Kom huil maar op my skouer, sal Jake White kan sê

jake-white

Jake White – wen was vir Saru nie genoeg nie

Ek wonder wat het Jake White Vrydagoggend in Montpellier gedink toe hy die Franse dagblaaie oopgemaak het en televisienuus gekyk het.

Dit moes vir hom ook ʼn groot skok gewees het toe hy gehoor het dat Leicester City se sokkerbase hul Italiaanse afrigter, Claudio Ranieri, die deur gewys het, want sy kontrak is verlede jaar met nog vier jaar verleng.

Hoe is dit moontlik dat iemand wat slegs 299 dae gelede die klub tot sy grootste triomf sedert 1884 gelei het toe die Foxes die eerste keer die Engelse Premierliga gewen het; wat as Fifa (die Internasionale Sokkervereniging) se afrigter van 2016 aangewys is; as die Engelse Premierliga se afrigter van die jaar vereer is; wat as Italië (hoewel hy in Engeland afgerig het) se afrigter van die jaar aangewys is; en wat slegs twee weke gelede ʼn Laureus-eerbewys ontvang het en een van die hoogste ordes by die Italiaanse regering ontvang het, die kluts kan kwytraak …?

Of altans, só dink die Leicester City-sokkereienaars.

Onder Ranieri het Leicester 36 van sy 81 wedstryde gewen, 22 het gelykop geëindig en die Foxes het 23 verloor. Dis ʼn wenpersentasie van 44% (en ʼn verloorpersentasie van slegs 28% ).

Maar daar heers paniek, want die klub is vierde laaste op die jongste puntelys en loop die gevaar om afgeskuif te word tensy die span weer op die wenpad kom.

White sal simpatie met Ranieri hê, want hy is ondanks die Bokke se sege in die Wêreldbekertoernooi  in 2007 nie weer as Bokafrigter aangestel nie.

Ja, White was nie gewild nie en hy het nie sy mond gehou nie, maar is daar nie twee kante van elke saak nie?

Hy het immers die Drienasiestoernooi in 2004 gewen, het die All Blacks drie keer in nege toetse geklop, Engeland in vyf van sewe toetse verslaan en was onoorwonne teen Wallis, Argentinië en Skotland.

In sy laaste jaar was sy wenpersentasie 82% en sy algehele wenpersentasie staan op 67% (36 oorwinnings in 54 toetse).

Dis hoekom dit steeds ʼn raaisel is dat daar nog geen besluit oor Allister Coetzee se toekoms as Bokafrigter geneem is nie. Is vier oorwinnings in 12 wedstryde (25%) goed genoeg?

Dit sou beslis nie by Leicester gebeur het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos ·

Ons weet teen die tyd al daar is altyd twee stele reels. White se profile en europese agtergrond plaas hom nie in die seelfde katagorie as die van die ander wat op BEEEE status kan aandring nie.

Lee ·

Die BESTE is nie altyd goed genoeg nie. Natuurlik is hy ook nie die regte skakering vir die posisie nie. Dieselfde gaan vir die spelers.

zahn ·

Jake se afrigting was ook onoorwonne deur japan…
Ons kan gerus vir hom en Eddie Jones weer nader skraap. Ons span kort goeie afrigters en geen politiek.

Gert ·

Net so Koos ! Ek sien weer donker wolke vir ons Bok span die jaar .

Gatvol ·

Ons weet mos nou al teen die tyd dat dit nie gaan oor die beste afrigter aan te stel of beste span te kies nie. As jy die Bokke wil afrig, gaan dit oor hoe aanpasbaar is jy om na politici se pype te dans en hoeveel “benadeelde spelers” jy vir die span gaan kies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.