Kolisi – Bokke het begrip vir frustrasie

Volgens Siya Kolisi het die Springbokke begrip vir hul ondersteuners se frustrasie. Foto: Brenton Edwards/AFP.

Ná twee agtereenvolgende nederlae in die Rugbykampioenskap het die frustrasievlakke van baie Springbok-ondersteuners die hoogte ingeskiet.

Spankeuses is bevraagteken en hande is vies in die lug voor die televisie gegooi wanneer nóg ’n belowende geleentheid deur swak afrondingswerk in die wiele gery is. Om nie eens van die alewige geskoppery te praat nie.

En volgens Siya Kolisi het sy span beslis begrip vir die ondersteuners se frustrasie.

“Ons aanvaar dit volkome dat hulle omgekrap is. Ons ervaar dieselfde frustrasie en ons wil hulle versoek om nie moed te verloor nie. Ons het baie hard tydens ons oefensessies gewerk en ons sal ons beste hierdie naweek gee,” het die Springbok-kaptein gesê.

Volgens Kolisi wil die span so bestendig as moontlik wees terwyl hulle met baie meer intensiteit in die openingsalvo wil speel.

Net soos ’n paar weke gelede teen die All Blacks op Ellispark moes die Springbokke ook verlede Saterdag inhaalrugby teen die Wallabies speel.

“Ons het in Adelaide baie geleenthede deur ons vingers laat glip en dit maak beslis seer. Ons het hand in eie boesem gesteek en ons moet doodeenvoudig net beter rugby speel want anders is ons uit die Rugbykampioenskap-wedloop.”

Hy is egter opgewonde oor Canan Moodie se insluiting. Die 19-jarige agterspeler van die Bulls sal Saterdag sy Springbok-buiging in die no. 14-trui maak.

“Dit was wonderlik om te sien wat hy teen die Sharks in die kwarteindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap op die veld gedoen het. ’n Mens sou byvoorbeeld glad nie kon sê dat hy onlangs nog op skool was nie .”

Jacques Nienaber, die afrigter, het vroeër gesê dat die Springbokke die kragmeting as ’n eindstryd sal benader en dat hulle desperaat is om te wen.

Tog sukkel die Suid-Afrikaners weg van die huis teen die Wallabies en hulle kon in 2013 laas ’n wedstryd in Australië wen.

Die aksie begin Saterdag om 11:35 en oudergewoonte sal die aksie regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Damian Willemse (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Franco Mostert (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Malcolm Marx (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Deon Fourie, Ox Nché, Trevor Nyakane, Kwagga Smith, Duane Vermeulen, Cobus Reinach, Frans Steyn en Warrick Gelant.

Wallabies: Reece Hodge (heelagter), Tom Wright (regtervleuel), Len Ikitau (buitesenter), Hunter Paisami (binnesenter), Marika Koroibete (linkervleuel), Noah Lolesio (losskakel), Nic White (skrumskakel), Rob Valetini (agtsteman), Fraser McReight (flank), Jed Holloway (flank), Matt Philip (slot), Rory Arnold (slot), Allan Alaalatoa (stut), Folau Fainga’a (haker) en James Slipper (kaptein en stut). Plaasvervangers: David Porecki, Scott Sio, Taniela Tupou, Darcy Swain, Rob Leota, Pete Samu, Jack Gordon en Andrew Kellaway.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kobus ·

Mens gee nie om indien julle verloor nie mnr Kolisi maar hoe julle verloor maak ons moedeloos. Julle het een spelpatroon en buig of bars , julle hou daarby. Geen plan B nie, geen kreatiwiteit nie. Ons vleuels kry net die bal as hulle dit biute die veld na ‘n skop van die opposissie optel. U praat ook te min met die skeidsregters tydens twyfelagtige besluite. Nee wat, die betaling is goed , maak nie saak hoe swak die werk is nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Kekkelbek kaptein is ook nie ‘n bron van vertroue nie.

vuurvliegie ·

Ek het nog noot van ‘n rugby speler gehoor wat bedank nie.
Die tyd is ryp dat ‘n paar Bok spelers en die afrigter moet bedank. Dis al hoe die huidige Bok rugby probleem opgelos kan word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Terwyl Kolisi sweet vir sy land is vroulief Rachel besig om die land se probleme op te los by ‘n konferensie in Sandton. Die land is werklik geseënd met hierdie “power couple.” Hulle moet sommer Eskom oorneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.