Klubrondomtalie: Blitsige vleuel druk sewe keer

Sweef Potgieter in sy UJ-dae. (Foto: Twitter)

ʼn Blitsige vleuel het Saterdag sewe drieë in ʼn wedstryd in die Valke se Peregrineliga gedruk.

Dit, saam met ʼn hele paar stewige skokke, ʼn honderdtal (en ʼn amperse ene) en nóg ʼn klompie nuwe kampioene, het die afgelope week se klubtoneel opgekikker.

Die speler van die wedstryd, Leon (Sweef) Potgieter, het sewe van East Rand United (ERU) se 18 drieë gedruk toe die Reigerparkse span Kemptonpark met 116-31 opgefrommel het.

Colin Booysen, ERU se spanbestuurder, sê Potgieter het elke keer wat hy die bal in die hande gekry het, die skare in vervoering gehad, en opnuut getoon dat daar geen plaasvervanger vir vaart is nie.

Booysen berig dat ERU – ʼn promotorskeuse ingeval die reeks om die Goue Beker wel later vanjaar plaasvind – eenvoudig alle fasette van die spel oorheers het.

“Die bal is selde of ooit geskop, en die voor- en agterspelers het goed saamgespeel.”

Puntemakers –

ERU – Drieë: Leon Potgieter(7), JP Fleming(2), Cameron Rooi(2), Stanley Steward (2), Tiaan Ramat, Waylon Thompson, Bakkies Bakumeni, Calvin Jantjies, Jonathan Botha. Doelskoppe: Cameron Rooi (10); Reagan Fourie(3).

In die ander wedstryd Saterdag in dié reeks het die verdedigende kampioen, Vereeniging, met 31-7 teen Boksburg gewen.

Springs is steeds die voorloper, met ERU tweede en Vereeniging derde.

Nigel gee die toon aan in die Merlinliga, en die Buffels (Grootvlei) in die Kestrelliga.

Griffons

Welkom kan die Griffons-Luiperds-oorgrensliga die tweede jaar op die ry af agter sy naam skryf.

Hy het Saterdag ʼn klinkende sege van 69-10 oor Rovers, ook van Welkom, behaal.

Laasgenoemde het Griffons-rugby oorheers voordat Welkom hom verlede jaar onttroon het.

Goue Leeus

Roodepoort het Saterdag vir een van die grootste skokke in ʼn lang tyd in die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se klubrugby gesorg.

Die klub wat die afgelope paar jaar kwaai gesukkel het, het Raiders – verlede jaar die bond se beste oop klub – met 63-19 opgedons.

Die Poorte, wat vanjaar hul 75ste bestaansjaar vier, is ʼn gewese nasionale klubkampioen.

Dit lyk in die algemeen of die wiel aan die draai is in die bond se klubrugby, met Wits wat weer sterk vertoon en Wanderers wat Saterdag vir Pirates (wat die GLRU in 2016 in die Goue Beker-reeks verteenwoordig het) oortuigend met 31-19verslaan het.

In die reeks om die Bailybeker is die huidige houer daarvan, Germiston Simmer, deur Johannesburg Polisie met 12-58 verniel.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) loop steeds voor in die Pirates-grootuitdaagreeks (PGU). Wits is tweede en Roodepoort, die voorloper in die oop klubs se reeks om die Kevin de Klerk-beker, is derde.

In die reeks om die Bailybeker spog Unie met die sonderlinge prestasie dat al drie sy spanne tot dusver vanjaar onoorwonne is.

Tshuma Stingers (Midrand) gee die toon in die Senior Grootuitdaagreeks (SGU) aan.

Ander uitslae –

PGU

Alberton 46, Soweto Eagles 11.

SGU

Southern Knights (Naturena) 45, Harlequins (Krugersdorp) 19; Kagiso 24, Alexandra 21.

Namibië

In Windhoek het United vir nóg ʼn eersteklasverrassing gesorg deur die Universiteit van Namibië (Unam) slegs sy tweede neerlaag vanjaar in die Namibiese Premierliga toe te dien toe hy hom op die studenteveld met 41-36 geklop het.

Wanderers het Rehoboth met 69-0 te pletter geloop.

Unam is nog ver voor met 52 ligapunte, gevolg deur Wanderers (41), United (40) en Western Suburbs (verlede jaar se beste oop klub) met 39.

KZN

Dit was tandekners, maar die Noord-KwaZulu-Natalse Subunie (NKZNSU) het ʼn splinternuwe kampioen in Piet Retief, wat die Ladysmith Bulldogs Saterdag met 36-33 oorwin het.

Die Ladysmithse span het vroeër vir ʼn groot verrassing gesorg deur die verdedigende kampioen, Vryheid, in die halfeindstryd met die kous oor die kop huis toe te stuur.

Piet Retief het ook die Tweede Liga gewen deur Sentraal (Dundee) met 62-12 te verpletter.

Ladysmith Wolves het die Derde Liga gewen deur Flying Eagles (Dannhauser) met 54-24 af te ransel.

Eerste Liga (Suid)

In die KwaZulu-Natalse Eerste Liga (Suid) woed daar ʼn verbete stryd tussen die voorloper en verdedigende kampioen, Hillcrest Villagers (62 punte), en South Coast Warriors (SCW) van Uvongo (61).

Hillcrest het Saterdag vir Pietermaritzburg Collegians met 66-7 opgefrommel; en SCW het UKZN Durban met 54-22 oorskadu.

College Rovers het selfs voor die afhandeling van die twee reekse seker gemaak dat hy die Moorbeker (Premierliga) en die Wyliebeker (Premierreserweliga) in sy bekerkas staanmaak.

Die tweede geplaaste Durban Collegians het 38 punte teenoor Rovers se 55 in die Premierliga, en 45 teenoor 50 in die Premierreserweliga.

Ander uitslae –

Eerste Liga (Suid)

Westville Old Boys (WOB) 38, Ballito Dolphins 10; Zululand Rhinos 55, Durban Mets 5.

Limpopo Blou Bulle

In die Blou Bulle se Limpopostreek het Pietersburg Noordelike in ʼn klipsteenharde botsing ʼn verrassende sege van 20-19 oor die naasvoorloper, Potgietersrus behaal.

Potties was rustyd met 19-5 voor, maar Noordelikes het in die tweede helfte heldhaftig teruggeveg, en die wendrie in die doodsnikke van die kragmeting gedruk.

Die kampioen, Northam, het Vrydag sy spoggerige nuwe klubhuis in gebruik geneem.

Griekwas

Die huidige Superliga-kampioen van Griekwas, Sishen, het Postmasburg Saterdag met 99-20 onder stof geloop.

Hy is tans tweede op die punteleer (34), ná Kimberley (43) wat in al nege sy wedstryde tot dusver vanjaar aan die wenkant was.

Hulle word gevolg deur United van Upington (21), Young Tigers van Calvinia (21), Upington-dorp (17) en Postmasburg (10).

Daar lê nog een rondomtaliewedstryd vir elke span voor.

Luiperds

Zeerust het hom knap van sy taak gekwyt deurdie halfeindronde van die Luiperds se Neserliga te haal nadat hy vanjaar tot die liga bevorder is. Hy het die Jaap Steyn-liga die vorige twee jaar gewen.

Die onoorwonne Fochville het hom Saterdag met 24-16 geklop; en Hartbeesfontein het sy laaste rondomtaliestryd teen Lonmin met 44-22 beklink.

ʼn Gedugte taak wag egter vir Zeerust wanneer hy die verdedigende kampioen, Lichtenburg, wat tweede geplaas is, op dié se tuiswerf aandurf.

Hoewel laasgenoemde vanjaar gesukkel het, meen kenners die span het die temperament om sy beste vir groot wedstryde te bêre.

Fochville, boaan die punteleer, pak Hartbeesfontein, wat vierde was, in die ander halfeind. Eersgenoemde het verlede jaar in die eindstryd teen Lichtenburg verloor.

Hartbeesfontein het sy ligapunte teen Zeerust as gevolg van die gebruik van ʼn ongeregistreerde speler verloor, anders sou hy derde gekom het.

OP

Die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagkampioen, Progress (Uitenhage), het Saterdag klippe gekou om ʼn besielde Park (Port Elizabeth) met 16-15 onder te kry.

PE Polisie, die vorige jaar se wenner, het Star of Hope (Uitenhage) met 39-28 geklop; en Gardens (Uitenhage) het Kruisfontein (Humansdorp) met 27-22 in toom gehou.

SWD

Crusaders (George) het grootliks verras in die Suidwestelike Distrikte se Premierliga deur die naasvoorloper, Barbarians (Mosselbaai) naelskraap met 26-25 op sy plek te sit.

Die verdedigende kampioen, Progress (George), het die vorige paar jaar se titelhouer, Evergreens (Pacaltsdorp), met 29-22 geklop.

Maori’s (George) het sy eerste wedstryd vanjaar gewen deur Silver Stars (George) met 22-14 onder te sit.

Ander uitslae –

Groot-Brakrivier 33, Heidelberg 23; Bridgton (Oudtshoorn) 28, Blanco 23.

Vonkelwyn uit die Goue Beker vir Graham Knoop, SA se klubspeler van die jaar en kaptein van die oopklubkampioen, Valsbaai. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

WP

Die Goue Beker-kampioen, Valsbaai, moes Saterdag in die Westelike Provinsie se Superliga A diep delf om Durbanville-Bellville met 37-34 te troef.

Met al drie spanne wat tot dusver vier uit vyf wedstryde gewen het, is Durbell egter steeds boaan die punteleer, met Hamiltons tweede en die Baai derde.

Ander uitslae –

Superliga A

Villager 17, Brackenfell 17; Hamiltons 31, Tygerberg 28; Unie-Milnerton 78, Schotschekloof Walmers 13; NTK 32, St. George’s 27.

Die voorloper in die Superliga B, Paarl, het ʼn oortuigende sege van 48-6 oor Helderberg behaal.

Goodwood het strawwe teenstand van Elsies River United ervaar, maar die voorloper in die Superliga C het op die ou end met 41-33 gewen.

Zimbabwe

Old Georgians (OG), wat Zimbabwe die afgelope twee jaar in die reeks om die Goue Beker verteenwoordig het, het Horns Saterdag met 81-7 in die Harare A-liga verslaan.

Hy is tans tweede op die punteleer, ná Harare Sports Club (HSC), wat Mutare met 40-0 oorweldig het.

In Groep A van die B-liga loop Mufakose voor, met Alex-Old Johanians II tweede en Southern City derde. Die Universiteit van Zimbabwe lei in Groep B, Old Hararians II is tweede, en HSC II derde.

Vrystaat

Met die tweede (halwe) ronde van die Vrystaatse Plattelandse Liga voor die deur, loop die verdedigende kampioen, Barkly-Oos, met 44 ligapunte voor.

Hibernians (Burgersdorp), verlede jaar se naaswenner, is tweede met 40 punte, en Eurasians (Aliwal-Noord) derde met 31

Burgersdorp, een van die oudste klubs in die streek en ʼn staatmaker in die eertydse Noordoos-Kaapland (NOK), het aan die liga onttrek.

Omdat klubrugby in die Suid- en Suidwes-Vrystaat heeltemal uitgesterf het, bestaan dié streek nog net uit klubs uit die ou NOK.

Boland

Minstens Roses United van Wellington (Witzenberg-Sentraal) en Saldanhabaai (Weskus) is steeds onoorwonne in die Bolandse Grootuitdaagreeks.

Roses is die verdedigende kampioen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.