Klubrondomtalie: spanning in strawwe eindstryde

Meedoënlose rugby, en spanning eerder as skouspel, het van die naweek se klubeindstryde gekenmerk.

In Durban was die Murraybeker-eindstryd tussen College Rovers en Durban Collegians selfs ná bykomende tyd steeds gelykop met 17-17.

Rovers, wat die gelykmakende drie in die 80ste minuut van die wedstryd gedruk het, het op die ou end die bond se uitklopbeker behou op grond van die twee drieë teen een wat hy Saterdag gedruk het.

Hy het vroeër ook die Moorbeker (Premierliga) gewen – die tweede opeenvolgende jaar dat hy met albei senior bekers spog.

Ander uitslae –

Junior Murraybeker (Eerste Liga)

UKZN Durban 50, Ladysmith Bulldogs 15.

Peter Taylor-beker (Premierreserweliga)

Durban Collegians 54, College Rovers 26.

Keith Parkinson-beker (Eerste Reserweliga)

Hillcrest 29, Pietermaritzburg Collegians 17.

SWD

Dit het met ʼn gekers van tande gepaard gegaan, maar Progress (George) het weer die Suidwestelike Distrikte se Premierliga gewen.

Hy het op die ou end Barbarians (Mosselbaai) met 14-10 verslaan.

In die Presidentsliga het Jaguars (Plettenbergbaai) vir George met 26-19 verslaan, en word hy tot die Premierliga bevorder in die plek van Maori’s (George), wat laaste in die senior reeks was.

Ander uitslae –

Premierliga

Progress II 46, Barbarians II 26; Barbarians III 31, Evergreens III (Pacaltsdorp) 20.

Presidentsliga

Riversdal Blues II 25, Spring Roses II (Oudtshoorn) 15.

Vrystaat

In die Vrystaat-plattelandliga het Barkly-Oos die George Nel-beker behou, deurdat hy Hiberians (Burgersdorp) oortuigend met 26-3 in die eindstryd geklop het.

Crocodiles (Burgersdorp) moes harder vir die Boetie Steenkamp-plaat werk, maar het Universals (Colesberg) met 13-7 getroef.

Stoele (Venterstad) het die B-afdeling gewen deur Scorpions (Gariep) met 23-17 onder te sit.

WP

Die oënskynlik onstuitbare Maties speel steeds woer-woer met die res van die deelnemers in die Westelike Provinsie se Superliga A.

Op hul jongste vernielingstog het die Stellenbosse studente St. George’s met 72-14, en Tygerberg (wat verlede jaar ʼn kwarteinder in die reeks om die Goue Beker was) met 99-7 verrinneweer.

Die Goue Beker-houer, Valsbaai, het egter sy hande vol gehad om die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) – tot onlangs een van die agterosse – met 33-31 te verslaan.

Hy is net een ligapunt voor Durbanville-Bellville wat Schotschekloof-Walmers met 62-12 opgedreun het.

Op die koop toe het die omgekrapte UWK die vierde geplaaste Hamiltons met 35-24 verras.

Unie-Milnerton, die Ikeys en die Victoriane dreun mekaar op om die oorblywende twee topsesplekke.

Superliga B

Ná sy sege van 22-14 oor Young Peoples is Helderberg die voorloper in die Superliga B, terwyl Paarl (loslootjie) na die derde plek afgeskuif het.

Franschhoek is tweede nadat hy Pniel Villagers met 38-30 uitgestof het.

Superliga C

Macassar het sy voorsprong op Goodwood (loslootjie) in die Superliga C effens gerek met ʼn oorwinning van 28-24 oor Kylemore.

Die nederlaag het laasgenoemde se toptwee-aanspraak ietwat geknou.

Promosieliga

Masiphumelele, Silvertree, Polisie (Stadsliga), Morning Star, Retreat, Lagunya (Suiderliga), Blue Stars United, Raithby Universals en Van der Stel-Evergreens (Noorderliga) het hul plekke in die Promosieliga bespreek.

Die afgelope week se wedstryde het geen uitwerking op die topdrie gehad nie.

Paarlliga

Riverstones se sege van 34-20 oor Violets het hom net-net ʼn plek in die Paarl-topsesliga besorg.

Die topses is: Albions (38), Agter-Paarl (35), Allandale (34), Young Standards (29), Young Gardens (28), Riverstones (22).

Die onderste ses (aangevul uit die Simonsbergliga): Paarl Rangers (22), Simondium (12), Pêrel United (5), Violets (0), en die twee voorste Simonsbergse spanne, La Motte en Faure.

Boland

Die Bolandse Grootuitdaag-kampioen, Roses United (Wellington) het Saterdag die eerste keer vanjaar sy rieme styfgeloop.

Bella Vista (Ceres) het hom met 23-17 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.