Klubrondomtalie: strawwe stryd ontknoop in WP

Rustenburg Impala se puntemakers teen Naka Bulle in Noorderbonde se Superliga: Trevor Visser, Chaney Willemse, André Grobler en Dewaldt Havenga. (Foto: Johanna de Vos)

ʼn Skrale twee ligapunte skei die voorste vyf spanne in die Westelike Provinsie se Superliga A.

Stellenbosch (16) word deur Durbanville-Bellville (15), Hamiltons (15), die Universiteit van Kaapstad (15) en Brackenfell (14) gevolg.

Die Maties en Hammies het elk vier wedstryde, en die res drie afgehandel.

Die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale Goue Beker-kampioen, Valsbaai, is sesde met nege punte nadat hy Saterdag met 9-19 teen die Stellenbosse studente vasgeval het.

Hamiltons het Unie-Milnerton met 22-19 getroef; Durbell het NTK met 36-3 afgeransel; en Brackenfell het Belhar met 36-5 oorrompel.

Griffons

Die Griffons-Luiperdskampioen, Welkom, het by verstek na die eindstryd van dié twee bonde se oorgrensliga deurgedring deurdat Potchefstroom-dorp nie genoeg spelers vir die halfeindstryd het nie.

Rovers (Welkom) speel teen Klerksdorp in die ander halfeindstryd.

In die laaste rondomtaliewedstryde het Welkom die tweede geplaaste Klerksdorp met 76-26 gelooi, en Rovers het Odendaalsrus met 50-0 verniel.

Griekwas

Kimberley, die voorloper in die Griekwas se Superliga, het met 22-17 met die verdedigende kampioen, Sishen afgereken.

Die tweestryd tussen die twee spanne die afgelope paar jaar was van die hoogtepunte in die bond se klubrugby. Sishen het meestal die botoon gevoer, en hou die titel minstens sedert die instelling van die reeks om die Gemeenskapsbeker in 2013.

Kimberley het voorheen as Kimberley Polisie bekend gestaan.

Luiperds

In die Luiperds se Neserbeker-reeks het die voorloper, Fochville, die naasvoorloper en verdedigende kampioen, Lichtenburg, met 70-27 opgefrommel.

Hartbeesfontein het Zeerust naelskraap met 27-25 geklop.

Westonaria speel die derde jaar op die ry af in die eindstryd om die Jaap Steynbeker – dié keer tuis teen Vryburg.

Hy het die reeks in 2014 die eerste keer gewen, en die afgelope twee keer teen Zeerust verloor, wat vanjaar tot die Neserliga bevorder is.

Blou Bulle

In Blou Bul-land het dit as ʼn redelike groot verrassing gekom toe Centurion Saterdag vir Quins-Bobbies-rugby (QBR), die verdedigende Carlton-kampioen, met ʼn ruim wentelling van 45-27 opgedreun het.

Rustenburg Impala (Luiperds) se oortuigende sege van 25-10 oor die Naka Bulle (Blou Bulle) in die Noorderbonde se Superliga was eweneens onverwags groot.

Puntemakers –

Impala – Drieë: Dewaldt Havenga, Chaney Willemse, André Grobler.Doelskoppe: Trevor Visser (2). Strafdoele: Trevor Visser (2).

Naka – 1 Drie: Ian van Deventer.Doelskop: Anton Beswick. Strafdoel: Anton Beswick.

QBR –Drieë: Carling Forwood (2), Vincent Gwavu, Gerdus Botha.Doelskoppe: Jacobus Botha (2). Strafdoel: Jacobus Botha.

Ander uitslae –

Fezelas (UP) 84, Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) 14; Naka II 29, Impala II 21; Pumas (UP) 26, TUT II 24; QBR II 32, Centurion II 25; QBR III 14, Centurion 14: Naka II 53, Impala III 7.

Boland

Roses United, die houer van die Bolandse Grootuitdaagbeker, het heelwat moete ervaar om Hamlet met 40-33 onder te sit.

M Baron (88 punte) van Hamlet is tans die voorste puntemaker in die Witzenberg-Sentraal-streek van die bond.

Grens

Grens se kampioen, Oos-Londen Polisie, het ʼn stewige drag slae van 6-30 by ʼn uitnodigingstoernooi teen Swallows (Mdantsane) op die lyf geloop.

Die Walter Sisulu-universiteit het Old Selbornians (Oos-Londen) by dieselfde geleentheid met 24-13 verslaan.

In dié bond se Premierliga het Old Collegians (Queenstown) met 29-26 teen Africans gewen, en die Wallabies (Stutterheim) en Ncerha Leopards het met 28-28 gelykop gespeel.

KZN

Met College Rovers wat al van die Moorbeker seker gemaak het, is die fokus in KwaZulu-Natal sterker op die Eerste Liga (Suid), waar South Coast Warriors (SCW) vir Hillcrest sy eerste loesing in ʼn geruime tyd toegedien het.

Die span van Uvongo, wat verlede jaar nog in die Natalse Premierliga gespeel het, het onverwags ver met 26-7 gewen.

In die uitklopreeks om die DW Geddiebeker (o.20B) het Varsity College (VC), wat tweede op die punteleer was,die voorloper, Durban Collegians,met 29-27 in die eindstryd geklop.

Ander uitslae –

Premierliga (Moorbeker)

College Rovers 29, VC 23; Durban Collegians 51, Amanzimtoti 34; Richardsbaai 33, UKZN Pietermaritzburg 26.

Eerste Liga (Suid)

Zululand Rhinos 49, Pietermaritzburg Collegians 10; Durban Mets 22, Jaguars 19; UKZN Durban 66, Ballito Dolphins 30.

Derde Liga (Walkerbeker)

VC 24, Mangosuthu-universiteit vir Tegnologie 19.

Middelland

Die Middelland-subunie se reeks om die Crowebeker (Derde Liga) sal in die laaste kragmeting tussen Voortrekker-oudleerlinge (VOL) en Drakensberg (Winterton) beslis word.

Die bergklub se jongste sege van 26-12 oor Greytown plaas hom net drie ligapunte agter VOL, die voorloper.
VOL II het die Rawbeker Vrydag gewen deur Cedara met 64-0 te stoomroller.

Namibië

In Namibië het die plaaslike Universiteit vroeg al sy plek in die halfeindronde van die Premierliga bespreek, en spook Wanderers, United (albei Windhoek), Western Suburbs (Khomasdal) en Kudus (Walvisbaai) sake om die ander drie plekke uit.

Suburbs het Namibië verlede jaar as die beste oop klub in die Goue Beker-reeks verteenwoordig.

In die jongste ronde het hy Reho Falcon (Rehoboth) met 66-33 oorrompel.

United het Rehoboth met 29-24 geklop; en Wanderers het Kudus met 34-11 oorwin.

SWD

Barbarians (Mosselbaai) het die voortou in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga geneem deur ʼn vuurwarm Heidelberg met 30-27 te klop.

Die verdedigende kampioen, Progress (George), se wedstryd teen Bridgton (Oudtshoorn) is tot die middel van Julie uitgestel.

Wat die Presidentsliga betref, het Riversdal Blues (Langeberg) en George (Kus) tot die halfeindronde deurgedring.

Willowmore (Karoo), Mosselbaai (Langeberg), Albertinia Rangers (Langeberg) en Bitou (Jeffreysbaai, Kus) sal onderling uitspeel om die ander twee plekke te vul.

Ander uitslae –

Premierliga

Crusaders (George) 36, Silver Stars (George) 29; Groot-Brakrivier 38, Blanco 20; Evergreens (Pacaltsdorp) 60, Maori’s (George) 3.

Valke

East Rand United (ERU) het in die Valke se Peregrineliga oortuigend met 63-21 met Brakpan afgereken.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, laat weet die manne van Reigerpark speel weer hul tradisionele hardlooprugby, en het agt pragtige drieë gedruk.

ERU se loskopstut, Hanriel Coetzee, was die speler van die wedstryd.

“Hierdie sagmoedige reus was ʼn yster in die vastelos en in die skrums was hy uitstekend. Hy is selfs vir al sy harde werk met ʼn kenmerkende stormramdrie beloon,” berig Booysen.
“Hy het die ander voorspelers aangespoor om goeie balbesit vir die gevaarlike agterlyn van ERU te gee.”

Puntemakers –

ERU – Drieë: Waylon Thompson(3), Hanriel Coetzee, JP Fleming, Tiaan Ramat, Jackie Jonkers, Leon Potgieter. Doelskoppe: Cameron Rooi (7). Strafdoele: Cameron Rooi (3).

Springs (vyf oorwinnings in ses wedstryde) loop tans voor in die liga. Die verdedigende kampioen, Vereeniging, is tweede met vier seges in vyf wedstryde, en ERU is derde met ʼn soortgelyke rekord.

Zimbabwe

Die Zimbabwiese kampioen, Old Georgians, het Polisie op die Polisieveld in Harare met 97-3 onder stof geloop.

Jerry Jaravaza het 17 punte met ʼn drie en ses doelskoppe aangeteken. Ryan Sprake en Kuda Chiwanza het elk drie drieë gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.