Kom Brasilië in die Curriebekerreeks speel?

Brasilië is van plan om ʼn rugbyfranchise op die been te bring wat aanstaande jaar in die Suid-Afrikaanse Curriebekerreeks kan speel.

Portal du Rugby, ʼn Brasiliaanse rugbywebwerf, berig Agustin Danza, die Brasiliaanse Rugbykonfederasie (CBRu) se hoof- uitvoerende beampte, het Woensdag dié plan by die liggaam se jaarlikse borgsaamtrek bekend gemaak het.

Hy het gesê niks tasbaars is sover in dié opsig bereik nie, maar die moontlikheid is nie uitgesluit nie.

Danza het verwys ná die Argentynse Pampas-vyftiental wat van 2010 tot 2013 in die SA reeks om die Vodacombeker gespeel, en dit in 2011 gewen het; en bygevoeg dat die Jaguares wat nou Superrugby speel uit die Pampas-vyftiental ontwikkel het.

Portal du Rugby verwys nie daarna nie, maar daar is vroeër in die media berig dat Brasilië een van die lande is wat Sanzaar in die oog het met sy beplande uitbreiding van die Superrugbyreeks. Intussen het dié liggaam aan die reeks begin snoei, en dis onseker waar Brasilië nou in dié opsig staan.

Danza het wel gemeld dat Brasilië teen 2023 deel van die toernooi om die Wêreldbeker wil wees.

Die berig verwys daarna dat die 15 spanne in die SA Supersportreeks vanjaar ná afloop daarvan vir die reeks om die Curriebeker in twee verdeel is, met sewe spanne in die Premierliga en agt (insluitend ʼn span van Namibië) in die Eerste Liga, en dat die bonde se Superrugbyspelers aan dié reeks deelneem.

Luidens die berig is die formaat vir 2018 nog nie bekend nie, en is dit veral vanweë die Cheetahs en die Kings se deelname aan Pro14-reeks nog onseker.

Dis blykbaar hier dat die Brasiliane ʼn gaping sien.

Die Tupis, soos die nasionale span bekend staan, is 29ste op Wêreldrugby se ranglys, en was vroeër vanjaar vierde in die Amerikas-rugbykampioenskap – ná Amerika, die Argentynse Vyftiental en Uruguay – en het bo Kanada geëindig.

Twee Suid-Afrikaners, Beukes Cremer (skrumskakel) en De Wet van Niekerk (vleuel), het in die jongste tyd toetsrugby vir Brasilië gespeel, en Devon Muller (flank) vir die land se o.20-span.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veritas ·

SARU se planne word nie behoorlik deurdink nie. Ons stadions is leeg a.g.v die afgewaterde rugby wat ons sien en hulle wil dié probleem oplos deur ‘n span wat nóg swakker is, te laat deelneem. Asof dit enige oplossing gaan bied vir die toestand waarin SA rugby homself tans bevind. Niemand is so blind soos dié wat nie wíl sien nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.