Klubrondomtalie: Maties voer die botoon in WP

Die Maties, wat reeds vroeër hul verpligtinge in die Westelike Provinsie se Superliga A afgehandel het, kan nie meer ingehaal word nie.

Die onstuitbare Stellenbosse studente het hul 14 wedstryde gemiddeld met 55-10 gewen.

Unie-Milnerton het Saterdag met ʼn sege van 63-24 teen die agteros, Belhar, vir Hamiltons uit die vierde plek op die punteleer van die liga geboender.

Valsbaai, die Goue Beker-kampioen, het Villager met 50-32 verslaan, en is tans tweede, met Durbanville-Bellville derde. Laasgenoemde het Hammies in ʼn taai stryd met 12-7 baasgeraak.

Die rondomtalie word aanstaande week afgehandel, waarna die uitspeelwedstryde en die eindstryd op 6 Oktober wag.

Superliga B

Helderberg (eerste), Franschhoek (tweede) en Paarl (derde) het hul onderskeie posisies in die Superliga B behou.

Helderberg het Kraaifontein Saterdag met 25-15 verslaan; Franschhoek het Rangers met 62-22 oorskadu; en Paarl het Vineyards met 18-10 geklop.

Superliga C

Sake staan ook onveranderd wat die drie pasaangeërs in die Superliga C betref.

Die voorloper, Macassar, het Sir Lowrians oortuigend met 31-12 geklop; Goodwood (tweede) moes spook om Blue Jets met 27-26 te troef; en Kylemore (derde) het Blue Jets maklik met 20-0 ondergesit.

Promosieliga

Masiphumelele het uit die staanspoor die voortou in die Promosieliga geneem, ná ʼn ruim oorwinning van 40-20 oor Van der Stel-Evergreens.

Blue Stars United (met 33-24 teen Raithby Universals) en Morning Star (met 15-14 teen Silvertree) het ook hul eerste wedstryde gewen.
Retreat en Polisie het die louere met 32-32 gedeel.

Paarlse Topvyf

In die enigste wedstryd Saterdag in die Paarlse Topvyf-reeks het Albions vir Young Gardens met 53-24 opgedons.

Paarlse Onderste Ses

Tussen die Onderste Ses het Violets die leiding geneem deur Pêrel United met 28-12 te klop.

Simondium het Paarl Rangers met 27-22 reggesien; en Faure was met 28-16 teen La Motte baas.

Boland

Met nog twee wedstryde oor, het die Bolandse kampioen, Roses United (Wellington), seker gemaak dat hy die WitSentraalstreek wen, en vir die kwarteindronde in aanmerking kom.

Hy het Hamlet Saterdag met 36-22 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

James ·

Nêrens in die berig word die sportsoort genoem nie. Seker rugby.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.