Koch gaan in Wasps-skrum sak

Vincent Koch. Foto: GB Jordaan.

Vincent Koch, die Suid-Afrikaanse voorryman, sal volgende seisoen sy rugby vir Wasps in Coventry speel.

Die 31-jarige vaskopstut het al meer as 30 toetse vir die Springbokke gespeel, hy was deel van die span wat die Webb Ellis-trofee in Japan omhoog gehou het en het vroeër vanjaar gehelp om die Britse en Ierse Leeus te tem.

Hy het sy eersterangse rugby vir die Pumas en die Stormers gespeel, voordat hy sy tasse vir Europa gepak het waar hy in meer as 100 wedstryde vir Saracens in aksie was.

“Ons soek al geruime tyd na ’n vaskopstut van wêreldgehalte en in Vincent het ons gekry waarna ons soek,” het Lee Blackett, Wasps-hoofafrigter, gesê.

Die Britse afrigter meen dat Koch se getuigskrif vir goeie leesstof sorg en dat hy ongetwyfeld hul skrums ’n welkome hupstoot sal gee.

Volgens Koch was die tyd reg om ’n verandering te maak.

“Ek het ’n ongelooflike tyd by Saracens gehad en ek sal die herinneringe altyd koester. Maar ek sien daarna uit om die nuwe hoofstuk van my loopbaan by Wasps te begin,” het Koch gesê.

Nizaam Carr en Francois Hougaard is die ander Suid-Afrikaners in die Wasps-groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.