Klubrondomtalie: net-net respyt vir Villager

Die historiese klub Villager het Saterdag ʼn diep sug van verligting in die Westelike Provinsie se Superliga A geslaak.

Die Universiteit van Wes-Kaapland se sege van 39-29 oor NTK verseker dat een van Suid-Afrika se heel oudste klubs afskuiwing vryspring, en sy senior status behou.

Die Goue Beker-houer, Valsbaai, het Brackenfell met 38-24 verslaan om tweede ná Stellenbosch te eindig – die beste wat ʼn oop klub gevaar het.

Die Maties en die Baai is verseker van tuishalfeindstryde in die WP-kampioenskap wat voor lê.

Durbanville-Bellville, Unie-Milnerton, Hamiltons en die Victoriane is die ander vier klubs wat vir die uitsklopstryd in aanmerking kom.

Durbell het Saterdag met 19-19 teen Tygerberg gelykop gespeel, wat skielik nuwe lewe gekry het.

Unie-Milnerton het die Ikeys se uitklopkans beduiwel deur die Kaapstadse studente met 31-24 te klop.

Superliga B

Die voorloper in die Superliga B, Helderberg, het harde bene teen Franschhoek gekou, maar op die ou end met 29-25 gewen.

Paarl (tans tweede) het Hands & Heart met 33-16 gelooi.

Superliga C

Daar is nog enkele wedstryde in te haal in die Superliga C, maar Macassar is onaantasbaar in die eerste plek.
Hy het Saterdag met 43-28 met Blue Jets afgereken.

Die tweede geplaaste Busy Bee het amok gemaak deur Young Stars met 105-5 af te ransel.

Promosieliga

Met slegs twee weekrondes in die Promosieliga afgehandel, is Blue Stars United die enigste onoorwonne span, nadat hy Retreat met 41-10 laat spaander het.

Masiphumelele het sy rieme teen Polisie styfgeloop, wat hul kragmeting met 26-24 gewen het. ʼn Beter punteverskil plaas hom egter steeds voor die Bobbies op die punteleer.

Paarl-topses-liga

Riverstones en Albions het tot dusver albei hul wedstryde in die Paarl-topses-liga gewen, maar laasgenoemde het Saterdag ʼn bonuspunt ingeboet toe hy Agter-Paarl slegs met 12-9 kon klop.

Riverstones het Young Gardens met 29-19 geklop.

Paarl- Onderste Ses-liga

Strawwe mededinging tussen Simondium en Violets kan die Onderste Ses opkikker. Albei het tans tien ligapunte, en eersgenoemde se batige punteverskil is ʼn skrale drie beter.

Simondium het Faure Saterdag met 57-19 gedril, en Violets het La Motte met 46-24 op sy plek gesit.

Boland

Hillcrest (Wellington), sesde op die WitSentraalstreek se punteleer, het Saterdag verras deur die verdedigende Bolandse kampioen, sy dorpsgenoot Roses United, met 20-17 te klop.

Dit is slegs Roses se tweede nederlaag vanjaar, en hy het reeds sy plek in die uitspeelstryd bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries du Toit ·

Is ek dom?Kan die joernalis asb vm sê wat beteken “RESPYT”.Regtig?????!!!!!!!!

Pieter Swanepoel ·

Hi Piet, wat beteken respyt?!?!? Ek is nie n kundige nie maar daar is seker n woord in Afrikaans wat jy kon gebruik wat dieselfde betekenis het wat verstaanbaar is vir Afrikaans sprekendes wat n Afrikkanse koerant lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.