Kollig op Suid-Afrikaners in VSA-kwarteind

Die kollig val Saterdag op verskeie Suid-Afrikaners wat aan die kwarteindronde van die Amerikaanse nasionale rugbykampioenskap deelneem.

Die kwarteindstryde word in ʼn Oostelike afdeling op Founders Field in Pittsburgh, Pennsylvania, en ʼn Westelike afdeling op die Kino-sportsentrum in Tucson, Arizona, afgehandel.

Die halfeindstryde volg Sondag onmiddellik daarna, en die drie ligas se eindstryde word vroeg in Junie beslis.

Loffie Eloff en sy twee handevol soldate met Suid-Afrikaaanse wortels, wat die Red River-liga gewen het, speel in Tucson in die Nasionale Eerste Liga teen San Francisco Golden Gate, die wenner van die Stille Oseaan-noordkusliga (SONL).

Eloff beskik oor spelers soos Zinzan Elan-Puttick (heelagter), Martin Knoetze (senter), Michael Reid (skrumskakel), Kyle Breytenbach (slot), Deon Minnaar en Hanco Germishuys (losvoorspelers) en sy afrigtingspan sluit Danie de Villiers, Pedrie Wannenburg en JP de Wet in.

Die ander halfeindstryd in Tucson is tussen Belmont Shore, die wenner van die Stille Oseaan-suidkusliga, en Life West Gladiators, naaswenner van die SONL.

In Pittsburg speel die Chicago Lions (Middeweste) teen Rocky Gorge (Middel-Atlantiese Kus); en New York Athletic (Noord-Atlantiese Kus) teen Mystic River, die verdedigende nasionale kampioen, wat vanjaar derde in die Middel-Atlantiese Kusliga was.

Die gebore Pretorianer JP Eloff, wat toetsrugby vir Amerika speel, is Chicago se troefkaart met sy gevaarlike en rigtinggewende aanvallende spel, en sy vermoë om verder as 50 m pale toe te skop.

ʼn Oud-Puk, Frikkie de Beer, sak op loskopstut vir die Lions.

Terloops, JP Eloff se se broer Tabu het eweneens vir die Chicago Lions gespeel, en twee Springbok-afrigters, Kitch Christie en Harry Viljoen, en die Bok-haker Willie Kahts het bande met die klub gehad.

Mystic River beskik op losskakel oor die diens van ʼn gewese Ikey, Dylan Lubbe, wat etlike jare vir die Amerikaanse Kollegespan gespeel het.

In die Nasionale Tweede Liga kan die gewese SA Skole- en Matie-haker, Neethling Gericke ʼn belangrike rol vir Life Running Eagles in sy kragmeting teen Morris Lions speel. Hy is nie net ’n hulpafrigter nie, maar een van sy voorste puntemakers.

Die klub kan ook op die knoppie van die broers Duncan en Zander van Schalkwyk van die Oos-Rand af druk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.