Klubrondomtalie: skokke in KZN, SWD en by Bulle

KwaZulu-Natal (KZN), die Suidwestelike Distrikte (SWD) en die Blou Bulle se klubrugby het die afgelope ronde ʼn paar redelike groot skokke opgelewer.

Die grootste daarvan was waarskynlik in KZN waar Richardsbaai, wat eers verlede jaar tot die Premierliga bevorder is, met 49-40 teen Durban Collegians, lank een van die twee topklubs in die bond, gewen het.

Of dit op ʼn algemene insinking in dié kontrei se rugbypeil dui, moet nog gesien word, maar die groot pakke slae wat twee klubs, wat verlede jaar nog in die senior liga gespeel het, in die Eerste Liga gekry het, behoort die plaaslike rugbybase tot kommer te stem.

Zululand Rhinos (Empangeni) is met 36-5 deur Westville Old Boys (WOB) verniel, en Jaguars is met 43-17 deur Ballito Dolphins vermorsel.

Ook Varsity College (VC) se wegholoorwinning van 44-0 oor UKZN Pietermaritzburg in die Premierliga moet onrus baar.

Ander uitslae –

Premierliga (Moorbeker)

Crusaders 18, Amanzimtoti 12.

Premierreserweliga

Durban Collegians 39, Richardsbaai 10; Crusaders 15, Toti 8; VC 81, UKZN Pietermaritzburg 0.

Eerste Liga (Suid)

Hillcrest 17, Durban Mets 15; South Coast Warriors (SCW) 60, Pietermaritzburg Collegians 14.

Eerste Reserweliga (Suid)

Hillcrest 47, Mets 0; SCW 22, Pietermaritzburg Collegians 20; Westville 54, Rhinos 0; Ballito 12, Jaguars 5.

Onder 20A-liga (Frank Norrisbeker)

Durban Collegians 30, College Rovers 25; VC 28, Crusaders 14; UKZN Durban 46, SCW 12.

Onder 20B-liga (Kingsparkbeker)

Durban Collegians 39, VC 15; Crusaders 45, Richardsbaai 11.

SWD

♦ In die SWD het Heidelberg, die nuweling in die Premierliga, die ou ingesete Crusaders (George) met 27-23 getroef.

Die wenspan het vier drieë teen drie gedruk.

Progress (George), die bondse verdedigende kampioen, het maklik met 55-24 teen Silver Stars (George) gewen.

Ander uitslae –

Evergreens (Pacaltsdorp) 41, Blanco 0; Barbarians (Mosselbaai) 34, Maori’s (George) 18; Groot-Brakrivier 30, Bridgton (Oudtshoorn) 21.

Blou Bulle

♦ In Pretoria het Centurion, wat tot dusver die seisoen nie juis oortuig het nie, grootliks verras toe hy klinkend met 45-22 teen die Blou Bulle se verdedigende Carltonkampioen, Quins-Bobbies-rugby (QBR) gewen het.

Voor dié wedstryd kon albei spanne nog net teen die Valkeklubs in die Superliga wen.

Al was hulle nie vandeesweek in aksie nie, loop die Tukkies steeds voor in die Super- sowel as die Carltonliga.

Centurion se puntemakers: Gaybrin Smith, Jacques Olivier, Curtley Brinkhuis, De-an Ackerman en Giepie Burger. (Foto: Johanna de Vos)

Die Blou Bulle se Presidentsligaklubs speel vanjaar om die Lucas Strachan-skild.Dit is tradisioneel toegeken aan die klub wat ná die eerste ronde van die Carltonreeks boaan die punteleer was.

Puntemakers –

Centurion – Drieë: Giepie Burger (2), De-an Ackerman (2), Curtley Brinkhuis (2), Jacques Olivier. Doelskoppe: Gaybrin Smith (5).

QBR – Drieë: Juan Nel, Pieter Botha, Jacobus Botha, Jan-Hendrik Bosman. Doelskop: Carling Forwood.

Ander uitslae –

Centurion II 45, QBR II 42; QBR III 28, Centurion III 14.

Limpopo Blou Bulle

♦ Die nuweling Naboomspruit het albei sy wedstryde teen Mogol in die Limpopo Blou Bulle se Waterbergliga gewen.

Die eerste span het met 19-12 en die tweede met 15-12 geseëvier.

Recha Welman, Mogol se sekretaresse, sê dit was harde wedstryde, maar Mogol het eenvoudig te veel flaters gemaak.Daar is egter Maandag reeds hard gewerk om nie weer dieselfde foute te begaan nie.

Die afrigter, Freddie Welman, het volslae vertroue dat albei spanne steeds hul liga-afdelings kan wen.

Puntemakers –

Mogol I – Drieë: Werner Kriek en BubblesNetshikulwe. Doelskop: Bronwin Craill.

Mogol II – Drieë: Janus Reynecke en Berne Mitton.

Die eerste span speel Vrydag teen Loskop en die tweede teen Northam III.

Mogol samel tans geld in met die verkoop van lootjies, en volop aantreklike pryse kan gewen word. Die trekking vind Saterdag by die klub plaas.

Namibië

♦ Namibië se Premierliga het twee naelbytstryde opgelewer.

Kudus (Walvisbaai) het verbaas deur Wanderers (Windhoek), voorverlede jaar se voorste oop klub, by wyse van ʼn strafdoel, in die doodsnikke van die wedstryd met 26-25 te klop.

Wanderers het vyf drieë teen die wenspan se twee gedruk, maar swak stelskopwerk was sy doodsteek.

United (Windhoek) het op sý beurt net-net met 24-23 teen Rehoboth gewen.

Western Suburbs, wat Namibië verlede jaar in die reeks om die Goue Beker verteenwoordig het, het met 53-21 teen Reho Falcons gewen.

Valke

♦ Springs, wat vanjaar nog geen hond haaraf kon maak in die Noordebonde se Superliga nie, het verras deur die Valke-kampioen, Vereeniging, in die Peregrineliga met 22-20 te klop.

♦ East Rand United (ERU) het die Boksburg-derby gewen deur Boksburg met 48-24 te looi.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê die klub het met sy kenmerkende rugby die Uile deurmekaar gehardloop.

“ERU het die vaste fasette oorheers en sy gevaarlike agterlyn het baljaar. Al sewe drieë is deur die agterspelers gedruk.

“Op die verdediging was die wenspan se plettervatte van die boonste rak.”

ERU se raakvat-senter, Waylon Thompson, is as die speler van die wedstryd aangewys.

“Hy het ʼn skrikbewind met sy dodelike plettervatte gevoer, en ʼn paar keer Boksburg se verdediging met sy kraglopies oopgevlek.”

Puntemakers –

ERU – Drieë:JP Fleming(2), Tiaan Ramat(2), Leon Potgieter, Clayton Gidan, Cameron Rooi. Doelskoppe: Cameron Rooi (5). Strafdoel: Cameron Rooi.

Ander uitslae –

Peregrineliga

ERU II 18, Boksburg 5; ERU o.21 34, Boksburg 20; Vereeniging II 3, Springs II 0.

Merlinliga

Meyerton 21, Vaal-Universiteit vir Tegnologie 17; Meyerton o.21 22, VUT o.21 7.

Kestrelliga

Delmas 24, Daveyton 7; Edenvale Panthers 33, Oos-Randse Polisie 32; Buffels (Grootvlei) 25, Vanderbijlpark 20.

Zimbabwe

♦ In Harare het die verdedigende Zimbabwiese klubkampioen, Old Geogians, sy kragmeting teen Old Johannians met 67-9 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.