by uitspeelwedstryde later in die seisoen inskakel om provinsiale kampioene te bepaal en terselfdertyd vir bevordering en afskuiwing tussen die superligas en de provinsiale ligas te dien.

Waar `n wil is, is `n weg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Thomas ·

As die borges tot die party kom klink dit na een van die beste idees in jare. Dit gaan klub rugby nader aan professionele rugby bring vir die amateur spelers wat goed genoeg is om na die volgende vlak aan te beweeg.

Willie Oosthuizen ·

Ek sien dat die skrywer die mees konstante presteerders in die Puma liga naamlik Ferros en Middelburg totaal ignoreer met Ferros wat 3 jaar agtereenvolgens die Super Liga oorheers en gewen het en Middelburg vir die 4 jaar voor dit. Definitief nie die Laeveld klubs nie.

Milan Bye ·

Baie dankie vir jou hoogs geldige opmerking, Willie. Die artikel meld darem dat die veronderstelde samestelling bloot op verlede seisoen se vertonings geskoei is. `n Mens wil glo dat as so `n liga of ligas werklikheid word, daar wel meer krities na die potensiele deelnemers gekyk sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.