Koebaai WP, dagsê Japan

Pieter-Steph du Toit. Foto: ANA.

Dit is amptelik. Pieter-Steph du Toit gaan sy tasse vir Japan pak waar hy voortaan vir Toyota Verblitz sal uitdraf.

Die 29-jarige losvoorspeler is tans besig om van ’n skouerbesering te herstel en hy is in ’n wedloop teen tyd gewikkel om gereed vir die Springbokke se Europese avontuur teen Wallis, Skotland en Engeland te wees.

“Toyota Verblitz is ’n gerespekteerde klub wat die toonbeeld van harde werk en vertonings van hoogstaande gehalte is. Dit is ’n voorreg om deel van die opset te word en hopelik kan ek die span se vertroue in my terugbetaal deur my beste te gee,” het Du Toit in ’n verklaring gesê.

Die Japanse span word deur die voormalige All Blacks-maestro, Steve Hansen, afgerig en benewens Du Toit het die span ook die dienste van die Nieu-Seelandse slot, Patrick Tuipulotu, bekom.

Du Toit is egter sy gewig (120 kg) in goud werd.

Hy is in 2019 as Wêreldrugby se speler van die jaar aangewys, terwyl hy al ’n hele paar keer met SA Rugby se toptoekenning vereer is.

 Foto: Stormers se Twitterrekening.

Daar was al vantevore sprake dat die sterk voorspeler – wat ewe tuis op slot en flank voel – vir ’n oorsese klub gaan speel.

Montpellier het vroeër na sy dienste gevry en die Springbok sou na bewering R75 miljoen verdien het as hy ’n kontrak van drie jaar met die Fransmanne onderteken het. Dit sou van hom die hoogs betaalde rugbyspeler ter wêreld gemaak het.

Dan het Munster ook in hom belang gestel.

Die oudleerling van Hoërskool Swartland speel sedert 2016 vir die Westelike Provinsie en sy Suid-Afrikaanse provinsiale pad het ook ’n draai in Durban gemaak.

Hy het die Springbokke al in amper 60 toetse verteenwoordig nadat hy in 2013 sy internasionale buiging teen Wallis op die Millennium-stadion gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

piet ·

Nulle sou hom gekoop het as hulle kon. Die ou is in ‘n totaal en ander liga, geen SA franchise kan sy dienste bekostig nie. Hy moes eintlik al LANKAL gegaan het, een van die bestes ter wereld.

MakersMark ·

Al reeds gesê enigste nulle is die WP se bankrekening (of selfs dalk minus) en hul trofeekas wat nou seker ‘n dik laag stof op het. Hoop maar vir Wolraad Woltemade om die paar oorblywende drenkelinge te red……

JohanR ·

Na soe baie jare van gee en gee gaan maak die groot geld PS. Daai liggaam het miskien nog net 3-5 jaar op sy beste.

Andrew ·

Hy is te veel beseer, 6 maande elke jaar so jy betaal hom vir die 10 games wat hy dalk speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.