Klubrondomtalie: WP-ligas skop uiteindelik af

Die klubligas in die Westelike Provinsie skop uiteindelik Saterdag af nadat die droogte in die Wes-Kaap tot dusver ʼn stokkie daarvoor gesteek het.

Die nasionale klubkampioen en Goue Beker-houer, Valsbaai, meet in die Superliga A op sy tuisveld teen Hamiltons kragte; en die bond se ander deelnemer aan verlede jaar se GB-reeks, Tygerberg, speel weg van die huis teen Brackenfell.

ʼn Wedstryd wat seker landwyd belangstelling sal uitlok, is die historiese klub Villager se terugkeer na die WP se senior reeks nadat hy die afgelope jare dit nie kon haal nie. Sy taak teen Durbanville-Bellville, 2015 se GB-houer, sal egter nie maklik wees nie.

Saterdag se ander botsings in die topliga is tussen Unie-Milnerton en St. George’s, en tussen Belhar en NTK.

OP

Star of Hope (Uitenhage) het die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagreeks nóg ʼn slag geskud toe hy die verdedigende kampioen, Progress (ook van Uitenhage), met 25-19 ore aangesit het. Hy het vroeër in die liga met ʼn ander hoogaangeskrewe span, Gardens (eweneens van Uitenhage) klaargespeel.

Born Fighters (Somerset-Oos) het insgelyks die aandag getrek met sy oorwinning van 18-17 oor Port Elizabeth Polisie, ʼn onlangse OP-kampioen.

Goue Leeus

In die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagreeks raak sake interessant met die verdedigende kampioen, die NWU Pukke, wat vanjaar nog net drie van sy sewe kragmetings kon wen.

Die Universiteite van Johannesburg en die Witwatersrand is die voorlopers nadat hulle onderskeidelik vir Roodepoort met 40-30 en Pirates met 42-32 verslaan het.

Raiders, wat die bond verlede jaar in die reeks om die Goue Beker verteenwoordig het, is, danksy ʼn sege van 51-35 oor Randfontein, die voorloper in die oop klubs se Kevin de Klerk-liga.

Griffons

Die onoorwonne kampioen, Welkom, het vriend en vyand verbaas deur sy stadsgenoot Rovers met 65-0 in die Griffons-Luiperdsoorgrensliga te oorrompel. Laasgenoemde klub het rugby in die bond oorheers totdat Welkom die titel verlede jaar gebuit het.

Odendaalsrus het sy eerste oorwinning vanjaar behaal toe hy Potchefstroom-dorp met 36-19 geklop het.

Blou Bulle

Wat die Noorderbonde se Superliga betref, is die Tukkies steeds die onoorwonne voorloper. Hy het sy mede-Blou Bul-klub Quins-Bobbies-rugby (QBR) Saterdag oortuigend met 43-23 verslaan.

Rustenburg Impala (Luiperds) se naelskraapse sege van 33-32 oor East Rand United (ERU) (Valke) plaas hom in die tweede plek.
Derde is die Naka Bulle (Blou Bulle) wat Springs (Valke) met 69-46 oorskadu het.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, laat weet Impala het die Oos-Randers se harte gebreek met ʼn drie in die doodsnikke van die wedstryd. ERU was op daardie tydstip met 32-28 voor.

Hy sê die verloorspan het in alle fasette vir Impala kers vasgehou.

ERU se woelige skrumskakel, Tiaan Ramat, was sy beste speler. Booysen sê hy het ʼn voortreflike diens aan sy agterlyn gelewer, soms onder moeilike omstandighede, en hy was ʼn yster op die verdediging.

Puntemakers –

Tukkies – Drieë: Dwight Pansegrouw, Frederik Eksteen, Damian van Wyk, Johan Grobler, Stephan Coetzee, Abri Reynolds, Xander Kruger. Doelskoppe: Abri Reynolds (3), Steven Moir.

QBR – Drieë: Jasper Genis, Vincent Gwavu, Carling Forwood, Juan Nel. Strafdoel: Jacobus Botha.

Naka – Drieë: Kefentse Mahlo (2), Vian Riekert (2), Ian van Deventer (2), Johan Pieterse (2), Ig Prinsloo, Jerome Bastick, Francois de Jonge. Doelskoppe: Anton Beswick (7).

Impala – Drieë: André Grobler (2), Justin Wheeler, Dean van der Merwe, Jacques Rossouw.Doelskoppe: Jacques Rossouw (4).

ERU – Drieë: Jackie Jonkers (2), Waylon Thompson, Clayton Gindan. Doelskoppe: Clayton Gindan (3). Strafdoele: Clayton Gindan (2).

Limpopo Blou Bulle

Die Limpopo-kampioen, Northam Rhinos, het Louis Trichardt met 76-12 oorrompel.

Boland

Roses United (Wellington), die houer van Boland se Grootuitdaagbeker (GUB), is onoorwonne ná drie wedstryde.

Hy het Tulbagh, na berig word, met puik gestruktureerde rugby en sterk leierskap met 93-7 in die grond in gespeel.

Verlede jaar se Streekuitdaagkampioen, Bredasdorp Rangers (wat vanjaar sy eeufees vier), het sy wedstryd teen Caledon in die GUB-reeks met 22-26 verloor.

Griekwas

Kimberley, die voorloper in die Griekwas se Superliga, het die agteros, Postmasburg, met 99-0 afgeransel.

KZN

Die KwaZulu-Natalse Moorbekerkampioen, College Rovers, was onstuitbaar teen UKZN Pietermaritzburg en het die studente met 51-7 gelooi.

Crusaders het Varsity College (VC) met 30-19 ondergesit; en Amanzimtoti was met 41-25 Richardsbaai se meerdere.

Hillcrest, die Eerste Liga se titelhouer, het Zululand Rhinos (Empangeni) net-net met 24-22 getroef.

College Rovers het die Frank Norris-beker (o.20A-liga) gewen deur UKZN Durban met 34-22 te verslaan; en Durban Collegians is met die Kingsparkbeker (o.20B-liga) huis toe náʼn gerieflike 29-7-sege oor VC.

Middelland

Die voortou in KZN se Middellandse Subunie het wéér van hande verwissel nadat Voortrekker-oudleerlinge (VOL) van Pietermaritzburg vir Drakensberg (Winterton) in ʼn naelbytstryd met 10-7 oorwin het.

Drakensberg is nou tweede, Greytown derde, en VOL II – wat lank voorgeloop het – is vierde.
Luiperds

Die voorloper in die Luiperds se Neserliga, Lichtenburg, is steeds onoorwonne nadat hy Lonmin met 71-12 verniel het.

Fochville, die naasvoorloper, het met 47-30 met Hartbeesfontein afgereken.

Vryburg het die voorloper in die Jaap Steyn-liga, Westonaria, in ʼn strawwe stryd met 19-17 slae gegee.

Die Potchefstroomse Landboukollege het Hurricanes (Stilfontein) met 39-32 verslaan; en Leeudoringstad se Leeutjies het Koster met 54-31 verslind.

Pumas

Boschpick Highlanders het sy toeskouers waarde vir hul geld gegee, al het die span met 29-34 teen Middelburg in die Pumas se Premierliga verloor.

André Swanepoel, Newcastle se hoofafrigter, sê sy span het mooi teruggeveg nadat Middelburg rustyd met 21-10 voor was, en sonder dit uit as die span se beste vertoning tot dusver vanjaar.

“Tussen die voorspelers van Highlanders het niemand beter as Olifant Koorts(loskopstut) gespeel nie, gewis sy heel beste vertoning vir die klub. Kort op sy hakke was Ruben Swanepoel(haker) wat met elke wedstryd verbeter. Wynand Pelser (vaskop) het uitmuntend in die vaste fasette gevaar.

“Agterlangs was Jaco Truter (losskakel) uitstekend en het hy male sonder tal Middelburg met sy verbysterende systap laat skarrel. Ook Max Mkhezi (buitesenter) het ʼn goeie dag beleef.”

Puntemakers –

Newcastle – Drieë: Strafdrie, Ruan Swanepoel. Doelskop: Jaco Truter. Strafdoele: Jaco Truter (3), Heinrich Swiegers(2).

♦ Highlanders II het tot dusver al drie sy tuiswedstryde gewen ná ʼn sege van 21-19 oor Middelburg II.

Vee Mbonane(agsteman) het puik gespeel en van voor af gelei, terwyl Heinrich Swiegers(skrumskakel), Scelo Nkomodo (heelagter) en Bryan Buthalezi(regtervleuel) agterlangs die oog gevang het.

Valke

Die Valke se Peregrineligakampioen, Vereeniging, was op die vernietigingspad en het ʼn bra weerlose Kemptonpark met 111-10 verfomfaai.

Boksburg het op sý beurt oortuigend met 47-12 teen die NWU Vaal gewen.

Ander uitslae –

Merlinliga

Vaal Universiteit vir Tegnologie 43, Benoni 19.

Kestrelliga

Buffels (Grootvlei) 24, Heidelberg 24; Elsburg 47. Edenpark 5; Edenvale Panthers 71, Katlehong 19; Vanderbijlpark 41, Daveyton 5.

Zimbabwe

In Zimbabwe het Harare Sports Club ʼn goeie oorwinning van 48-33 oor Old Georgians behaal.

Laasgenoemde het Zimbabwe die afgelope twee jaar as ligawenner in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale reeks om die Goue Beker verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.