Klubrondomtalie: 148 vir vernietigende Maties

Stellenbosch storm onkeerbaar voort op sy vernietigingstog in die Westelike Provinsie se Superliga A, en het Saterdag 148 punte op die telbord geplaas.

Aan die ontvangkant was Belhar, wat slegs met drie punte kon terugslaan.

Dit het gevolg nadat die Maties vroeër dié week NTK met 79-13 verniel het.

Dié twee seges plaas die Stellenbossers nou vier ligapunte voor Durbanville-Bellville op die punteleer, terwyl laasgenoemde nie vandeesweek in aksie was nie.

Die Goue Beker-houer, Valsbaai, se ruim oorwinning van 45-15 oor NTK plaas hom derde.

Hamiltons (vierde) het die Ikeys oortuigend met 39-15 verslaan.

Superliga B

Met Paarl (37 ligapunte), Helderberg (36), Kuilsrivier (34), Bellville (33) en Primrose (32) almal binne trefafstand van die voorloper, Franschhoek (37), is die ketel in die Superliga B aan die kook.

Franschhoek het Kraaifontein Saterdag met 76-17 oorweldig; Paarl het met 27-32 teen Bellville slae gekry; Helderberg moes spook om Vineyards met 41-34 baas te raak; só ook Kuilsrivier vir sy sege van 23-18 oor Collegians; en Primrose het All Saints net-net met 31-30 getroef.

Superliga C

In die Superliga C het Langa verras deur Kylemore, een van die drie topspanne, met 25-18 onder te sit.

Dit het die voorloper, Macassar, wat ʼn loslootjie gehad het, ʼn sug van verligting laat slaak.

Goodwood het hoeka tot binne ʼn enkele punt minder as Macassar gevorder deur Strand United met 21-8 te klop.

Stadsliga

Masiphumelele loop verder voor in die Stadsliga nadat hy Progress Saterdag met 20-0 geklop het.

Suiderliga

In weerwil van sy sege van 52-26 oor Thistles, is Retreat steeds vier punte agter die voorloper in die Suiderliga, Morning Star.

Noorderliga

Blue Stars United se groot oorwinning van 54-17 oor Whistling Wheels in die Noorderliga plaas hom, op ʼn beter batige puntesaldo, voor Raithby Universals wat Eersterivier met 33-28 geklop het.

Van der Stel-Evergreens se sege van 58-35 sorg dat hy steeds sterk in die prentjie bly.

Blou Bulle

In Pretoria moes die Tukkies harder werk as hul Stellenbosse eweknie, maar hulle het die Noorderbonde se Superliga gewen deur die Naka Bulle (eweneens ʼn Blou Bulle-klub) met 29-9 te klop, nadat die Mootklub rustyd met 9-6 voor was.

Die studente het vroeër ook die Blou Bulle se Carltonliga gewen.

Die puntemakers –

Tukkies – Drieë: Stefan Coetzee, Bart le Roux.Doelskoppe: Steven Moir (2). Strafdoele: Steven Moir (4). Skepdoel: Steven Moir.

Naka – Strafdoele: Jean Grobler (3).

Rustenburg Impala II het die Presidentsliga gewen deur Tuine met 35-28 te klop, en Naka III het Pumas (UP) met 39-22 verslaan.

Korrektiewe Dienste (KD) het die Carlton-B-liga gewen deur die herstigte Pretoria met 37-24 te klop. Die Likkewane se tweede span het Pretoria II met 32-14 geklop, en Tuine III het KD III met 30-14 verslaan.

Transnet-Parke is die nuwe Carlton-C-kampioen nadat hy Cullinan in bykomende tyd met 22-19 geklop het. Die telling was 14-14 toe die gewone speeltyd verstreke was. Stanza Bopape II het Transnet-Parke II met 21-0 verslaan.

Valke

Springs het Saterdag die Valke se Peregrinebeker huis toe geneem nadat hy East Rand United in die doodsnikke met 35-32 verslaan het.

Nigel is die bond se Merlinkampioen nadat hy Sasolburg met 24-19 in die eindstryd verslaan het.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê dit het die span en sy ondersteuners se harte gebreek toe ERU, nes verlede jaar, in die doodsnikke van die eindstryd gestruikel het.
“Met agt minute oor, het Clayton Gindan ʼn skepdoel oorgeklits om ERU met 32-21 te laat voorloop, en die vreugdevure is voortydig aangesteek,” berig hy.

“Springs het egter onmiddellik ná die afskop ʼn fout van ERU uitgebuit, en ʼn doel op die telbord geplaas om die voorsprong tot 32-28 te laat krimp.

“Toe breek die langste vyf minute van die 2018-rugbyseisoen aan.

“ERU het nog ’n fout begaan, en toe Springs weer gaan druk, het hy elke ERU-ondersteuner se hart gebreek.”

Booysen sê ERU se kranige skrumskakel, Tiaan Ramat, was die verloorspan se beste speler. Hy het ʼn goeie wedstryd beleef, en is met twee pragdrieë beloon.

Benewens Gindan se skepdoel, het Cameron Rooi met tweedoelskoppe en vier strafdoele geslaag.

Goue Leeus

Roodepoort, ’n eertydse Suid-Afrikaanse klubkampioen, bulder vir die eerste keer in ’n paar jaar met die Goue Leeus se groot kanonne saam, en vat die verdedigende kampioen, die NWU Pukke, Saterdag op Wits se veld in die eindstryd om die Pirates-grootuitdaagbeker (PGU) voor die bors.

Die Potchefstroomse studente betwis ook drie van die ander vier PGU-afdelings. Sy tweede span speel teen die Universiteit van Johannesburg se tweede, sy derde teen Raiders II, en die o.21-span teen Wits o.21.

Roodepoort se o.19-span speel teen Pirates s’n, ʼn pluimpie vir die oop klubs in ’n afdeling waar die universiteite normaalweg oorheers.

Unie pak Johannesburg Polisie in die Bailybeker-eindstryd op sy tuisveld. Verlede jaar se wenner, Germiston Simmer, kon nie vanjaar die paal haal nie.

Die twee klubs se derde spanne is ook in die eindstryd slaags.

Alberton het drie spanne in die eindronde. Alberton II speel teen Diggers II, Alberton o.21 teen Polisie o.21, en Alberton o.19 teen Unie o.19.

SWD

Die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierligakampioen, Progress (George), het Saterdag twee van die drie halfeindstryde gewen, waarin hy gewikkel was.

Die senior span het Evergreens (Pacaltsdorp) met 22-15 geklop, en Progress IIhet Evergreens II met 23-3 geklop, maar Evergreens III was met 12-11 bo teen Progress III.

Wat die Oudtshoornse uitspeelwedstryde in die Presidentsliga betref, het Jaguars vir Spring Roses met 25-24 uitgeskakel, en Spring Roses II vir Seagulls II met 26-22.

In twee naelbytstryde in Riversdal het Riversdal Blues met 24-23 teen Mosselbaai gewen, en Eagle Stars met 23-22 teen Albertinia.

Dysseldorp speel in die eindstryd van die Karooliga teen Adias (Oudtshoorn) en Dysseldorp II teen Calitzdorp II. Kavaliers en Blue Birds pak mekaar in die eindstryd van die streek se Landelike Liga.

KZN

College Rovers, die verdedigende Murraybeker-kampioen, speel in die halfeindronde teen Varsity College (VC), en UKZN Pietermaritzburg teen Durban Collegians.

Dié vier klubs se tweede spanne spook ook sake om die Peter Taylor-beker uit – UKZN teen Rovers, en VC teen Collegians.

In die stryd om die Junior Murraybeker speel UKZN Durban tuis teen Westville Old Boys, en Piet Retief teen Ladysmith.

Vrystaat

Die uitslag van ʼn appèl sal bepaal of die verdedigende kampioen, Barkly-Oos, Saterdag in die halfeindronde van die Vrystaatse Plattelandse Liga teen Rovers van Venterstad of teen Buffels van Aliwal-Noord speel.

Laasgenoemde het appèl aangeteken teen ʼn beslissing wat hom party ligapunte ontneem, en as hy dit wen, dring hy tot die halfeindstryd deur.

In die ander halfeindstryd speel Hibernians (Burgersdorp), eweneens hangende die appèl, teen Buffels of EurAfricans (Aliwal-Noord).

Laasgenoemde het Rovers Saterdag in die laaste rondomtaliestryd met 15-8 geklop.

In die B-afdeling speel Crocodiles teen Stoele (Venterstad), en Universals (Colesberg) teen Scorpions (Gariep).

Boland

Roses United (Wellington), die Bolandse Grootuitdaagkampioen, het Delicious (Ceres) Saterdag met 19-12 geklop, en is ná 12 wedstryde steeds onoorwonne.

Pumas

Sasol II is die Pumas se Tweede Liga-kampioen nadat hy Witrivier II oortuigend met 45-17 geklop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nols ·

Ek raai hier word van rugby gepraat. Dit was eers duidelik toe die artikel halfpad deur skrams verwys het na driee”… Tot daar was ek onder die indruk dis krieket of snoeker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.