Klubs: ERU, Diggers, Carolina reg vir uitdaging

East Rand United, die Valke se nuwe Merlinligakampioen.

East Rand United, die Valke se nuwe Merlinligakampioen.

Wydverspreide klubs soos East Rand United (Valke), Diggers (Goue Leeus) en Carolina (Pumas) laat weet dat hulle gereed is vir die uitdagings wat die 2016-rugbyseisoen hulle bied.

♦ ERU het verlede jaar die Valke se Merlin-liga gewen deur die verdedigende kampioen, Nigel, met `n grootse terugvegpoging in `n spannende eindstryd 56-51 te klop. Nigel was tien minute voor die einde nog 51-24 voor.

Colin Booysen, die nuwe kampioen se spanbestuurder, sê ERU sien daarna uit om kragte te meet met die groot kanonne in die Valke-rugbyunie (VRU), “Brakpan en kie”, wat “liederlike uitdagings” bied.

Die Valke sal na verwagting eersdaags bekend maak hoe die ligas en die bepalings vanjaar daar uitsien.

carolina rugb♦ André de Vos, die voorsitter van Carolina, sê sy klub sal voortbou op verlede jaar se sukses en wil vanjaar opslae in Mumalanga-rugby maak.

Carolina het verlede jaar naelskraap 10-12 teen Middelburg3 in Afdeling CC van die eindstryd van die bond se Hoëveldliga verloor.

De Vos sê die klub het geen spelers vanweë verplasings of beserings verloor nie en is baie dankbaar daarvoor. `n Hele paar nuwe spelers het boonop by die klub aangesluit.

“Ons is besig om almal fiks en fisiek reg te kry voor die liga in April afskop. Ons werk hard daaraan om seker te maak Carolina kan twee ligaspanne inskryf.”

Die klub beplan twee vriendskaplike wedstryde in Maart, waarskynlik teen klubs wat in de Pumas se Laeveldse liga speel. “Dit sal as proefeming dien om die finale produk reg te skaaf.”

Carolina neem Saterdag aan die Pumas se Hoëveld-sewestoernooi op die Van Riebeeck-stadion in Witbank deel.

Diggers Rugby Club Logo♦ Christa Swanevelder, die woordvoerder van Diggers, sê die klub is hoogs tevrede met die getalle ou en nuwe spelers wat by sy oefeninge opdaag.

Al vier Diggers se spanne het verlede jaar die eindstryd in hul afdelings van die Goue Leeus se Senior Grootuitdaagreeks gehaal. Die eerste span het 44-5 teen Wes-Rand Harlequins gewen en die tweede span 15-10 teen Khosa.

Diggers was jare lank een van die bond se glansklubs en het deur die jare 28 keer die destydse Transvaal se Pirates-grootuitdaagreeks gewen. In die 15 jaar van 1948 tot 1962 het hy dit 12 keer reggekry.

Die klub is deesdae in Randburg gevestig nadat dit jare lank op Springfield in die Suide van Johannesburg gehuisves was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.