Klubrugby was eens ook voor in die tou

Hillcrest Villagers en Durban Mets sak vir ʼn skrum. (Foto: Danielle Audibert)

Enige rugbybond se welslae is destyds aan net drie maatstawwe gemeet: Hoe die bond se klubkampioen in die nasionale klubtoernooi oor die Paasnaweek in Durban gevaar het, of die span die Curriebeker kon wen en hoeveel Springbokke die bond opgelewer het.

Die klubtoernooi was een van die groot hoogtepunte, wat deur die agt top-klubspanne van die toetsunies beslis is.

Die vorige jaar se kampioen is ook genooi en dis hoekom Noord-Transvaal (soos Tukkies, Polisie of Harlequins) en die Westelike Provinsie (Maties, Hamiltons en Villager) soms twee verteenwoordigers in Durban gehad het.

Al die spanne het gewoonlik in die Blue Waters-hotel gebly, want die Elangeni en die Maharani was te duur.

Wanneer jy dalk gelukkig genoeg was om die toernooi by te woon, was een van die Four Seasons, Beach, Claridges, Lonsdale of Rydal Mount goeie keuses.

Jy kon kies uit die bed-en-ontbytopsie of alles insluitend, wat uit ʼn sesgangmaaltyd bestaan het. Dit was in die dae toe buffet nog net ʼn woord in die woordeboek was, want jy het in die eerste of tweede sitting aangesit en van die getikte spyskaart met ʼn datum daarop bestel: sop, vis, tussengereg, “hoofgeveg”, nagereg, kaas en beskuitjies … en wanneer jy trommeldik was, het jy nog ʼn paar vars vrugte in jou sak gesteek.

’n Klubrugbywedstryd ter illustrasie. Argieffoto.

Daar is die Woensdag twee wedstryde gespeel, die Donderdag nog twee, op Goeie Vrydag is daar gerus, op Saterdae is die halfeindrondes beslis om te bepaal wie Paasmaandag in die eindstryd sou speel.

Daar was hordes Springbokke wat gewoonlik vir Tukkies en Maties gespeel het. Die nasionale keurders het die toernooi ook bygewoon, om ruwe diamante te ontdek.

Die grootste skokke is gewoonlik deur Despatch gelewer wat met Danie Gerber en die twee Human-broers, Pote en Sieg, aan die spits, van die studentespanne gelooi het.

Die toernooi is boonop op televisie uitgesaai en die Paasmaandag was die meeste van ons voor die TV vasgenael.

Dit was nou die een helfte van die samelewing in die Noorde, want die ander helfte was by Randse Skou in Milnerpark in Johannesburg.

Die Curriebeker was naas toetsrugby die alfa en omega van rugby.

Weer was dit Noord-Transvaal en die WP wat oorheers het, met Transvaal, Vrystaat en Natal (so een keer elke eeu soos Naas Botha gesê het) en Griekwas wat die kaarte deurmekaar gekrap het.

Loftus Versfeld was vier keer per jaar volgepak.

Dit was wanneer die Bokke so elke vier jaar daar gespeel het, wanneer Noord-Transvaal en die WP mekaar gepak het, en sou nou en dan wanneer Transvaal, Vrystaat, Natal en ook soms Rhodesië gespeel het, wanneer Tukkies en Maties intervarsity gespeel het en wanneer Tukkies en Polisie sake in die Carlton-liga uitgespook het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.