Kok in sy noppies met Blitsbok-spanmaats

Werner Kok. Foto: Twitter.

Die Blitsbokke se spogsege teen Fidji in die beker-eindstryd van die Los Angeles-sewestoernooi was die kersie op die koek vir Werner Kok in sy 50ste toernooi.

Kok-hulle het ’n reuseagterstand uitgewis om uiteindelik met 29 – 24 te seëvier.

“Die diepte waaroor ons span beskik, is ongelooflik. Ons het soveel talentvolle jong spelers in die groep,” het die voormalige Wêreldrugby-sewesspeler van die jaar gesê.

“Terselfdertyd het ons baie ervare manne in die span – ouens soos Branco du Preez, Chris Dry en Cecil Afrika – maar die jonger ouens het net pleinweg ongelooflike talent. Hulle speel baie goeie rugby en ons uitslae onderstreep hul waarde.”

Met die Olimpiese Spele net ’n paar maande om die draai, kan gevestigde sterre soos Seabelo Senatla, Rosko Specman, Dylan Sage en Ruhan Nel ook weer in die groen en goud uitdraf. Hulle was almal deel van die span wat die openingstoernooi in Doebai gewen het.

Dan het Cheslin Kolbe ook gesê hy sal graag deel van die Olimpiese aksie wil wees.

Maar selfs sonder hul supersterre – én met Justin Geduld wat ’n welverdiende ruskans geniet het – het die Blitsbokke steeds hul toernooi in Los Angeles gewen.

“Die jonger ouens is baie gretig om deel van die Olimpiese span te wees en hulle werk baie hard om Tokio toe te gaan. Dit is nie net goeie nuus vir ons Olimpiese doelwit nie, maar ook vir die res van die sewesjaar.”

Kok gaan ná die Tokio-skouspel saam met die Sharks vyftienmanrugby speel en hy sal vir die komende toernooie alles in die stryd  wil werp.

Die Suid-Afrikaners is die verdedigende kampioenspan van die Vancouver-toernooi en hulle is saam met Japan, Argentinië en Engeland in ’n groep.

  • Bepalings:

Saterdag:

20:06 teen Japan

23:18 teen Argentinië

Sondag:

02:30 teen Engeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Dit lyk van die manne wil hul brood aan twee kante gebotter hê.Super 15 rugby speel en dan gou ‘n paar wedstryde vir die sewes.Persoonlik is glad nie ten gunste van dit nie want dit is onregverdig teenoor die manne wat sopas een van die merkwaardigste terugveg pogings gelewer het in ‘n sewes
toernooi en verdien om Suid Afrika by die Olimpiese spele te verteenwoordig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.