Kolbe bly om terug op die veld te wees

Cheslin Kolbe het die afgelope naweek sy buiging vir Toulon gemaak. Foto: Christophe Simon/AFP.

Cheslin Kolbe het op sosiale media gedeel dat hy dankbaar is om weer terug op die rugbyveld te wees.

Die vlugvoetige vleuel het die afgelope naweek sy buiging vir Toulon gemaak nadat ’n besering hom vir ’n hele paar maande op die kantlyn gehou het. Hy het onder meer ’n groot gedeelte van die  Rugbykampioenskap en die Springbokke se toer na Europa misgeloop.

“Ek is dalk nog nie heeltemal waar ek wil wees nie, maar ek dank die Here dat ek nie meer is waar ek was nie. Die afgelope vier maande was baie frustrerend; ek het rugby gemis,” het Kolbe getwiet.

Toulon het vroeër sy beursie taamlik groot opgemaak om die 28-jarige ster van Toulouse af te rokkel. En ’n mens het begrip vir Kolbe se gewildheid.

Kolbe is waarskynlik die wêreld se beste vleuel en selfs met beperkte geleenthede op die aanval in die Springboktrui vind hy steeds sy pad na die doellyn.

Hy het belangrike drieë in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland gedruk, terwyl sy drie in die beslissende toets teen die Britse en Ierse Leeus die wedstryd in Suid-Afrika se guns geswaai het.

Daarbenewens is hy vreesloos op verdediging terwyl hy ook op skrumskakel kan uithelp wanneer een van die no. 9-spelers nie op die veld kan wees nie.

“Cheslin was briljant en hy sorg vir soveel energie. Terselfdertyd is hy een van ons belangrikste spelers en hy was oudergewoonte weer oral op die veld – dit is wonderlik om hom in die span te hê,” het Lukhanyo Am gesê nadat Kolbe ’n reuse-aandeel in ’n drie teen die besoekende Leeus gehad het.

Volgens Kolbe geniet hy dit om in Frankryk rugby te speel en sy gesin is mal oor die Franse kultuur. Hy is in 2019 as die Top 14-liga se speler van die seisoen aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.