Klubrondomtalie: Poorte laat Pukke groot skrik

Dit was naelskraap of die Goue Leeus het Saterdag ʼn nuwe Pirates-grootuitdaagkampioen (PGU) gekry.

Roodepoort het die NWU Pukke, die verdedigende kampioen, bitter groot laat skrik voor die studente die knoop met 26-25 kon deurhak.

Die bond het wel ʼn nuwe Bailybeker-houer nadat Unie vir Johannesburg Polisie met 28-19 getroef het.

Verlede jaar se wenner, Germiston Simmer, kon vanjaar glad nie die mas opkom nie.

Alberton is met drie bekers huis toe.

Ander uitslae –

PGU

Universiteit van Johannesburg (UJ) II 24, Pukke II 20; Pukke III 36, Raiders III 29; Wits o.21 34, Pukke o.21 20; Poorte o.19 34, Pirates 14.

Bailybeker

Alberton II 21, Diggers II 20; Polisie III 15, Unie III 14; Alberton o.21 18, Polisie o.21 8; Alberton o.19 19, Unie o.19 14.

Zimbabwe

Zimbabwe het ʼn nuwe kampioen nadat Harare Sports Club vir Old Georgians met 26-14 verslaan het.

Laasgenoemde het dié land die afgelope twee jaar in die reeks om die Goue Beker verteenwoordig.

Die Buffels se afrigters Gouws Booyens en Louis Martin met die Kestrelbeker. (Foto: Verskaf)

Valke

ʼn Magtige terugvegpoging en ʼn uiteindelike wipplankryery het verseker dat Saterdag se eindstryd in die Valke se Kestrelliga tussen Oos-Rand Polisie en Grootvlei se Buffels vir hope opwinding gesorg het.

Polisie was in ʼn stadium met 24-5 voor, maar Buffels het op die ou end met 38-34 gewen, laat weet Gouws Booyens, voorsitter en afrigter van die wenspan.

Laasgenoemde se terugvegpoging het voor die blaaskans al begin, en Polisie was nog net 24-19 voor toe die spanne kante geruil het.

Daarna het die spanne om die beurt voorgeloop tot die Buffels sake beklink het.

Maurice Kenny (twee), Danie Dempskey, JP Adlem, Arno van Niekerk en Nathan Richards het die Buffels se drieë gedruk, waarvan Christiaan Pieters vier verdoel het.

KZN

Groot oorwinnings in die halfeindronde het verseker dat College Rovers en Durban Collegians, soos die afgelope paar jaar gebruiklik geword het, die eindstryd van die KwaZulu-Natalse uitklopreeks om die Murraybeker betwis.

Collegians het die UKZN Pietermaritzburg met 78-0 verswelg, en Rovers, reeds die Moorbekerhouer, het Varsity College met 47-12 oorrompel.

Drakensberg (Winterton) het Harlequins (Durban) in die eindstryd met 42-0 verslaan om die Findlaybeker (Derde Liga) te wen.

In die o.20-uitklopreeks om die Basil Medway-beker was Collegians en Rovers ná bykomende tyd steeds gelykop met 20-20. Eersgenoemde het op die ou end op grond van sy vier drieë teen sy teenstander se drie tot die eindstryd deurgedring.

Ander halfeinduitslae –

Peter Taylor-beker (Premierreserweliga)

Durban Collegians 57, UKZN Pietermaritzburg 5; College Rovers 15, Varsity College 5.

Junior Murraybeker (Eerste Liga)

UKZN Durban 33, Westville Old Boys 23; Ladysmith Bulldogs het Piet Retief geklop.

Basil Medway-beker (Onder 20-liga)

Varsity College 14, Middelland 3.

Donnowin Ruiters, Logan se streekvoorsitter, oorhandig die skild aan Manus Gelandt, Young Tigers se voorsitter. (Foto: Verskaf)

Griekwas

Young Tigers (Calvinia) is weer die Loganstreek se kampioen, nadat hy Proteas (Nieuwoudtville) Saterdag maklik met 46-17 geklop het.

Hy was rustyd reeds met 15-0 voor.

Donnowin Ruiters, Logan se voorsitter, sê die wenspan het die krane in die tweede helfte begin oopdraai, en toe was dit eenrigtingverkeer, al het Proteas nooit moed opgegee nie.

Marq Hoorn, Santhon Kammies, Jeron Oncke, Juandré Gelandt en Zandré Beukes (2) het Tigers se drieë gedruk. Mario van Rooyen het vyf doelskoppe en twee strafdoele oorgeklits.

Beukes was die speler van die wedstryd, laat weet Ruiters, met Henzel Witbooi die uitblinker aan Proteas se kant.

Logan se jaarlikse sewestoernooi vind op 22 September plaas, en alle klubs is welkom, ook van buite die streek.

Vrystaat

Die Vrystaatse plattelandse kampioen, Barkly-Oos, het Rovers (Venterstad) met 71-21 in die halfeindronde oorweldig; en Hibernians (Burgersdorp) was met 32-12 heeltemal te sterk vir EurAfricans (Aliwal-Noord).

In die B-afdeling het Crocodiles (Burgersdorp) met 57-0 teen Stoele (Venterstad) oorheers. Universals (Colesberg) het by verstek teen Scorpions (Gariep) gewen.

Die eindstryde –

Barkly-Oos teen Hibernians (Barkly-Oos); EurAfricans teen Rovers (Hilton); Crocodiles teen Universals (Eureka); Scorpions teen Stoele (Gariepdam).

WP

Twee groot Matie-oorwinnings die afgelope week plaas die Stellenbosse studente nou nog verder voor in die Westelike Provinsie se Superliga A.

Hulle het Unie-Milnerton Woensdag met 68-21 en Villager Saterdag met 50-6 oorrompel.

Die Goue Beker-kampioen, Valsbaai, is nou tweede nadat hy ook twee goeie seges behaal het.

Hy het die Victoriane met 33-22 geklop, en St. George’s met 35-15.

Durbanville-Bellville, wat lank voor was, is derde ná hy die Ikeys met 31-12 slae gegee het.

Superliga B

ʼn Loslootjie vir Franschhoek het sowel Paarl as Helderberg in staat gestel om hom in die Superliga B verby te steek.

Paarl het All Saints met 66-14 opgedreun, maar Helderberg het nie juis oortuig met sy sege van 22-8 teen die agteros, Hands & Heart, nie.

Superliga C

Macassar het sy voorsprong in die Superliga C behou deur Elsies River United met 24-10 te klop, maar Goodwood – wat met 26-0 teen Sir Lowrians gewen het – blaas steeds in sy nek.

Stadsliga

In die Stadsliga plaas Silvertree se oorwinning van 43-5 hom nou, wat ligapunte betref, gelyk met die voorloper Masiphumelele.

Laasgenoemde het egter steeds ʼn beter batige puntesaldo van 85 punte, en het ʼn wedstryd minder gespeel.

Suiderliga

In die Suiderliga loop Morning Star (46) steeds voor met Lagunya (43) en Retreat (42) wat hom jaag.

Morning Star het Thistles met 34-14 verslaan; Lagunya het Rocklands met 27-10 getroef; en Retreat het sy wedstryd teen Titans met 39-6 gewen.

Noorderliga

Geeneen van die voorlopers was in die Noorderliga in aksie nie, maar Stellenbosch Coronations het getoon dis nie net die Maties op dié dorp wat honderdtalle kan aanteken nie, en Strand Pioneers met 113-0 verfomfaai.

Paarlliga

Albions, die voorloper in die Paarlliga, het Violets met 24-17 baasgeraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anti-politiek ·

Ongelukkig dui die Vrystaat Plattelandse Liga nie die ware stand van sake aan nie.

Barkly-Oos kan nie daarop roem dat hulle die Vrystaat Plattelandse Kampioen is nie as hulle al die afgelope paar jaar nie genoeg spelers het vir ‘n span nie en dus van oral af spelers aanry veral studente.

En dan praat mens nie eers van die politiek van hulle bestuur nie. Die bestuurslede is nie daar vir die spel nie, maar slegs om politieke redes en om te kyk hoe hulle die ander klubs kan ondermyn.

Barkly-Oos is ook bekend vir hulle slegte sportmanskap. ‘n Paar naweke terug was ‘n wedstryd gestop as gevolg van ‘n ondersteuner wat nogals ‘n vooraanstaande lid van die gemeenskap is en sy seun wat die skeidsregter uitgejou het. Ek voel hier moes hulle die kostes gedra het van die ander span wat ver gery het om te speel en toe nie kon agv hulle slegte gedrag nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.