Kniebesering bring einde aan Kitshoff se Ulster-dae

Steven Kitshoff in aksie teen Argentinië op Ellispark. (Foto: GB Jordaan)

Die Springbokke sweet oor die fiksheid van Steven Kitshoff in die aanloop tot die toetse teen Ierland in Julie.

Ulster het Dinsdag bevestig dat ʼn kniebesering nie net sy Europese rugbyseisoen tot ʼn einde gebring het nie, maar ook sy tyd saam met die Ierse klub.

“Steven Kitshoff het ʼn kniebesering in die kwarteindstryd van die Europese Uitdaagreeks teen Clermont opgedoen en ná ʼn besoek aan ʼn spesialis is daar bevestig dat dit die einde van sy seisoen beteken,” het die Belfast-span gesê.

Die 32-jarige voorryman sal nou na Suid-Afrika terugkeer waar hy ook ʼn spesialis sal sien om die pad vorentoe te bepaal.

Hy was een van die sterre in die Springbokke se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog waar hy die skrum saam met Bongi Mbonambi en Frans Malherbe in die eindstryd teen die All Blacks geanker het.

Daar is ʼn paar weke gelede bevestig dat Kitshoff van volgende seisoen weer in die kleure van die Stormers te siene sal wees.

“Steven is een van die Stormers se grootste spelers nóg en hy dra baie tot die span se sukses by – op en langs die veld. Ons wou hom nog altyd terug in Kaapstad gehad het en ek is baie dankbaar dat dit so gou ʼn werklikheid geword het,” het John Dobson, afrigter, gesê.

Springbok-bepalings:

22 Junie: Springbokke teen Wallis (Twickenham)

6 Julie: Springbokke teen Ierland (Loftus Versfeld)

13 Julie: Springbokke teen Ierland (Kingspark)

20 Julie: Springbokke teen Portugal (Toyota-stadion)

10 Augustus: Springbokke teen Australië (Suncorp-stadion)

17 Augustus: Springbokke teen Australië (Optus-stadion)

31 Augustus: Springbokke teen Nieu-Seeland (Ellispark)

7 September: Springbokke teen Nieu-Seeland (DHL-stadion)

21 September: Springbokke teen Argentinië (Estadio Unico Madre de Cuidades)

28 September: Springbokke teen Argentinië (Mbombela-stadion)

10 November: Springbokke teen Skotland (Murrayfield)

16 November: Springbokke teen Engeland (Twickenham)

23 November: Springbokke teen Wallis (Principality-stadion)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Kokerboom, daar is nie jong loskop stutte van gehalte in die Kaap nie. Die Stormers moes nooit vir Dian Bleuler aan die Sharks afgestaan het nie. Daai mannetjie kan skrum, maar daar word te veel na balvaardige ballerina tipe stutte gekyk, terwyl hulle vergeet wat ‘n stut se primêre taak is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.