Klubrondomtalie: Tukkies storm wen-wen voort

Die Tukkie-puntemakers: Bart le Roux, Abri Reynolds, Frederik Eksteen, Stephan Coetzee en Steven Moir. (Foto: Johanna de Vos)

Dit het dié keer nie so maklik gegaan nie, maar Tukkies storm steeds onoorwonne voort in die Noorderbonde se Superliga en die Blou Bulle se Carltonliga.

In die jongste ronde het die studente sterk teenstand van Rustenburg Impala (Luiperds) ervaar en uiteindelik ʼn bonuspunt afgestaan deur met net 28-22 te wen.

East Rand United (Valke) het tot rustyd toe sterk teenstand teen die Naka Bulle (Blou Bulle) gebied, maar die Mootspan het uiteindelik met 71-28 geseëvier.

Die Naka-senter Anton Beswick het 26 punte met ʼn drie, nege doelskoppe en ʼn strafdoel aangeteken.

Springs het slegs die tweede Valkespan geword om in die Superliga te wen toe hy Centurion (Blou Bulle) met 31-26 getem het.

Puntemakers –

Tukkies – Drieë: Stephan Coetzee, Frederik Eksteen, Bart le Roux.Doelskoppe: Abri Reynolds, Steven Moir. Strafdoele: Abri Reynolds (3).

Impala – Drieë: Dewald Havenga (2), Dean van der Merwe.
Doelskoppe: Trevor Visser (2). Strafdoel: Trevor Visser.

Naka – Drieë: Kefentse Mahlo (3), Etienne Storm (2), Vian Riekert, Sylvester Booysen, Jean Grobler, Marcel Human, Anton Beswick. Doelskoppe:Anton Beswick (9). Strafdoel: Anton Beswick.

Centurion – Drieë: Marius Grobler, Devin Grootboom, Kassie Bezuidenhout, JP du Plessis.Doelskoppe: Gaybrin Smith (3).

Ander uitslae –

BBRU-Presidentsliga

Naka II 33, TUT 14; Naka III 52, TUT II 19; Fezelas (UP) 49, Impala II 22; Pumas (UP) 52, Impala III 12.

WP

Die nasionale oopklubkampioen, Valsbaai, sou sake waarskynlik makliker wou hê in sy eerste wedstryd van die nuwe seisoen in die Westelike Provinsie se Superliga A.

Hy moes Saterdag alles in die stryd werp om Hamiltons met 23-16 te klop.

Die WP se ander Goue Beker-klub, Tygerberg, het met 19-36 teen Brackenfell slae gekry.

Ook die historiese klub Villager se terugverwelkoming in die bond se senior liga was nie na sy sin nie. Durbanville-Bellville, ʼn gewese GB-houer, het hom met 42-0 afgeransel.

Ander uitslae –

Unie-Milnerton 21, St. Georges 17; NTK 43, Belhar 15.

OP

In die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagreeks het Jeffreysbaai verras deur ʼn onlangse OP-wenner en GB-deelnemer, Port Elizabeth Polisie, met 21-16 ore aan te sit.

Ander uitslae –

Gardens (Uitenhage) 72, Suburbans 22 (Kleinskool); Trying Stars (Alexandria) 22, Gelvandale Wallabies 13; Kruisfontein (Humansdorp) 32, Park (PE) 24; Despatch 41, Brumbies (Grahamstad) 17; NMMU 19, PE Harlequins 13; African Bombers (Zwide) 20, Born Fighters (Somerset-Oos) 18; Star of Hope (Uitenhage) 26, Windvogel 13.

Griekwas

Wil jy glo! Nommer een en twee in Griekwas se Superliga het hul jongste wedstryde met presies dieselfde telling gewen.

Die voorloper, Kimberley, het Young Tigers (Calvinia) met 47-7 verniel; en die verdedigende kampioen, Sishen, het United (Upington) met …, ja, 47-7 opgedons.

SWD

Heidelberg, wat vanjaar in die plek van die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se George-kampus tot die Suidwestelike Distrikte se Premierliga bevorder is, vertoon steeds merkwaardig.

Hy het Maori’s (George) Saterdag met 83-8 van die veld gevee om sy derde plek op die punteleer te handhaaf.

Willowmore is die voorloper in die Presidentsliga se Karoostreek, en George in die Kusstreek.

In die Langebergstreek heers ʼn taai driehoekstryd tussen Mosselbaai, Albertinia Rangers en Riversdal Blues.

Al drie het agt van hul nege kragmetings tot dusver gewen en slegs ʼn verskil in bonuspunte plaas hulle in bogenoemde volgorde.

Ander uitslae –

Premierliga

Evergreens (Pacaltsdorp) 27, Bridgton (Oudtshoorn) 25; Barbarians (Mosselbaai) 41, Blanco 21; Groot-Brakrivier 25, Silver Stars (George) 18.

Boland

Roses United, die Bolandse Grootuitdaagkampioen, is onoorwonne ná vier wedstryde in die Witzenberg-Sentraalstreek van die reeks.

In die jongste weekronde moes hy hard werk om Delicious (Ceres) in reën en snerpende koue met 20-15 te klop.

In die reeks om die Gemeenskapskild het die houer, Elandskloof, eweneens gesweet om sy wedstryd in die Overbergstreek teen die Cheetahs (Grabouw) met 17-13 te wen.

Hy was tot dusver in vier van sy vyf kragmetings aan die wenkant.

Goue Leeus

Wat die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagbeker betref, het Wits vir Randfontein met 93-14 afgeslag, en die Universiteit van Johannesburg (UJ) het met 35-17 teen Wanderers gewen.

Dit bevestig UJ in die eerste en Wits in die tweede plek op die punteleer.

Raiders, wat ʼn loslootjie geniet het, is steeds die voorloper in die oop klubs se onderlinge reeks om die Kevin de Klerk-beker. Roodepoort is tweede.

Tshuma Stingers (Midrand) loop voor in die Senior Grootuitdaagreeks ná sy sege van 25-0 oor Harlequins (Krugersdorp).

Southern Knights (Naturena) het die voortou afgestaan deur met 12-17 teen Kagiso te verloor.

Alexandra het met 22-0 teen Eldoronians gewen.

Grens

Oos-Londen Polisie, Grens se Superligakampioen, is met 25 punte boaan vanjaar se punteleer nadat hy vyf van sy ses wedstryde tot dusver gewen het.

Swallows (Mdantsane), ʼn promotorskeuse in verlede jaar se reeks om die Goue Beker, bied ’n ernstige bedreiging deurdat hy, onoorwonne in vyf kragmetings, net een ligapunt minder het.

Old Selbornians (Oos-Londen), wat lank klubrugby in die bond oorheers het, kon nog net vier uit sewe wedstryde wen, en is derde op die punteleer.

Griffons

Klerksdorp is tweede op die punteleer van die Griffons-Luiperdsoorgrensliga nadat hy Odendaalsrus met 60-5 gestoomroller het.

Rovers (Welkom) is derde náʼn sege van 42-14 oor Potchefstroom-dorp.

Die onoorwonne voorloper, Welkom, het ʼn loslootjie geniet.

Sandveld

Die Griffons se Sandveldliga gaan ʼn splinternuwe kampioen kry wanneer Kroonstad en Bloemhof eersdaags in die eindstryd aanmekaar spring.

Kroonstad, wat voorheen in die Griffonsliga gespeel het, is nog nie vanjaar geklop nie en het Hoopstad, verlede jaar se kampioen, in die halfeindronde oortuigend met 31-5 verslaan.

Bloemhof het sy halfeinstryd teen die 2016-kampioen, Bothaville, met 15-13 gewen.

Die datum vir die eindstryd moet nog bevestig word.

KZN

Die KwaZulu-Natalse Moorbekerhouer, College Rovers, moes vinger trek om Amanzimtoti met 28-12 in die Premierliga te klop.

Durban Collegians het UKZN Pietermaritzburg met 80-6 verfomfaai, en Crusaders het Richardsbaai met 62-16 gelooi.

Hillcrest, wat die Eerste Liga verlede jaar gewen het, het Westville Old Boys ʼn harde neut gevind om te kraak, maar op die ou end met 20-16 gewen.

Middelland

ʼn Puik sege van 31-8 oor Greytown, het Drakensberg (Winterton) in die Middelland-subunie se liga nader aan die onoorwonne voorloper, Voortrekker-oudleerlinge (Pietermaritzburg), laat vorder.

Cedara het Nagle Dam Rhinos met 24-7 geklop.

Obhejane, ʼn vorige bekerwenner in die subunieliga, is geskors nadat hy sy bepalings onbevredigend nagekom het.

Luiperds

In die Luiperds se Neserliga het die naasvoorloper, Fochville, met 45-27 teen verlede jaar se Jaap Steyn-kampioen, Zeerust, gewen. Lonmin (derde op die punteleer) het Hartbeesfontein met 44-24 opgedreun.

Sowel die voorloper, Lichtenburg, as Fochville, is ná twee wedstryde onoorwonne in vanjaar se reeks.

Die voorloper in die Jaap Steyn-liga, Westonaria, het Hurricanes (Stilfontein) met 66-7 gelooi. Die tweede geplaaste Vryburg het Koster oortuigend met 45-12 verslaan.

Leeudoringstad, wat derde is, het Ikageng met 78-5 opgefrommel.

Albei die voorste twee spanne het tot dusver vier uit vyf kragmetings gewen.

Namibië

Die Namibiese kampioen, die Universiteit van Namibië (Unam), staan haas onaantasbaar in die Premierliga nadat hy Kudus (Walvisbaai) met 37-26 getroef het.

Western Suburbs, wat Namibië verlede jaar in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale Goue Beker-reeks vir oop klubs verteenwoordig het, het Wanderers, die vorige jaar se Namibiese GB-span, met 33-27 geklop.

Hy is egter steeds derde ná die verloorspan op die punteleer.

Zimbabwe

In Harare het die Zimbabwiese kampioen, Old Georgians, wat dié land ook in die GB-reeks verteenwoordig het, ʼn wegholsege van 73-0 oor Old Johanians behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.