Klubrondomtalie: Is nóg ʼn historiese klub op pad uit?

Jaag dit bloot spoke op, of is nóg ʼn historiese klub op die afdraand?

Dis met ingehoue asem dat Durban Collegians se vertonings van die afgelope maand in die KwaZulu-Natalse Premierliga beskou word.

Varsity College (VC) het Collegians (wat in 1906 gestig is, en jare lank ʼn oorheersende rol in dié bond se rugby speel) in die afgelope weekronde van die reeks met 16-14 geklop, nadat laasgenoemde onlangs in selfs ʼn groter skokuitslag met 40-49 teen Richardsbaai verloor het.

Des te meer, VC se tweede span het met 23-22 gewen, en sy o.20A-span met 20-17.

ʼn Ou KZN-staatmaker, Pietermaritzburg Collegians (1903), speel al ʼn jaar of wat in die Eerste Liga. Durban High School Old Boys (1911) het heeltemal van die toneel verdwyn.

Dis nie slegs in KZN dat roemryke klubs sukkel om in die beroepsera te oorleef nie.

In die Westelike Provinsie het Villagers (1875) en Somerset-Wes – nou Helderberg – (1903) verlede jaar nie meer tussen die top15 spanne getel nie; Paarl (1883) nie meer tussen die top30 nie en Tuine – nou KSUT-Tuine – (1882) nie eens meer tussen die top45 nie.

In Port Elizabeth voer Crusaders – wat verlede jaar 130 jaar oud was, en op wie se veld Suid-Afrika sy eerste rugbytoets gespeel het – ʼn oorlewingstryd. Olimpics (1881), Swifts van Uitenhage (1892) en Albany van Grahamstad (1893) het lankal die gees gegee.

In die lêplek van die Goue Leeus ding Diggers (1893), Germiston Simmer (wat in 1907 al die Pirates-grootuitdaagbeker gewen het) en Alberton (1912) jare lank al nie meer in die senior liga mee nie.

In Pretoria het Harlequins (1902) en Pretoria Polisie (1921) verlede jaar saamgesmelt om Quins-Bobbies-rugby te vorm – ʼn klub wat in sy eerste bestaansjaar die reeks om die Goue Beker gehaal het, maar vanjaar sukkel om op dreef te kom.

Pretoria (1888) is vanjaar herstig nadat dit ʼn klompie jare gelede doodgeloop het. Of dit in die ware sin van die woord ʼn herlewing van die oorspronklike klub is, sal afhang van die mate waarin die ou staatmakers hulle met die nuwe klub vereenselwig.

De Beers van Kimberley (1893) is tot niet, en Collegians van Bloemfontein (1902) is nie naastenby die kragspan wat dit eens was nie.

In belang van KZN-rugby kan ʼn mens bloot vertrou dat Durban Collegians die dreigende agteruitgang sal kan stuit.

Ander uitslae –

KZN-Premierliga (Moorbeker)

College Rovers 38, Crusaders 3; Amanzimtoti 31, UKZN Pietermaritzburg 17.

Premierreserweliga (Wyliebeker)

Rovers 53, Crusaders 3; Amanzimtoti 71, UKZN Pietermaritzburg 7.

Eerste Liga (Suid)

South Coast Warriors (SCW) 33, Jaguars 5; Pietermaritzburg Collegians 22, Durban Mets 17; Ballito Dolphins 17, Zululand Rhinos 7; Westville Old Boys (WOB) 17, UKZN Durban 10.

Eerste Reserweliga (Suid)

SCW 71, Jaguars 7; Pmb Collegians 52, Mets 15, Ballito 26, Rhinos 24; WOB 24, UKZN Durban 12.

Onder 20B-liga (Kingsparkbeker)

VC 15, Crusaders 11; Rovers 61, Richardsbaai 7.

KZN-Middelland

♦ Voortrekker-oudleerlinge (VOL) II van Pietermaritzburg is die voorloper in KwaZulu-Natal se Middelland-liga, maar het ʼn wedstryd meer as VOL I en Drakensberg (Winterton) gespeel.

Hy het Howick Eagles in die afgelope weekronde met 49-0 verslaan.

Drakensberg het Nagle Dam Rhinos met 89-0 verpletter (15 drieë), en VOL I het Obhejane met 84-0 oorrompel (13 drieë).

Vorige uitslae –

Drakensberg 72, Cedara 0; Greytown 74, Nagle Dam 7; Young Lions (Woodlands) 15, Howick 10; VOL II 44, Obhejane 27; VOL II 38, Lions 0; VOL I 49, Greytown 7; Nagle Dam 57, Howick 7; Cedara 25, Obhejane 24.

Opgesomde punteleer –

VOL II 15, Drakensberg 10, VOL I 10, Greytown 5, Cedara 5, Nagle Dam 5, Obhejane 3, Lions 1, Howick 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.