Klubrondomtalie: Bulle se Carlton kry nuwe baas

Die Tukkies se Theuns Reynolds (sewe drieë in die reeks) en Steven Moir (127 punte) met die Carltonbeker. (Foto: Johanna de Vos)

Die Blou Bulle se Carltonbeker het Saterdag ʼn nuwe baas gekry.

Die Tukkies het die Naka Bulle in die laaste rondomtaliestryd met 49-32 verslaan, om boaan die punteleer te eindig, en dié beker vir die 22ste keer te wen. Hulle het dit ook drie keer gedeel.

Die studente het verlede jaar met 15-17 in die eindstryd teen Quins-Bobbies-rugby (QBR) verloor.

Rustenburg Impala (Luiperds) het laasgenoemde Saterdag met 59-50 in die Noorderbonde se Superliga oorwin.

Die puntemakers –

Tukkies –Drieë: Brian Leitch, Armandt Jordaan, Theuns Reynolds, Ian Oosthuizen, Raegan Oranje. Doelskoppe; Steven Moir (3). Strafdoele: Steven Moir (6).

Naka – Drieë: Riekert Korff (2), Ian van Deventer (2), Frans Botha.Doelskoppe: Anton Beswick (2). Strafdoel: Anton Beswick.

Impala –Drieë: Justin Wheeler (2), Aubrey McDonald (2), Tiaan Nel, Cecil Dumond, McDonald Duma, Maverick van der Merwe. Doelskoppe: Trevor Visser (8). Strafdoel: Trevor Visser.

QBR –Drieë: Pule Sibiya (3), Jan-Hendrik Bosman, Kowie Roos, Johan Pretorius, Jacobus Botha, Hendrik van der Nest. Doelskoppe: Ivan Venter (3), Jacobus Botha (2).

Ander uitslae –

Fezelas (UP) 31, Naka II 23; Naka III 26, Pumas (UP) 10; Impala II 98, QBR II 12; QBR III 40, Impala III 26.

Griffons

Dit het Saterdag bloed sweet vir Reitz gekos om Frankfort se aanslag om die Willie Crowther-beker af te weer.

Hy het die Griffons-Oos se senior beker behou deur die uitdager in die eindstryd naelskraap met 11-9 te troef.

KZN

In die KwaZulu-Natalse Middelland-subunie moes Drakensberg (Winterton) ewe hard swoeg om Voortrekker-oudleerlinge (VOL) van Pietermaritzburg in die uitklopliga om die Hiltonbeker met 20-18 baas te raak.

VOL II het die Boet Wessels-beker gewen deur Young Lions (Woodlands) met 38-29 te tem.

Namibië

Dis die verdedigende kampioen, die Universiteit van Namibië (Unam) teen United, en Wanderers teen Western Suburbs, verlede jaar se beste oop klub, in die halfeindstryd van die Namibiese Premierliga.

Almal is Windhoekse klubs.

Unam moes Saterdag sy storie ken om met 39-35 teen Wanderers te seëvier, en Suburbs het Rehoboth met 33-19 geklop.

WP

Wil jy glo! In die vorige ronde was Schotschekloof Walmers die leeutemmer wat die naasvoorloper, Hamiltons, met 26-19 geklop het; Saterdag verloor hy toe met 24-50 teen Villager, wat vanjaar eers weer tot die Westelike Provinsie se Superliga A toegelaat is.

Durbanville-Belville (klop Brackenfell met 34-22) is steeds eerste en Hamiltons (klop St. George’s met 57-12) tweede op die punteleer.

Unie-Milnerton se sege van 50-41 oor NTK plaas hom derde, een ligapunt voor Brackenfell.

Tygerberg, ʼn Goue Beker-kwarteindstryder van verlede jaar, het Belhar met 69-12 kafgedraf.

Die studentespanne, die Maties en die Ikeys, hou natuurlik tans nog vakansie en het drie-vier wedstryde minder as die res gespeel.

Paarl is weer voor (maar net op punteverskil) in die Superliga B nadat hy Primrose Saterdag het 27-19 ondergesit het, en Kuilsrivier hom met 31-36 teen Pniel Villagers vasgeloop het. Hamlets se aanslag het ʼn knou gekry nadat hy gelykop met 27-27 teen Collegians gespeel het.

In die Superliga C het Strand vir Macassar, wat nie dié naweek in aksie was nie, verbygesteek met ʼn oorwinning van 31-22 oor Sir Lowrians.

Masiphumelele se wegholsege van 92-0 oor Watsonia plaas hom tien ligapunte voor sy naaste Stadsliga-teenstander, Western Zebras.

Morning Star se amperse honderdtal teen Titans plaas hom op die punteverskil voor Noordelikes, wat tot dusver in die Suiderliga voorgeloop het. Hy het met 99-6 gewen, en Noordelikes het Young Brothers met 49-0 platgevee.

In die Noorderliga het Van der Stel-Evergreens die eerste plek by Blue Stars United afgeneem, deur hom met 39-33 te klop.

Albions bly die voorloper in die Paarlliga nadat hy vir Riverstones met 24-14 geklop het.

Boland

Die onoorwonne verdedigende Bolandse kampioen, Roses United (Wellington), het die tweede ronde in die streek Witzenberg-Sentraal met ʼn goeie bonuspuntsege van 38-16 oor Ceres weggespring.

Goue Leeus

Pirates het in die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagreeks(PGU) verras deur Wits met 52-35 slae te gee.

Unie het sy onoorwonne rekord in die reeks om die Bailybeker gehandhaaf deur Diggers met 53-17 te begrawe.

Nóg ʼn verrassing was in die Senior Grootuitdaagreeks (SGU) waar Kagiso die voorloper, Tshuma Stingers (Midrand), met 12-0 getroef het.

Ander uitslae –

PGU

NWU Pukke 68, Wanderers 15; Raiders 67, Randfontein 17; UJ 28, Roodepoort 20.

Bailybeker

Johannesburg Polisie 66, Soweto Eagles 12; Alberton 34, Germiston Simmer 7.

SGU

Southern Knights 82, Alexandra Wolves 5; Harlequins 74, Eldoronians 3.

Limpopo Blou Bulle

Met die Limpopo-reekse wat end se kant toe staan, is Northam, die Limpopo-kampioen, onoorwonne in al drie ligas waaraan hy deelneem.

Die puntelere –

Noordstreek

Eerste spanne

Northam 55, Potgietersrus 46, Noordelikes 34, Letaba 29, Louis Trichardt 29, Kruinies 9, Universiteit van Limpopo 0.

Tweede spanne

Northam 63, Letaba 54, Potties 47, Noordelikes 37, Louis Trichardt 35, Kruinies 21,UL 5, Universiteit van Venda 0.

Suidstreek

Eerste spanne

Naboom 47, Thabazimbi 43, Loskop 34, Nylstroom 29, Mogol 23, Kwaggas 10, Vaalwater 5.

Tweede spanne

Northam III 43, Amandelbult 24, Noordelikes III 23, Mogol II 22, Thabazimbi II 15, Naboom II 9.

OP

In die reeks om die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagbeker het Park (Port Elizabeth) vir Despatch met 56-27 oorrompel.

Motherwell loop nog voor in die reeks om die Grootuitdaagskild.

SWD

Beter stelskopwerk het Saterdag verseker dat Barbarians (Mosselbaai) die Suidwestelike Distrikte (SWD) se verdedigende kampioen, Progress (George), in die bond se Premierliga met 19-17 verslaan het.

Ander uitslae –

Bridgton (Oudtshoorn) 26, Heidelberg 25; Crusaders (George) 30, Maori’s (George) 20; Evergreens 27, Groot-Brakrivier 24; Blanco 20, Silver Stars (George) 19.

Valke

Wat die Valke se Peregrineliga betref, het East Rand United (ERU) in die tweede plek ingeskuif nadat hy Saterdag die verdedigende kampioen, Vereeniging, in ʼn rillerstryd met 30-24 geklop het.

Die voorloper, Springs, het die NWU Vaal met 75-14 oorskadu; en Boksburg het Brakpan met 66-31 laat tuimel.

Die Buffels (Grootvlei) het met hul vernaamste uitdager in die Kestrelliga afgereken deur Oos-Rand Polisie se aanslag met 23-17 te bowe te kom.

Oor ERU se sege teen Vereeniging, sê die wenspan se bestuurder, Colin Booysen, die Reigerparkers het veral met hul skrumwerk beïndruk.

Hy sê die voorry het die grondslagvirdieoorwinning gelệ, maar die bonkigeskrumskakel, Tiaan Ramat, verdien ʼn pluimpie.

“Ramat het besluit om te speel al was hy olik. Hy was selfs bereid om op die vleuel te begin ter wille van die span. Sy ondersteunende spel was van die boonste rak, en sy diens aan die agterlyn was uitstekend.”

Puntemakers –

ERU – Jackie Jonkers, Waylon Thompson, BakkiesBakumeni. Doelskoppe:Cameron Rooi (3). Strafdoele: Cameron Rooi, Clayton Gindan. Skepdoel: Clayton Gindan.

Zimbabwe

Harare Sports Club, die onoorwonne voorloper, het sy wedstryd teen Alex-Old Johanians in die Zimbabwiese Tussenstedelike Liga met 79-5 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

mark ·

Goeie naand.waarom gee julle nooit tellings oor die Puma rugby streek nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.