Kolisi: ‘As kinders het ons van hierdie toetse gedroom’

Die klipharde Malcolm Marx speel vandag in sy 50ste toets vir die Springbokke. Foto: AP Photo/John Cowpland

Die Springbokke en die All Blacks was al in 101 toetse slaags waarvan die Kiwi’s 60 keer as oorwinnaars van die veld gestap het en die Suid-Afrikaners 37 keer. Dan was daar ook vier gelykop uitslae.

Hoewel Siya Kolisi se span verlede jaar met die Nieu-Seelanders in Australië klaargespeel het, kon hulle die All Blacks laas in 2014 in Suid-Afrika klop.

Dit is tyd om weer vir ’n slag op hul tuisveld te wen en vanmiddag se toets op die Mbombela-stadion is die perfekte geleentheid om presies dit te doen.

En die Springbokke het nie Eskom nodig om hul motiveringsbatterye vir ’n wedstryd teen die All Blacks te laai nie.

“As kinders het ons van hierdie wedstryde gedroom en daar was nie plek vir ’n muis voor die televisie wanneer die Springbokke teen die All Blacks gespeel het nie,” het die Springbok-kaptein gesê.

Volgens Kolisi is die 23 spelers in die span oorgehaal om hul beste teen hul aartsvyande te lewer.

“Die All Blacks is ’n span wat net nie ophou rugby speel nie en dit sal ’n goeie vertoning vir die volle 80 minute verg om hulle te klop. Hulle het goeie spelers in die opdrafspan sowel as op die plaasvervangersbank en ons sal moet aanhou glo en baklei; maak nie saak wat die telling mag wees nie.”

Hy steur hom terselfdertyd ook nie veel aan die mediaberigte wat beweer dat die Springbokke die gunstelingspan is om die wedstryd te wen nie.

“Ons het nie beheer oor wat alles in die All Blacks-kamp gebeur nie, maar ons het wel beheer oor die dinge wat ons doen; veral wat voorbereidingswerk betref. As ’n eenheid moet ons planne uitwerk want ons speel teen ’n ongelooflike span.”

Die wedstryd begin vanmiddag om 17:05 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Malcolm Marx (haker) en Trevor Nyakane (stut). Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Salmaan Moerat, Franco Mostert, Kwagga Smith, Jaden Hendrikse en Willie le Roux.

All Blacks: Jordie Barrett (heelagter), Will Jordan (regtervleuel), Rieko Ioane (buitesenter), David Havili (binnesenter), Caleb Clarke (linkervleuel), Beauden Barrett (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Ardie Savea (agtsteman), Sam Cane (kaptein en flank), Akira Ioane (flank), Scott Barrett (slot), Sam Whitelock (slot), Angus Ta’avao (stut), Samisoni Taukei’aho (haker) en George Bower (stut). Plaasvervangers: Dane Coles, Ethan de Groot, Tyrel Lomax, Tupou Vaa’i, Shannon Frizell, Finlay Christie, Richie Mo’unga en Quinn Tupaea.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.