Klubrondomtalie: nóg ligakampioene gekroon

Nóg ʼn paar ligakampioene is met die jongste ronde klubrugby oor die land heen en in Namibië gekroon.

Vryburg is die nuwe houer van die Luiperds se Jaap Steyn-beker.

Hy het Westonaria in ʼn klipharde gespook met 38-34 in die eindstryd in Westonaria getroef.

Die keerpunt was ʼn onderskepdrie nadat die wenspan 65 minute lank agtergeloop het. Die tuisspan het waarskynlik die titel weggesmyt met verskeie tikskoppies eerder as om strafdoele pale toe te mik.

Dis die derde keer die afgelope drie jaar dat Westonaria oor die laaste hekkie struikel.

Zeerust, die afgelope twee jaar se kampioen, is sedertdien tot die Neserliga bevorder.

Die onoorwonne voorloper in dié liga, Fochville, het Hartbeesfontein Saterdag met 32-7 slae gegee.

Lichtenburg, die verdedigende kampioen en naasvoorloper, het Lonmin met 37-33 ondergesit.

Namibië

Vikings (Swakopmund), die Westelike kampioen, het Namibië se Eerste Liga-beker gewen deur Oranjemund in Windhoek met 27-19 te verslaan.

Grootfontein, die Noordelike titelhouer is derde geplaas met sy Windhoekse sege van 57-19 oor Ocean Swallows (Lüderitz), die Suidelike wenner.

Op Mariëntal het die tuisspan met 44-3 teen die Arende (Rosh Pinah) gewen om die Eerste Liga-trofee te verower.

Western Suburbs loop weer voor tussen die oop klubs in die Premierliga nadat hy Kudus (Walvisbaai) Saterdag met 51-24 onderstebo geloop het.

Die span van Khomasdal het Namibië verlede jaar in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale Goue Beker-reeks verteenwoordig.

Die Universiteit van Namibië (Unam) is steeds die voorloper in die reeks.

KZN

College Rovers, wat reeds van die KwaZulu-Natalse Moorbeker seker gemaak het, het Amanzimtoti Saterdag in die bond se Premierliga met 40-5 verniel.

Reservoir Hills Rhinos het op hul beurt die Vyfde Liga (CF Glew-beker) gewen.

Ander uitslae –

Premierliga

Crusaders 29, Richardsbaai 22; Durban Collegians 59, UKZN Pietermaritzburg 17.

Eerste Liga (Suid)

South Coast Warriors 55, Jaguars 0; Pietermaritzburg Collegians 22, Durban Mets 18; Westville Old Boys 64, UKZN Durban 12; Zululand Rhinos 20, Ballito Dolphins 15.

Middelland

Drakensberg (Winterton) het weer die Middelland-subunie se Crowebeker gewen nadat hy Voortrekker-oudleerlinge van Pietermaritzburg met 24-15 geklop het.

Noord-KZN

Die Ladysmith Bulldogs durf Piet Retief eerskomende naweek in die Noord-KZN-subunie se Eerste Liga-eindstryd aan, nadat hy die verdedigende kampioen,Vryheid, verrassend in die halfeindronde uitgeskakel het.

Piet Retief het Volksrust in die ander halfeindstryd geklop.

Die Tweede Liga-eindstryd is tussen Piet Retief en Sentraal (Dundee), en Ladysmith Wolves spook die Derde Liga met Flying Eagles (Dannhauser) uit.

Blou Bulle

Die onoorwonne Tukkies loop tans voor in die Noorderbonde se Superliga, wat deur die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) geadministreer word, terwyl die Naka Bulle nommer een in Afdeling A1 van die BBRU se Carltonliga is.

Dié Mootklub is ook voor in die bond se o.21- en o.20-liga.

Die Fezelas (UP) is die voorloper in die Presidentsliga en Quins-Bobbies III lei in Afdeling A3.

Die herstigte Pretoria-klub se eerste span is boaan die punteleer in die Carltonreeks se B-afdeling.

Wat die tweede spanne betref, is Korrektiewe Dienste voor, en tussen die derde spanne staan Tuine die beste.

Transnet Parke is die voorloper in Afdeling C1 en Stanza Bopape in Afdeling C2.

Boland

Intens en hartstogtelik, soos net ʼn lang gevestigde derbystryd kan wees, het sake Saterdag op Wellington verloop toe die verdedigende Grootuitdaagkampioen, Roses United, sy buurman, Hillcrest United, met 26-22 op sy plek gesit het.

Roses is ná sewe wedstryde steeds onoorwonne in die streek Witzenberg-Sentraal van die reeks.

Goue Leeus

Pirates was Saterdag 20 punte beter as Randfontein in die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Pirates-grootuitdaagreeks (PGU). Hy het hul wedstryd in Greenside met 52-32 gewen.

Kurt Webster het 17 punte met ʼn drie en ses doelskoppe vir die wenspan bygedra.

Stokkies Hanekom (Roodepoort), ʼn gewese SA o.20-speler, wat Superrugby vir die Lions en die Kings gespeel het, het met 103 tot dusver die meeste punte in die PGU aangeteken. Itu Mpete (Raiders) se tien drieë is die meeste.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) is die voorloper in die reeks, maar die NWU Pukke gee die toon tussen die tweede, derde, o.21- en o-19-spanne aan.

Roodepoort is die voorloper in die oop klubs se reeks om die Kevin de Klerk-beker, wat met die PGU saamloop.
Pirates se tweede, derde, o.21- en o.19-span loop in die ander afdelings van dié reeks voor.

Unie se drie spanne gee die pas in al drie afdelings van die reeks om die Bailybeker aan.

Die verdedigende kampioen, Germiston Simmer, sukkel vanjaar en is sesde uit sewe spanne.

Tshuma Stingers (Midrand) is die voorloper in die Senior Grootuitdaagreeks.

Griekwas

Kimberley, die voorloper in Griekwas se Superliga het Upington-dorp Saterdag met 92-42 verrinneweer.

Griffons

Twee Griffons-spanne sal vanjaar die eindstryd van die Griffons-Luiperds-oorgrensliga uitspook.

Rovers (Welkom) het Klerksdorp Saterdag net-net met 22-20 in die halfeindstryd op laasgenoemde se veld baasgeraak.

Mackie Pelser was die beste voorspeler en Jason Olivier die beste agterspeler.

Puntemakers –

Rovers – Drieë: Mackie Pelser, Freddie Wepener, Riaan Coetzee. Doelskoppe: Shaun Nieuwenhuyzen, Jason Wagman. Skepdoel: Shaun Nieuwenhuyzen.

Welkom het vroeër by verstek tot die eindstryd deurgedring toe Potchefstroom-dorp nie ʼn span kon bymekaar kry nie.

Limpopo Blou Bulle

Northam Rhinos, die verdedigende Limpopo-kampioen storm steeds onkeerbaar voort. Hy het Pietersburg Noordelikes Saterdag met 54-31 gekarnuffel.

Hy het op die koop toe al nege sy wedstryde tot dusver met ʼn bonuspunt gewen.

Northam se tweede en derde span is ook onoorwonne in hul ligas.

Die naasvoorloper, Potgietersrus, het Louis Trichardt met 68-26 oorrompel.

Willem Dreyer is as die wenspan se beste voorspeler en Hans du Plessis as sy beste agterspeler aangewys.

Die nuweling, Naboomspruit, is die voorloper in die Suidstreek, gevolg deur Loskop (Groblersdal).

OP

Die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagkampioen, Progress (Uitenhage), het Kruisfontein (Humansdorp) Saterdag met 32-15 geklop.

Die vorige titelhouer, Port Elizabeth Polisie, het met 42-10 oor Despatch geseëvier.

Harlequins (PE) het Star of Hope (Uitenhage) naelskraap met 18-17 oorwin; en Park (PE) het Missionvale met 51-29 oorskadu.

SWD

Groot-Brakrivier het Saterdag verras deur Barbarians van Mosselbaai, op daardie stadium die voorloper in die Suidwestelike Distrikte se Premierliga, met 29-23 te tem.

Dit het Progress (George), die bond se verdedigende kampioen, wat sy stadsgenoot Crusaders oortuigend met 30-15 geklop het, in staat gestel om weer sy neus voor te kry.

Barbarians se tweede en derde span is ook voor in hul ligas.

Wat die Presidentsliga (Karoo) betref, loop Willowmore se eerste en Spring Roses se tweede span voor.

George loop in albei afdelings van die Presidentsliga (Kus) voor.

Karoo

Dysseldorp, wat nege van sy 11 wedstryde tot dusver gewen en een gelykop gespeel het, is die voorloper in die Karoo-streekliga. Adias en Swings (albei van Oudtshoorn) is op sy hakke.

Calitzdorp loop tussen die tweede spanne voor.

Vrystaat

Soos dit maar die afgelope klompie jare gaan, het die studentespanne weer vanjaar die Vrystaats ligas oorheers.

Die Shimlas (Universiteit van die Vrystaat) het die Stadsbeker gewen deur die Ixias (Sentrale Universiteit vir Tegnologie) in die eindstryd met 43-3 op te dreun.

Bloemfontein Polisie het die Rowanbeker behou deur Collegians met ʼn skrikwekkende 115-7 te vermorsel, ʼn ongehoorde telling vir ʼn eindstryd.

Ander eindstrydtellings –

Tweede Liga A: Ritsems (UV) 29, Colts (UV) 19.
Tweede Liga B: Steyners 38, Polisie II 14.
Derde Liga A: Shawas (SUT) 24, Polisie III 8.
Derde Liga B: Mangaung III 46, Steyners II 24.

Westelike Provinsie

Durbanville-Bellville is die nuwe voorloper in die Westelike Provinsie se Superliga A nadat hy St. George’s Saterdag ʼn stywe loesing van 41-0 toegedien het.

Stellenbosch is nou tweede en Hamiltons derde. Al drie spanne het vier wedstryde afgehandel.

Die Goue Beker-houer, Valsbaai, het Schotschekloof Walmers met 55-10 kis gespeel, en is nou vyfde ná vier wedstryde.

Villager het sy eerste sege sedert sy terugkeer na die topliga behaal met ʼn oortuigende oorwinning van 31-5 oor Belhar.

In Saterdag se ander wedstryd in die reeks het Unie-Milnerton met 36-32 teen Tygerberg, ʼn Goue Beker-kwarteindronder van verlede jaar, gewen.

Voorlopers in ander ligas –

Superliga B: Kuilsrivier
Superliga C: Goodwood
Stadsliga: Masiphumelele
Suiderliga: Retreat
Noorderliga:Van der Stel-Evergreens
Paarlliga: Young Standards.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.