Klubrondomtalie: opperste skok in WP-reeks

Stellenbosch was die gunsteling, ja, maar wat hy Saterdag met die voorloper in die Westelike Provinsie se Superliga A vermag het, was kort duskant aardskuddend.

Die Maties het Durbanville-Bellville met 82-5 opgefrommel, en die vraag duik op wie vanjaar teen hulle gaan staande bly.

Die studente is nou tweede ná Durbell op die punteleer, en die Goue Beker-kampioen, Valsbaai, derde ná sy sege van 42-12 teen die Goue Beker-kwarteinder Tygerberg.

Ander uitslae –

Schotschekloof Walmers 41, Victoriane 26; Unie-Milnerton 38, UWK 19; Ikeys 47, Villager 21; Victoriane 50, St. George’s 13.

Superliga B

Paarl en Franschhoek keil mekaar behoorlik op in die Superliga B, en eersgenoemde kon die twee se jongste kragmeting slegs met 25-23 wen, om hom ʼn voorsprong van vier ligapunte te besorg.

Superliga C

Kylemore het benoude oomblikke teen die laag geplaaste Elsies River United beleef, maar sy uiteindelike oorwinning van 36-35 gee hom ʼn voorsprong van twee punte op die vorige voorloper, Macassar, wat ʼn loslootjie geniet het.

Stadsliga

In die Stadsliga het Caledonian Roses (derde) die voorlopers, Masipumhelele en Silvertree, se loslootjies aangegryp om ietwat in te haal deur Perseverance met 24-14 te klop.

Suiderliga

Morning Star (eerste) en Peninsula (tweede) het hul plekke in die Suiderliga behou deur onderskeidelik vir Young Brothers en Silverleaf met 20-0 te klop.

Noorderliga

Eersterivier (40), Van der Stel-Evergreens (40), Raithby Universal (38) en Blue Stars United (38) is in ʼn verbete vierhoekige stryd in die Noorderliga gewikkel. In die enigste wedstryd Saterdag in dié liga het Eersterivier met 48-0 teen Khayelitsha gewen.

Pumas

Sasol van Secunda is weer die Pumas se kampioen, maar het die titel allermins op ʼn skinkbord gekry.

Hy het Saterdag op sy tuisveld sommer ʼn groot tier in sy tenk nodig gehad om ʼn vasberade Middelburg met 22-16 te klop (rustyd 10-6).

Limpopo Blou Bulle

Northam Platinum Rhinos is ook weer die Limpopo Blou Bulle se senior kampioen nadat hy Pietersburg Noordelike in die eindstryd met 59-26 opgedreun het.

Sy tweede en derde span het ook hul onderskeie ligas gewen.

Thabazimbi is die nuwe Waterberg-kampioen náʼn swaar verdiende oorwinning van 19-15 oor Naboom.

Hy het die liga vier jaar laas gewen, en nie een van die twee klubs het verlede jaar gespeel nie.

KZN

Die KwaZulu-Natalse uitklopreeks het hoogspanning met ʼn paar strawwe kragmetings in die kwarteindronde bereik.

Durban Collegians het Crusaders met 44-43 ondergesit; UKZN Pietermaritzburg het South Coast Warriors (SCW) ʼn harde neut gevind om te kraak, en net met 31-29 gewen; en Varsity College (VC) het met 34-26 oor Amanzimtoti geseëvier.

Die bekerhouer, College Rovers, het Richardsbaai oortuigend met 34-12 verslaan.

In die halfeindronde van die Derde Liga se Findlaybeker het Drakensberg (Winterton) vir Kokstad met 20-12 uitgeskakel, en speel hy in die eindstryd teen Durban Harlequins.

Ander uitklopuitslae –

Peter Taylor-beker (Premierreserweliga)

Durban Collegians 17, Crusaders 12; UKZN-P 38, SCW 29; VC 47, Toti 28; Rovers 109, Richardsbaai 0.

Junior Murraybeker (Eerste Liga)

Westville Old Boys (WOB) 31, Hillcrest 24; UKZN Durban 58, Pietermaritzburg Collegians 24; Ladysmith 24, Volksrust 19; Piet Retief 48, Vryheid 20.

Keith Parkinson-beker (Eerste Reserweliga)

Hillcrest 15, WOB 13; Piet Retief 31, Vryheid 16; Maritzburg Collegians 19, UKZN-D 12.

Basil Medway-beker (o.20A)

Rovers 80, UKZN 17; Middelland 28, Crusaders 22.

Boland

Die houer van die Bolandse Grootuitdaagbeker, Roses United (Wellington), is ná 11 wedstryde steeds onoorwonne. Hy het sy jongste stryd teen Tulbagh met 49-5 gewen.

Griekwas

Die streeksvoorsitters van Namakwaland en Logan, Josef Klaaste en Donnowin Ruiters, met die Distriksmunisipaliteitsbeker. (Foto: Verskaf)

Namakwaland is weer die houer van Griekwas se Distriksmunisipaliteitsbeker, nadat hy die Loganstreek Saterdag in die laaste minute van hul kragmeting geklop het.

Twee wedstryde is gespeel, en in die eerste het Logan die Namakwalanders met 33-29 geklop.

Die hoofwedstryd was egter die een wat getel het, en waar die beker op die spel was.

Donnewin Ruiters, die streekvoorsitter van Logan, sê sy manne kon hulself skop dat hulle nie dié een gewen het nie, maar dra self die skuld daarvoor.

“Met nog 15minute oor het Logan gemaklik met 39-22 voorgeloop. Toe het die spelers kop verloor en ʼn strafskop afgestaan, wat tot ʼn onverdoelde drie vir Namakwa gelei het (39-27),” berig hy.

“Namakwa het van die afskop af aanval ná aanval van stapel laat loop, en ʼn drie onder die pale gedruk, en dit verdoel (39-34).

“Logan het weer die hef in die hand gekry, maar ʼn flater begaan deur ʼn bal wat hy bloot moes uitskop om die wedstryd te wen, in die hande van ʼn Namakwa-speler te laat beland, en die uiteinde was ʼn drie in die hoek.

“Die doelskop het Namakwa ʼn sege van 41-39 besorg.”

Ruiters sê die Logan-eindstryd tussen Young Tigers (Calvinia), die heersende kampioen, en Proteas (Nieuwoudtville) vind oor twee weke by die jaarlikse vleisfees op Calvinia plaas.

Vrystaat

Barkly-Oos is steeds gerieflik voor in die A-afdeling van die Vrystaatse plattelandse reeks nadat hy EurAfricans (Aliwal-Noord) Saterdag met 28-22 geklop het.

Die derde geplaaste Buffels (Aliwal-Noord) het Rovers (Venterstad) net-net met 29-28 geklop.

Opgesomde punteleer –

A-afdeling

Barkly 63, Hibernians (Burgersdorp) 49, Buffels 36, EurAfricans 33, Rovers 31.

(Barkly en Buffels se punte is onderworpe aan verandering.)

B-afdeling

Crocodiles (Burgersdorp) 35, Universals (Colesberg) 31, Scorpions (Gariep) 11, Stoele (Venterstad) 9.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.