Klubrondomtalie: ‘klipveld’ kelder kampioen

Sishen en Young Tigers meet kragte op ʼn graslose veld in Calvinia. (Foto: Facebook)

Ernstige kritiek oor ʼn rugbyveld “vol los klippe” word uitgespreek ná Griekwas se verdedigende kampioen in die afgelope weekronde in Calvinia slae gekry het.

Die tuisspan, Young Tigers, het die wedstryd teen Sishen met 30-26 gewen.

ʼn Lewendige debat word op Sishen se Facebook-blad oor die speeltoestand gevoer, en talle foto’s toon ʼn veld sonder ʼn sprietjie gras en met talle los klippe.

Die algemene strekking van die gesprek is dat wedstryde in die bond se Superliga nie op só ʼn veld gespeel behoort te word nie.

Die blad vertoon ook foto’s wat ʼn grensregter se beslissing bevraagteken dat ʼn Sishen-speler op pad doellyn toe uitgetrap het.

♦ Kimberley is die voorloper in die liga nadat hy Upington Dorp met 20-10 getroef het. Hy het vroeër ook met 38-27 met Sishen afgereken.

Opgesomde punteleer –

Kimberley 14, United (Upington) 10, Young Tigers (Calvinia) 10, Upington-dorp 4, Sishen 3, Postmasburg 3.

Goue Leeus

♦ Die Universiteit van die Witwatersrand speel deesdae al hoe beter rugby en het Raiders (wat die Goue Leeus verlede jaar in die Goue Beker-reeks verteenwoordig het) met 40-26 in die Pirates-grootuitdaagliga verslaan.

Die studente het vanjaar ook die halfeindronde van die reeks om die Varsitybeker gehaal, nadat hulle ʼn slag tot die Varsityskildreeks afgeskuif is.

Ander uitslae –

Pirates 83, Randfontein 5; Johannesburg Polisie 62, Germiston Simmer 0; Alberton 39, Soweto Eagles 0.

Blou Bulle

♦ Die Tukkies is ná afloop van die eerste ronde steeds onoorwonne in die Blou Bulle se Carltonliga, en het as die voorloper die Lucas Strachanskild gewen.

Pieter Griesel, die kaptein van die Tukkies, ontvang die Lucas Strachanskild, van Johan Beukes, visepresident van die Blou Bulle. (Foto: Tania Rogowski Pelser)

Die studente het Centurion met 62-44 opgedreun.

♦ In die noorderbonde se Superliga het Rustenburg Impala (Luiperds) met 58-43 teen die Naka Bulle (Blou Bulle) gewen.

♦ Die houer van die Carltonbeker, Quins-Bobbies-rugby (QBR), het die Valke-kampioen, Vereeniging, in ʼn vriendskaplike wedstryd met 72-12 oorweldig.

Puntemakers –

Tukkies – Drieë: Dewald Naudé (3), Pieter Griesel, Gerrit Engelbrecht, Lourens Pretorius, Damian van Wyk, Stephan Coetzee, Strafdrie. Doelskoppe: Steven Moir (7). Strafdoel: Steven Moir.

Centurion – Drieë: JP du Plessis (2), Curtley Brinkhuis, Devin Grootboom, Etienne Matthys. Doelskoppe: Gaybrin Smith (5). Strafdoele: Gaybrin Smith (3).

Impala – Drieë: André Grobler (2), Maverick van der Merwe, Berto van Wyk, Chaney Willemse, Tiaan Nel, Isak Deetlefs. Doelskoppe: Trevor Visser (7). Strafdoele: Trevor Visser (3).

Naka – Drieë: Kefentse Mahlo (2), Etienne Storm, Pule Molokome, Francois de Jonge, Jerome Bastick. Doelskoppe: Anton Beswick (5). Strafdoel: Anton Beswick.

Ander uitslae –

Fezelas (UP) 50, Centurion II 17, Centurion III 29, Pumas (UP) 19; Naka II 17, Impala 15; Naka III 37, Impala 12; TUT I 15, QBR 13; QBR III 62, TUT II 7.

Opgesomde punteleer –

Superliga

Tukkies 35, Naka 28, Impala 25, QBR 16, Centurion 16, East Rand United 9, Springs 2, Brakpan 0.

Valke

♦ ʼn Lyfseer East Rand United (ERU) het binne sewe dae met drie van die Valke se topklubs in dié bond se Peregrineliga afgereken.

Sedert die Reygerparkse span se sege van 48-24 ʼn week gelede oor Boksburg, het Springs die onderspit met 25-27 gedelf, en is Kemptonpark met 44-33 (en ʼn bonuspunt) getroef.

Colin Booysen, ERU se spanbestuurder, rapporteer dat die span se generaal, die losskakel Clayton Gindan, die speler van die wedstryd teen Springs was.

“Hy het die spel met goeie taktiese skopwerk gedikteer, en sy verdediging was rotsvas. Hy het op die koop toe ʼn skitterende skepdoel behaal.”

Teen die Kempton Wolwe is van die staatmakers laat rus en het ʼn klompie nuwelinge kans in die eerste span gekry.

ERU se sneltrein, die vleuel Leon (Sweef) Potgieter, was dié keer die grootste uitblinker.

“Hy het die toeskouers op hul voete gehad elke keer as hy die bal gekry het, en het twee drieë gedruk,” sê Booysen.

Puntemakers –

Teen Springs – Drieë: Jackie Jonkers, Tiaan Ramat, Lourens Boddington. Strafdoel: Cameron Rooi.Skepdoel: Clayton Gindan.

Teen Kempton – Drieë: Leon Potgieter (2), Jacques Dumas, Clayton Gindan, Jaco Herselmann, Dirk Van Wyk, Tiaan Ramat. Doelskoppe: Cameron Rooi (3). Strafdoel: Cameron Rooi.

Ander uitslae –

Peregrineliga

Springs 62, Boksburg 36; ERU II 57, Kempton II 12; Springs II 23, Boksburg II 3; ERU o.21 58, Kempton o.21 10; Springs o.21 32, Boksburg o.21 20; ERU o.21 15, Kempton o.21 12.

Kestrelliga

Oos-Rand Polisie 41, Daveyton 12; Edenvale Panthers 33, Edenpark 29; Buffels (Grootvlei) 34, Elsburg 29; Vanderbijlpark 32, Heidelberg 25.

Limpopo Blou Bulle

♦ Waltkon Potgietersrus het albei sy wedstryde gewen teen die nuweling in die Limpopo Blou Bulle se Boet Fick-liga, Kruinie-rugbyklub, wat in Heuwelkruin, Polokwane, gesetel is.

Léan Lensley, ʼn woordvoerder van Potties, laat weet die eerste span het met 82-10 en die tweede met 27-12 gewen.

Hy sê die eerste span het in ʼn nat toestand gesukkel om aan die gang te kom, maar toe hy eers op dreef is, het hy goeie hardlooprugby gespeel en het die damwal gebreek.

Stephan Oosthuizen was die speler van die wedstryd met sy fisieke spel in die losgemale en hegte verdediging, en JG Duvenhage die beste agterspeler.

Potties se tweede span het gedy in die baie skrums wat op die powere hanteerwerk op die nat veld gevolg het.

Andrew Maseko se uitmuntende skrumwerk en sy puik aansluiting by die agterspelers wanneer daar gehardloop is, het hom die toekenning as speler van die wedstryd besorg. Léan Lensley is as die beste agterspeler aangewys.

♦ Kill-A-Bug Mogol se eerste span, die huidige Waterberg- en Limpopo-reserweligakampioen, het Saterdag weer soos “in die ou dae” rugby gespeel en Loskop met 46-3 oorskadu.

Recha Welman, die klub se sekretaresse, laat weet Mogol het van sy verdediging af tot by die lynstane volmaakte rugby gespeel.

“Hy het gewis en seker die beste skrumtegniek in dié liga en het Loskop van die eerste minuut af oordonder.

“Sy uitmuntende duikslae en verdediging het gesorg dat daar nie ʼn enkele drie teen hom gedruk is nie.”

Nieteenstaande die loesing van 7-40 wat Mogol II by Northam III gekry het, het die span nooit tou opgegooi nie, berig Welman.

Puntemakers –

Potties I – Drieë: Hans du Plessis (2), Klaas Galane (2), Adriaan Laidlaw (2), Willem Dreyer (2), Zach Briel (2), Renier Labuschagne, Wikus Visser. Doelskoppe: Jaco Beukes (11).

Potties II – Drieë: Léan Lensley, Ruan Vermeulen, Leroux Bezuidenhout, Stoffel Bezuidenhout, Leslie Venton. Doelskop: Léan Lensley.

Mogol I – Drieë: Albert Schoeman (3), Corman Vos (2), Christiaan Ras, Armand Davies. Doelskoppe: Bronwin Craill (4). Strafdoel: Bronwin Craill.

Mogol II – Drie: Robert Molanguane. Doelskop: Kabelo Ndoweni.

Ander uitslae –

Pietersburg Noordelikes 46, Louis Trichardt 28; Noordelikes II 45-3; Noordelikes III 33, Amandelbult 19.

Boland

♦ Die verdedigende Bolandse kampioen, Roses United, het Paarl in ʼn vriendskaplike wedstryd naelskraap met 34-31 geklop.

Ander uitslae –

Vriendskaplik

Tulbagh 54, Eersterivier (Westelike Provinsie) 21; Morning Star (WP) 35, Die Dorings 15; Paternoster 49, Elsies River United (WP) 8; Allandale 38, Young Peoples (WP) 18.

Grens

♦ In die Grens se Superliga het die verdedigende kampioen, Oos-Londen Polisie, met 27-5 teen Winter Rose gewen.

♦ Swallows (Mdantsane), wat verlede jaar as promotorskeuse aan die reeks om die Goue Beker deelgeneem het, het Breakers met 34-8 geklop.

Ander uitslae –

Superliga

Buffalo 20, Old Selbornians 10; Berlin Tigers 10, Ntlaza Lions 8; Ocean Sweepers 15, Black Eagles 14; Fort Hare 20, Walter Sisulu-Universiteit 15.

Premierliga

United Brothers 21, Shining Stars 11; Young Leopards 65, Ready Blues 5; Old Collegians 30, Cambridge 3; Evergreens 13, Wallabies 12; Bussy Boys 13, Ngculu Zebras 13; Ncera Leopards 20, Africans 5.

Griffons

♦ Klerksdorp het Odendaalsrus in die Griffons-Luiperds-oorgrensliga met 45-13 geklop.

Sy tweede span het met 47-0 gewen.

KwaZulu-Natal

♦ Boschpick Newcastle Highlanders het Saterdag op Arborpark sy tuisskare op goeie, konstruktiewe hardlooprugby getrakteer en 11 drieë gedruk, berig André Swanepoel, die klub se hoofafrigter.

Newcastle het Sentraal (Dundee) in die Noord-KZN-liga met 73-22 geklop nadat hy rustyd met 26-10 voorgeloop het.

Swanepoel sê Sentraal het binne die eerste 20 minute met 10-5 voorgeloop, maar die groot, swaar manne kon nie enduit die pas volhou wat die Highlanders aangegee het nie.

“Lappies Labuschagne (agsteman) het goeie lynstaanballe agter in die lynstaan gewen, en Highlanders se agterlyn was eenvoudig te vaardig en vinnig vir Sentraal.

“Hulle het telkemale die lyn gebreek en met goeie ondersteunende spel kon hulle goed afrond.”

Tussen die voorspelers het Wessel Botha (stut), Taxi Ndlele (slot) en Labuschagne die oog gevang, maar die speler van die wedstryd was Louis van Niekerk (flank), wat drie drieë gedruk het.

In die agterlyn het Jaco Truter (losskakel) weereens uitgemunt deur talle geleenthede vir sy spanmaats te skep. Wandile Nkosi (heelagter) het Sentraal gereeld laat skarrel, en Lewazi Mthembu (buitesenter) het die bal goed versprei.

Highlanders II het met 29-17 teen Sentraal II gewen en ʼn bonuspunt verdien deur 5 drieë te druk.

Hier het Ruben Swanepoel (haker) die oog gevang.

Puntemakers –

Newcastle I – Drieë: Louis van Niekerk (3), Percyville Nkayana (2), Max Mkhize, Lappies Labuchagne, Shakes Mbatha, Wandile Sibiya, Jaco Truter(2). Doelskoppe: Jaco Truter (5), Heindrich Swiegers (4).

Namibië

♦ In Windhoek het United so hittete die eerste span in drie jaar geword om die Universiteit van Namibië (Unam) te klop, maar die studente het in die doodsnikke daarvan die wedstryd met 25-24 beklink.

♦ Western Suburbs, verlede jaar se beste oop klub, het Kudus (Walvisbaai) met 18-9 geklop.

♦ Wanderers (Windhoek) het Rehoboth gemaklik met 48-22 verslaan.

Oostelike Provinsie

♦ In die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagliga het Park (Port Elizabeth) met 27-16 teen African Bombers (Zwide) gewen.

Suidwestelike Distrikte

♦ Die kroondraer in die Suidwestelike Distrikte se Premierliga, Progress (George) is steeds boaan die punteleer nadat hy met 14-14 teen Barbarians (Mosselbaai) gelykop gespeel het.

♦ Die nuweling in die liga, Heidelberg, het sy eerste slae in vier wedstryde gekry toe hy hom met 22-24 teen Bridgton (Oudtshoorn) vasgeloop het.

Ander uitslae –

Crusaders (George) 22, Maori’s (George) 18; Evergreens (Pacaltsdorp) 36, Groot-Brakrivier 29; Silver Stars (George) 43, Blanco 25.

Opgesomde punteleer –

Progress 26, Evergreens 22, Barbarians 17, Groot-Brakrivier 15, Crusaders 15, Heidelberg 14, Bridgton 10, Silver Stars 7, Maori’s 2, Blanco 0.

Zimbabwe

♦ In Zimbabwe het Old Georgians, die heersende kampioen, Polisie met 104-0 vernietig.

Westelike Provinsie

♦ Die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) het intussen aangekondig dat sy ligas op 2 Junie begin.

Die droogte in die Wes-Kaap se vernietigende uitwerking op die speelvelde het voorkom dat dit eerder aan die gang kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.