Kolbe se toorkunsies teen Japanse ‘Ferraris’

Cheslin Kolbe. (Kyodo News via AP).

Vergeet maar van die Alphaville-treffer, want die Springbokke se Cheslin Kolbe is werklik ’n gróót speler in Japan.

Dié buksie van ’n vleuel het gedurende vanjaar se toernooi almal met sy dartellopies en hope durf beïndruk en dit was ’n reuse-terugslag toe hy vroeër ’n enkelbesering opgedoen het.

Hoewel hy die Kanada-wedstryd misgeloop het, is hy weer in aksie en het gister weer saam met die span begin oefen.

As daar nou een speler in die Bok-span is wat met dieselfde leeuemoed as die Japannese kan speel, dan is dit Kolbe.

Die 25-jarige Suid-Afrikaner mag dalk net 1,71 meter in sy sokkies staan en skaars 80 kg weeg, maar sy talent en kanniedood-houding maak van hom ’n baie gevaarlike teenstander. Net soos Japan se Kotaro Matsushima en Kenki Fukuoka.

Die twee Japanse blitse word deur hul afrigter, Jamie Joseph, as Ferrari’s beskryf en hulle het gesamentlik nege drieë in vanjaar se toernooi gedruk. Trouens, met sy vyf drieë is Matsushima saam met Wallis se Josh Adams die kampioenskap se voorste driedrukker.

Kolbe weet egter wat om van dié gevaarlike duo te verwag: Hy het teen Fukuoka in die Olimpiese Spele gespeel, terwyl hy Matsushima in die Curriebeker ontmoet het.

Volgens die Bokke se hulpafrigter, Mzwandile Stick, verwag die Suid-Afrikaners ’n wedstryd wat teen ’n baie hoë tempo gespeel word wanneer hulle Sondag swaarde met Japan in Tokio kruis.

Juis om dié rede sal Kolbe ’n baie belangrike rat in die Springbok-enjin wees.

“Ons weet van watter stoffasie Cheslin gemaak is; hy is ’n baie spesiale speler,” het Stick gesê.

Hoewel die Bokke waarskynlik ’n sielkundige voorsprong het – hulle het immers die gasheerland met 41 – 7 in ’n opwarmingswedstryd getroef – is Stick deeglik bewus van die gevare wat die Japannese vir die Bokke inhou.

“Ons speel teen die gasheerland en ons weet hulle speel met ongelooflike passie, terwyl duisende ondersteuners bankvas agter hulle staan.”

Maar hier is ’n verrassende statistieke – die Bokke het die meeste punte (185) én drieë (27) in die toernooi.

Rassie Erasmus beskik dus oor die vermoë om die Japanse sprokiesverhaal te beëindig – ’n stampkar met stralerbrandstof kan vir ’n Ferrari of twee wegjaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pietman ·

Verwag ‘n Blitzkrieg deur die Japanners – Bokke dikwels stadig om uit die blokke te kom en gaan dan agterstand moet inhaal wat meer druk gaan veroorsaak. Hoop Faf skop meer oordeelkundig om nie Japan nog meer geleenthede te gee as wat nodig is nie.

Genieve ·

Ek het opgelet die Japanese skop nie eintlik maar speel hardloop rugby…Bokke ons weet julle kan dit doen so dis maak of breek speel asb ook 80min sal ook in julle guns tel.

Dag Ou Grote ·

Rassie, moet tog asb. nie die fout begaan om oorgerus te wees nie. Hierdie manne speel al lank saam en het met die opwarmings wedstryd niks weggegee nie. Dis slim ou Nieuseelandse taktiek, alla hulle afrigter. Warm die manne geestelik op, om paraat te wees vanaf die afskop fluitjie blaas. As die bokke slim speel, sal hulle toelaat dat die Japanners hulle self flou hardloop sonder dat hulle punte aanteken. Wanneer hulle moed opgee as hulle nie kan deurkom nie, neem dan die wedstryd oor, en gee hulle n deeglike rugby les. Moet tog asb. nie dit vir hulle maklik maak, deur die bal weg te skop nie. Hou die bal, Speel die bal, en maak hulle eers goed flou. Moenie hulle toelaat om die spel te dikteer nie. Sterkte manne, julle kan.

Maria ·

Chestin so klein en kort mannetjie maar jy is puk en vinnig so trots op jou asb hou aan tot einde . Baie beindruk op jou!

kaptein ·

Ons sal wen met so 15 punte indien ons ons normale spelpeil handhaaf. As ons baie goed speel, kan die punteverskil nog groter wees. Ons voorspelers behoort te sterk te wees. Kaptein Kolisi span die seile en sal sorg dat die manne nie van die boot afval nie.

Derick ·

Kyk Kolbe is goed verby, maar 3-5 baie wettige harde tackels en hy hou die aanvallende speeler dop instede van die bal soos meeste rugby spelers maar doen.
So as ek Japan is wag ek tot hy die bal vang en duik hom baie hard.

Poot ·

@Derick
Nou het jy nie gedink voor jy gepraat het nie. Daars nie ñ taaier agterspeler as Kolbe nie. Dit gaan meer as harde tackles vat om hom van die veld af te kry. Ek glo JY sal na een duikslag in die hospitaal beland.

ProotGraat ·

Sjoe Derick, regtig? Asof Cheslin rustig rondstaan nadat hy die bal gevang het? Ek hoop Japan volg jou raad …. wanneer Kolbe die bal gevang het, is dit reeds te laat om hom hard te lak. Gaan kyk replays van sy spel ou tjom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.