Klubrugby beloof spannende stryde landwyd

Met tweede kanse buite die kwessie, beloof die naweek se klubrugby verskeie spannende wedstryde landwyd.

In Johannesburg word daar veral uitgesien na die halfeindstryd in die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se reeks om die Pirates-grootuitdaagbeker (PGU) tussen die verdedigende kampioen, die Universiteit van Johannesburg (UJ), en die bond se beste oop klub, Raiders.

In die ander halfeind speel die NWU Pukke, wat bo aan die punteleer geëindig het, teen die Universiteit van die Witwatersrand, wat sy beste ligaseisoen in jare beleef.

Albei wedstryde word op die UJ se Westelike Sportterrein in Westdene se A-veld beslis. Eersgenoemde skop om 13:00 af, en laasgenoemde om 15:00.

Die ander wedstryd op die A-veld is om 13:00 tussen Pukke III en Wanderers III.

Op die B-veld speel Raiders III teen Pirates III (13:00), Pukke II teen Raiders II (15:00) en UJ II teen Pirates II (17:00).

Die PGU se onderouderdomstryde vind op Wits se Milpark-veld plaas.

Pukke o.19 speel om 13:00 op die A-veld teen Pirates o.19; en Pukke o.21 om 15:00 teen Wits o.21. Op die B-veld speel UJ o.19 om 13:00 teen Wits o.19; en UJ o.21 om 15:00 teen Raiders o.21.

Bailybeker

Die Bailybeker-halfeindstryde vind op Johannesburg Polisie se Markspark plaas.

Op die A-veld speel die tuisspan om 15:00 teen Alberton, Germiston Simmer om 17:00 teen Diggers, en Harlequins III om 13:00 teen Alberton III.

Die kragmetings op die B-veld is tussen Alberton II en Diggers II (13:00), Polisie III en Simmer III (15:00) en Polisie II en Unie II (17:00).

Die onderouderdomspanne spook sake op Simmer se veld in Germiston uit.

Op die A-veld speel Alberton en Unie se o.19-spanne om 13:00 teen mekaar, en Unie en Diggers se o.21-spanne om 15:00; en op die B-veld Alberton en Simmer se o.21-spanne.

Quins se o.19-span het onttrek, en Simmer o.19 dring by verstek na die eindronde deur.

SGU

Die halfeindstryde van die Senior Grootuitdaagreeks (SGU) vind op Southern Knights se veld in Naturena plaas.

Tshuma Stingers van Midrand speel om 13:00 teen Alexandra se Wolves; en Knights om 15:00 teen Eldoronians van Eldoradopark.

Die o.20-halfeindstryde in dié reeks is tot ʼn later datum uitgestel.

Boland

Die Bolandse Rugbyunie (BRU) se verdedigende kampioen, Hawston, is in die halfeindstryd met 30-21 deur Hillcrest (Wellington) uitgeskakel.

Die vorige kampioen, Villagers Worcester, het Wesbank (Malmesbury) met 41-35 geklop; Roses United (Wellington) het Atlantics (Hermanus) met 97-13 uitgeboender; en Robertson het ʼn naelbytstryd teen Darling met 50-48 gewen.

Die halfeindronde word Saterdag in die Bolandstadion op Wellington beslis, met die Boland Kavaliers en ʼn Bolandse Vyftiental wat om 12:00 in ʼn voorwedstryd kragte meet.

Roses speel om 14:00 teen Villagers, en Robertson om 16:00 teen Hillcrest.

KwaZulu-Natal

Die halfeindronde van die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se uitklopreekse vind Saterdag op Crusaders se veld in Norwood plaas.

Wat die Murraybeker betref, speel die bond se Premierliga-kampioen, College Rovers op die hoofveld teen Varsity College (VC) (16:50); en Durban Collegians, die verdedigende Murraybeker-kampioen, teen Amanzimtoti (18:40).

Ander bepalings –

Hoofveld

Om 11:40 Rovers o.20 teen UKZN o.20 (Basil Medwaytrofee); om 13:20 Hillcrest Villagers teen Durban Mets (Junior Murraybeker Suid); om 15:00 Sharks o.19 teen Cheetahs o.19

Crusaders 2

Om 11:40 Hillcrest II teen Westville Old Boys (Keith Parkinsonbeker Suid); om 13:20 Collegians o.20 teen VC o.20 (Basil Medwaybeker); om 15:00 Rovers II teen VC II (Peter Taylorbeker); om 17:00 Collegians II teen Toti II (Peter Taylorbeker)

Vorige uitslae –

Murraybeker (Premierliga-Top8)

Durban Collegians 59, UKZN Impi 5; College Rovers 78, South Coast Warriors (SCW) 14; Amanzimtoti 54, Zululand Rhinos 13; Varsity College (VC) 36, Crusaders 35.

Peter Taylorbeker (Premierreserweliga-Top8)

Rovers 81, SCW 10; Collegians 42, UKZN 15; Toti 39, Rhinos 14; VC 66, Crusaders 32.

Junior Murraybeker

Eerste Liga (Suid)

Durban Mets 26, Westville 24; Hillcrest 20, Harlequins 14.

Eerste Liga (Noord)

Vryheid 43, Piet Retief 17; Newcastle wen by verstek teen Sentraal (Dundee).

Keith Parkinsonbeker [Eerste Reserweliga (Suid)]

Westville 20, Mets 15; Hillcrest 31, Quins 17.

Meyerton val aan en Vanderbijlpark moet keer. (Foto: Maryke Slabbert)

Valke

Al die Valkerugbyunie (VLU) se eindstryde kom Saterdag in die Barnardstadion op Kemptonpark aan die beurt.

In die Peregrineliga speel Vereeniging, wat die afgelope jaar of wat die naaswenner was, teen East Rand United (ERU) van Reigerpark, wat die verdedigende kampioen, Brakpan, verrassend uitgeskakel het (16:00).

Die Kempton Wolwe (onoorwonne tot dusver vanjaar) en Nigel sê mekaar die stryd in die Merlinliga-eindstryd aan (14:00).

Wat die Kestrelliga betref, het Meyerton op sy tuiseld vir Vanderbijlpark met 42-17 in die een halfeindstryd verslaan.

Die Buffels van Grootvlei het reeds vroeër hul plek in die eindstryd bespreek, en die twee spanne durf mekaar op die A-veld aan (18:00).

Wat Eurolux Meyerton Knights United se sege betref, sê die wenspan se voorsitter, Anthony Lloyd, ʼn mens kom sommer met die afskop sien dat dit ʼn harde stryd tussen die voorhoedes sou wees.

“Die twee agttalle het mekaar met mening gepak.

“Ná 12 minute het Meyerton die bal egter na die agterlyn laat loop, om die eerste drie te gaan druk.

“Rustyd was die telling 21-10 in Meyerton se guns, en in die tweede helfte het albei spanne die bal meer lug gegee.

“Meyerton het nog twee keer gaan druk, en Vanderbijl een keer.”

Shawn Prinsloo (regtervleuel, twee), Conrad Swanepoel (binnesenter), Donovan Swanepoel (slot) en Attie Brits (agsteman) het Meyerton se drieë gedruk, en Michael Bosman het 17 punte met vier doelskoppe en drie strafdoele behaal.

Ander bepalings –

A-veld

Om 12:00 Tembisa teen Daveyton (Ueshe-liga).

B-veld

Om 10:00 Tsakane teen Rus-ter-Vaal (Ueshe-o.20-liga); om 12:00 Kemptonpark teen Sasolburg (Merlin-o.20-liga); om 14:00 ERU teen Vereeniging (Peregrine-o.21-liga); om 16:00 Elsburg teen Edenpark (Kestrelliga Onderste Vyf).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.