Klubrondomtalie: Kampioen struikel in Namibië

Die span wat Namibiese klubrugby die afgelope aantal jare oorheers het, is in die halfeindstryd van die land se Premierliga uitgeskakel.

United het die Universiteit van Namibië (Unam) op verrassende wyse met 32-31 verslaan. Hy het Unam in die rondomtalie ook ʼn slag met 41-36 geskok, maar niemand het geglo hy kan dit ʼn tweede keer regkry nie.

Die studente het die liga drie jaar op die ry af gewen en het vanjaar weer boaan die punteleer geëindig.

Verlede jaar se Namibiese Goue Beker-span, as beste oop klub, Western Suburbs, het eweneens in die slag gebly toe Wanderers hom met 49-21 oorrompel het.

Die eindstryd tussen Wanderers en United herinner nogal aan die bloeityd van klubrugby in dié gebied toe hulle merendeels die botoon gevoer het.

Wat die Reserweliga-halfeindronde betref, het Wanderers vir United met 39-19 geklop; en Unam het Kudus (Walvisbaai) met 60-33 onder die stof geloop.

Durban Collegians se kaptein, Jacques Venter, en College Rovers s’n, Francois “Dutchie” Robbertse, met die Murraybeker. (Foto: Jos Robson)

KZN

South Coast Warriors (SCW) van Uvongo het Hillcrest as houer van die Eerste Liga (Suid) onttroon deur die laaste rondomtaliewedstryd teen Westville Old Boys (WOB) oortuigend met 39-19 te wen.

SCW sal nou teen die KZN-Noord-kampioen, Piet Retief, om die Dewarskild kragte meet.

In ʼn strawwe halfeindstryd om die Findlaybeker (Derde Liga) het Harlequins (Durban) vir Ladysmith (Noord) met 37-33 verslaan.

Die loting vir die bond se uitklopreeks om die Murraybeker is intussen gedoen en in die eerste ronde pak die verdedigende kampioen, College Rovers, vir WOB op laasgenoemde se tuisveld.

Ander bepalings –

Vryheid teen Durban Collegians (Vryheid); UKZN Durban teen Crusaders (Howard College); Volksrust teen Richardsbaai (Volksrust); Ladysmith teen Amanzimtoti (Ladysmith); Piet Retief teen UKZN Pietermaritzburg (Piet Retief); Pietermaritzburg Collegians teen Varsity College (Woodburn); Hillcrest teen SCW (Shongweni).

Ander uitslae –

Premierliga

Varsity College 66, Richardsbaai 22.

Premierreserweliga

Richardsbaai gee punte teen VC.

Eerste Liga (Suid)

Hillcrest 19, UKZN Durban 17; Jaguars 15, Zululand Rhinos 13.

Eerste Reserweliga (Suid)

SCW 34, WOB 19; Hillcrest 15, UKZN Durban 0; Zululand Rhinos gee punte teen Jaguars.

Calvin United – boaan Logan se punteleer. (Foto: Donnowin Ruiters)

Griekwas

Die halfeindstryde in Griekwas se Superliga het in ʼn groot mate in ʼn klug ontaard.

In die A-afdeling het Kimberley vir United (Upington) met 83-3 verrinneweer, en Sishen het Young Tigers (Calvinia) met 84-0 opgefrommel.

Dit was nog erger in die B-afdeling se eindstryd waar Port Nolloth by verstek gewen het nadat Kuruman bes gegee het. Die wedstryd sou op Kakamas plaasvind.

Loganstreek

Donnowin Ruiters, ʼn woordvoerder van Griekwas se Loganstreek, sê Saterdag se halfeindronde beloof om opwindende rugby op te lewer met twee plaaslike spanne en twee spanne van Nieuwoudtville wat mekaar 14:00 en 16:00 in Die Kraal, Calvinia, voor die bors vat.

Young Tigers (tweede op die punteleer), die verdedigende Logankampioen, en wat in die Superliga uitgeskakel is, durf Young Lions (derde) in die een kragmeting aan; en Calvin United (eerste) kry met Protea United (vierde) te kampe.

Ruiters sê daar is min tussen die spanne te kies, en wil nie ’n voorspelling oor die uitslag waag nie.

Blou Bulle

Drie uit die vier halfeindstryders in die Noorderbonde se Superliga is Blou Bulle-klubs.

Vanjaar se Carltonkampioen, Tukkies, durf sy voorganger van verlede jaar, Quins-Bobbies-rugby (QBR), op die studenteveld in die een kragmeting aan.

Die Naka Bulle, die naaswenner in die Carltonreeks, reis na Rustenburg om met Rustenburg Impala kragte te meet.

Sowel die studente as Impala het hul teenstanders twee keer in die rondomtalie geklop. Gaan hulle dit weer doen, of kan die derde maal skeepsreg vir Naka en OBR wees?

Goue Leeus

Die voorloper in die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagliga (PGU), die Universiteit van Johannesburg (UJ), het Randfontein Saterdag genadeloos opgedreun en met 76-0 geklop.

Die verdedigende kampioen, die NWU Pukke, het op sý beurt sy hande vol gehad om Roodepoort met 40-35 baas te raak.

Ander uitslae –

PGU

Wanderers 48, Wits 40.

Bailybeker

Johannesburg Polisie 51, Alberton 28; Unie 53, Diggers 17; Germiston Simmer 29, Soweto Eagles 5.

Grens

Swallows (Mdantsane), wat verlede jaar as ʼn promotorskeuse aan die reeks om die Goue Beker deelgeneem het, se oorwinning Saterdag van 24-16 oor Ocean Sweepers (Nxaruni) plaas hom in ʼn baie gunstige posisie om Grens se Superliga vanjaar te wen.

Limpopo Blou Bulle

Die onoorwonne verdedigende Limpopo-kampioen, Northam Rhinos, se eerste en tweede span is só ver voor op die punteleer dat hy Saterdag punte aan Potgietersrus afgestaan het, sonder om sy plek in gedrang te bring.

Northam speel Saterdag in die Senior Liga (Noordstreek) teen Louis Trichardt in die halfeindronde, met Potties wat Pietersburg Noordelikes aandurf.

Northam II speel teen Noordelikes II, en Letaba II teen Potties II.

In die Reserweliga (Suidstreek) pak Naboom Vrydag vir Nylstroom, en Thabazimbi vir Loskop (Groblersdal).

Northam III kom teen Mogol II te staan, en Noordelikes III teen Amandelbult I.

Valke

East Rand United (ERU) se sege van 36-10 Saterdag oor die NWU Vaal in die Valke se Peregrineliga verseker dat hy in ʼn tuishalfeindstryd in Reigerpark (16:00) teen die verdedigende kampioen, Vereeniging, te staan kom.

Die boonste span op die punteleer, Springs, speel in die ander halfeindstryd teen Boksburg (16:00 in Springs).

In die Merlinliga durf Nigel tuis vir Meyerton aan (15:30); en Sasolburg meet teen die besoekende Vaal Universiteit vir Tegnologie (VUT) kragte (16:00 in Sasolburg).

Die afgelope naweek se rugby het drie taai en opwindende naelbytstryde opgelewer.

Brakpan het Boksburg met 27-26 in die Peregrineliga getroef; VUT vir Meyerton met 20-19 in die Merlinliga; en Elsburg vir Oos-Rand Polisie met 22-21in die Kestrelliga.

Buffels (Grootvlei) is met 69 ligapunte steeds die voorloper in laasgenoemde reeks, gevolg deur Polisie (60), Edenvale (57) en Elsburg (51).

♦ Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê die klub is in sy noppies met die beskikbare diepte, wat hom in staat gestel het om drie wedstryde in sewe dae te wen – teen Vereeniging met 30-24, teen Brakpan met 54-38 en teen die NWU Vaal met 36-10 – terwyl hy vir van sy groot kanonne ʼn blaaskans kon inruim.

Hy sê Tiaan Ramat, ERU se kookwaterskrumskakel, het Saterdag teen die NWU Vaal vleuel gespeel, en getoon dat hy in enige posisie in die agterlyn tuis is, deur met die toekenning as speler van die wedstryd weg te stap (Ramat het dit teen Vereeniging as skrumskakel verdien).

“Hy was met sy vaardighede, vaart en ondersteunende spel ʼn doring in die vlees van die studente, en het drie pragdrieë gedruk,” het Booysen laat weet.

Puntemakers –

ERU – Drieë: Tiaan Ramat (3), Bakkies Bakumeni, Jacques Dumas, Tarquin van der Westhuizen. Doelskoppe: Clayton Gindan(3).

Ander uitslae –

Peregrineliga

Vereeniging 28, Kemptonpark 0.

Merlinliga

Sasolburg 28, Benoni 0.

Kestrelliga

Edenvale 48, Daveyton 26; Buffels 28, Edenpark 0.

Vrystaat

Die voorloper in die Vrystaatse plattelandse liga, Barkly-Oos, stoomroller onkeerbaar voort en het Venterstad Rovers Saterdag met 50-0 platgeloop.

Ander uitslae –

Hibernians (Burgersdorp) 38, EurAfricans (Aliwal-Noord) 0; Crocodiles (Burgersdorp) 22, Scorpions (Gariep) 0; Universals (Colesberg) 17, Stoele (Venterstad) 16.

WP

Valsbaai, die houer van die oop klubs se Goue Beker en die Westelike Provinsie se Superliga A-kampioen, is stadig maar seker besig om die voorlopers in te haal. Hy moes egter Saterdag diep delwe om die Ikeys, saam met die ander studentespanne terug van vakansie, met 14-10 te klop.

Durbanville-Belville het die Victoriane met 31-24 verslaan om sy plek boaan die punteleer te behou.

Die naasvoorloper, Hamiltons, het oortuigend met 41-12 met Belhar afgereken.

Ander uitslae –

Unie-Milnerton (derde) 48, Villager 26; Tygerberg 25, Universiteit van Wes-Kaapland 20; Stellenbosch 73, Schotschekloof Walmers 15.

Superliga B

Die wipplankryery in die Superliga B duur voort, maar dié keer is dit Franschhoek (27 ligapunte) wat voorloop ná ʼn puik sege van 45-24 teen Hands & Heart.

Paarl (loslootjie) is weer tweede, en Kuilsrivier se slae van 16-24 teen Rangers laat hom na die derde plek daal.

Paarl en Kuilsrivier het, nes Helderberg, 26 ligapunte.

Laasgenoemde het All Saints met 37-21 kafgeloop.

Superliga C

Macassar se sege van 18-13 teen Strand United plaas hom weer boaan die Superliga C se punteleer.

Strand se nederlaag van 18-21 teen Kylemore, laat hom nou in die derde plek, deurdat Goodwood, met ʼn goeie oorwinning van 39-33, ook bo hom ingeskuif het.

Die stand van die erg mededingende voorste spanne lyk nou só: Macassar 28, Goodwood 27, Strand 27, Kylemore 25.

Stadsliga

Hamediehs het so hittete ʼn einde aan Masiphumelele, die onbetwiste voorloper in die Stadsliga, se onoorwonne rekord vanjaar gemaak.

Die span van Noordhoek het op die ou end daarin geslaag om sy Vygieskraalse uitdager met 10-6 op sy plek te sit.

Suiderliga

In die Suiderliga het Noordelikes Saterdag hard probeer om voor te kom, maar Morning Star het steeds ʼn beter batige punteverskil. Albei spanne het 31 ligapunte.

Noordelikes het Titans met 91-7 verniel, maar Morning Star se oorweldigende sege van 87-5 teen Silverleaf het dit doeltreffend teengewerk.

Noorderliga

Blue Stars United loop weer voor in die Noorderliga nadat hy Stellenbosch Coronations oortuigend met 41-10 verslaan het.

Van der Stel-Evergreens (loslootjie) is tweede, terwyl Raithby Universals se verpletterende sege van 97-0 oor Blakes (Stellenbosch) hom sterk in die derde plek vestig.

Paarlliga

Albions (33) is steeds voor in die Paarlliga, maar die bedreiging van Allandale (30), Agter-Paarl (29) en Young Standards (28) is nog glad nie afgeweer nie.

Albions het Saterdag Standards se vlag met 12-0 gestryk; Allandale het Young Gardens met 33-14 ingespit; en Agter-Paarl het Riverstones met 68-17 vergruis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.