Klubrondomtalie: Eindstryd bly byna in slag

Kurt van Niekerk, die agsteman van Young Lions, nael met die bal in een van die Logan-halfeindstryde in Calvinia. (Foto: Donnowin Ruiters)

ʼn Administratiewe gesloer het byna veroorsaak dat die eindstryd van die Namibiese Premierliga Saterdag in die slag gebly het.

Wanderers en United is in werklikheid Vrydagaand meegedeel dat die wedstryd nie voortgaan nie, en die saak is eers Saterdagoggend beredder.

Wanderers het op die ou end die titel gewen deur United met 30-22 te verslaan (rustyd 17-15).

Na berig word het die probleem gespruit uit die gebruik van twee ongeregistreerde spelers deur Wanderers in ʼn vroeëre sege oor die Universiteit van Namibië (Unam). ʼn Tugkomitee het hom skuldig bevind en met twee ligapunte gestraf. Unam het appèl teen die ligte straf aangeteken, en ʼn onafhanklike tribunaal het vyf punte afgetrek.

Dit sou Wanderers se plek op die punteleer en sy halfeindteenstander raak, maar teen dié tyd was die halfeindronde afgehandel. Unam het uiteindelik sy beswaar na taai onderhandelinge teruggetrek, en ingestem dat die wedstryd voortgaan.

Dis die eerste keer sedert 2010 dat Wanderers die beker wen, nadat hy die afgelope vier jaar elke keer in die eindstryd slae gekry het.

Griekwas

ʼn Mens kan nie help om meegevoel met Kimberley te hê, wat blykbaar maar nie daarin kan slaag om Sishen se greep op Griekwas se Superliga te breek nie.

Jaar ná jaar (behalwe verlede jaar toe Upington United vir Kimberley in die halfeindronde uitgeskakel het) is die twee spanne in ʼn moordende eindstryd gewikkel, en jaar ná jaar wen Sishen naelskraap.

Saterdag het Kimberley op sy tuisveld die hele wedstryd lank voorgeloop, twee minute voor die einde nog met 9-3. Toe druk Sishen ʼn drie en verdoel dit, en wen met 10-9.

Postmasburg speel weer aanstaande jaar in die Superliga. Port Nolloth, wat hom in ʼn promosie-relegasiestryd sou uitdaag, het ná oorweging tot die slotsom gekom dat hy nie die diepte het om in die senior liga mee te ding nie.

Loganstreek

Die halfeindronde in Griekwas se Loganstreek het op sy beurt vir ʼn merkwaardige terugvegpoging en ʼn verrassing van die eerste water gesorg.

Donnewin Ruiters, Logan se woordvoerder, berig dat die eerste geplaaste Calvin United (Calvinia) ná 15 minute reeds met 21-0 teen die vierde geplaaste Proteas (Nieuwoudtville) voor was.
Calvin se swak dissipline en Proteas se puik stelskopwerk het laasgenoemde in die prentjie gehou, tot hy in die laaste kwart van die wedstryd algehele beheer oorgeneem het. Proteas het hierop twee puik drieë gedruk, en albei verdoel om met 32-21 te seëvier.

In die ander halfeindstryd was die huidige Logankampioen, Young Tigers (Calvinia) te sterk vir Young Lions (Nieuwoudtville), en het hom met 32-20 geklop.

Ruiters sê die Lions was baie goed in die skrums en lynstane, maar die Tigers het te veel slaankrag gehad, en ʼn goeie agterlyn, wat die Lions ore aangesit het.

Die streekspanne van Logan en Namakwaland meet Saterdag op Calvinia kragte. Namakwa het verlede jaar se botsing op Nababeep gewen.

Van die Tukkies se puntemakers teen QBR was (agter) Hanco Venter, Johan Grobler, Theuns Reynolds, Armandt Jordaan, Stefan Coetzee en (voor) Steven Moir, Lourens Pretorius, WJ Strydom en Raegan Oranje. (Foto: Johanna de Vos)

Blou Bulle

Twee Blou Bulle-klubs, die Tukkies en die Naka Bulle, speel Saterdag in die eindstryd van die Noorderbonde se Superliga.

Die studente het Quins-Bobbies-rugby (QBR) met 67-17 in die halfeindronde bemeester, en Naka het met 27-19 teen Rustenburg Impala (Luiperds) gewen.

Puntemakers –

Tukkies – Drieë: Raegan Oranje (3), WJ Strydom, Lourens Pretorius, Johan Grobler, Stefan Coetzee, Armandt Jordaan, Theuns Reynolds, Hanco Venter. Doelskoppe: Steven Moir (5), Xander Kruger (2). Strafdoel: Steven Moir.

QBR – Drieë: Juan Nel, Jasper Genis, Attie Joubert. Doelskop: Juan Nel.

Naka Bulle – Drieë: Sylvester Booysen, Dylan van der Walt, Chris Hollis, Jerome Bastick. Doelskoppe: Ruaan du Preez (2). Strafdoel: Ruaan du Preez.

Impala – Drieë: Dumesani Matyeshana, Maverick van der Merwe, Justin Wheeler. Doelskoppe: Trevor Visser (2).

Ander uitslae –

Presidentsliga

Tuine 30, Fezelas (UP) 29; Impala II 45, Naka II 43; Pumas (UP) 24, QBR III 15; Naka III 18, Tuine II 10.

Pumas

Middelburg daag die Pumas-kampioen, Sasol van Secunda, Saterdag in dié oliestad uit in die eindstryd van die bond se Premierliga.

Hy het Nelspruit in ʼn uitspeelstryd met 32-29 geklop, nadat hy eers met 72-14 met Witbank afgereken het.

Nelspruit het Witrivier in die eerste uitspeelronde met 31-17 getroef.

Wat die tweede spanne betref, spook Sasol II sake teen Witrivier II uit.

Valke

East Rand United (ERU) het Saterdag 2017 se Valkekampioen, Vereeniging, in ʼn naelbyt-halfeindstryd van die Peregrineliga uitgeskakel deur hom met 26-25 te klop.

In die ander halfeindstryd was Springs met 31-15 baas teen Boksburg.

Die Merlinliga se eindstryd word tussen Nigel en Sasolburg beslis.

Eersgenoemde het Meyerton met 82-7 verrinneweer, en laasgenoemde het die Vaal Universiteit vir Tegnologie (VUT) met 12-6 uitgeskakel.

Colin Booysen, ERU se spanbestuurder, laat weet Vereeniging was vyf minute voor die einde nog met 25-21 voor, toe die aansporing van die fanatieke Reigerparkse skare ERU die wa deur die drif laat trek het.

ERU is in 2016 tot die senior Peregrineliga bevorder nadat hy die vorige jaar die Merlinliga gewen het, en het verlede jaar teen Vereeniging in die Peregrine-eindstryd verloor.

Booysen sê ERU se kaptein, JT Botha, het van voor af gelei.

“Hy was aan die voorpunt op die verdediging én op die aanval, en het sy troepe deurentyd positief gehou.”

Puntemakers –

ERU – Drieë: Tiaan Ramat (2), JT Botha. Doelskop: Cameron Rooi. Strafdoele: Cameron Rooi (3).

Ander uitslae –

Vereeniging o.21 25, Springs o.21 15; NWU Vaal o.21 20, ERU o.21 17; Sasolburg o.21 38, Nigel o.21 29.

Zimbabwe

Harare Sports Club durf die Zimbabwiese kampioen, Old Georgians, oor ʼn iets meer as ʼn week in die eindstryd van dié land se Tussenstedelike Liga aan.

KZN

Die eerste ronde van die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se uitklopreeks om die Murraybeker het getoon dat daar ʼn aanmerklike kloof tussen die Premier- en Eerste Liga-klubs in die bond is.

College Rovers, die houer van die beker, het Westville Old Boys met 71-21 verslaan.

Ander uitslae –

Durban Collegians 97, Vryheid 10; Varsity College 90, Pietermaritzburg Collegians 7; Amanzintoti 86, Ladysmith Bulldogs 13; Richardsbaai 79, Volksrust 22; UKZN Pietermaritzburg 79, Piet Retief 27; Crusaders 35, UKZN Durban 17; South Coast Warriors 17, Hillcrest 7. (Laasgenoemde twee is albei Eerste Liga-spanne).

Boland

Roses United (Wellington), die verdedigende Bolandse Grootuitdaagkampioen, het sy onoorwonne rekord vanjaar gehandhaaf deur Evergreens (Wellington) met 59-10 te verniel.

Goue Leeus

In die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagreeks het Wanderers Woensdag vir Raiders, verlede jaar se beste oop klub, met 35-31 oorwin.

Vrystaat

Dit was Saterdag net-net, maar Barkly-Oos, die Vrystaatse plattelandse kampioen, is vanjaar steeds onoorwonne.

Hy het die Buffels (Aliwal-Noord) met 12-11 getem.

Ander uitslae –

Hibernians (Burgersdorp) 12, Venterstad Rovers 0; Universals (Colesberg) 24, Scorpions (Gariep) 0; Crocodiles 45 (Burgersdorp), Stoele (Venterstad) 8.

WP

ʼn Groot oorwinning van 47-21 Saterdag oor Hamiltons het die Maties in staat gestel om tussen Durbanville-Bellville en Hammies in die tweede plek op die Westelike Provinsie se Superliga A-punteleer in te skuif.

Die Stellenbosse studente het tot dusver twee wedstryde minder as die ander twee gespeel.

Die voorloper, Durbell, het die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) met 40-22 ʼn les geleer.

Ander uitslae –

Victoriane 74, Belhar 7; Villager 19, St. George’s 14; Ikeys 45, NTK 33; Valsbaai 49, Unie-Milnerton 27; Brackenfell 23, Schotschekloof Walmers (SKW) 20.

Opgesomde punteleer –

Durbell 42, Maties 31, Hamiltons 31, Valsbaai 28, Uniemil 27, Ikeys 26, Brackenfell 24, Tygerberg 23, Villager 17, NTK 15, Victoriane 13, St. George’s 12, SKW 6, UWK 5, Belhar 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.