Kom kyk rugby en kry `n pastei!

Illustrassie: Oscar's Meat Pie Shack.

Illustrassie: Oscar’s Meat Pie Shack.

Die Australiërs is baie lief vir hul vleispasteie, so lief dat die Brumbies dit as `n lokmiddel sal gebruik om meer toeskouers deur die hekke te laat stroom vir Vrydagaand se Superrugby-kwarteindstryd tussen die Brumbies en Highlanders in Canberra.

Dié “opperplan” behels om 2 000 gratis pasteie aan die eerste 2 000 toeskouers te gee. En as verdere bonus word daar (beperkte) gratis parkering aangebied.

Jare gelede toe Eddie Jones nog die Brumbies afgerig het en Stephen Larkham, Joe Roff en George Gregan gespeel het, wou bitter min spanne daar speel, want hulle is gewoonlik voor 18 000 rasende ondersteuners met die kous oor die kop huis toe gestuur. Dit was wenrugby en die Brumbies het jou deumekaar genael. Fase ná fase, binne toe, buite toe, outydse skêrbewegings sonder om te skop of die bal aan te slaan.

Maar deesdae is dit verbeeldingloos, die Aussies het nou ook geleer van skop, storm en dryfmaal en dan die bal aanslaan … vleispasteie moet die ding doen, nie Matt Toomua of Christian Lealiifano nie.

Net soos al die Australiese franchises (en voeg sommer ook baie Suid-Afrikaanse bonde daarby) trek die Brumbies noustrop wanneer dit by geldsake kom.

Daar was slegs 9 830 toeskouers toe die Brumbies twee weke gelede teen die Reds gespeel het en  9 387 toe die Brumbies die Force geklop het. Kan ‘n mens die toeskouers kwalik neem?

Daar was voorheen al baie ondernemende entrepeneurs wat opperplanne uitgedink het om deelnemers en toeskouers na byeenkomste te lok.

In Londen word daar die die jaarlikse gorilla-padwedloop gehou, waar die deelnemers gorilla-pakke moet aantrek. Altesame 600 “gorillas” het aangetree en vir 58 Britse pond (meer as R1 000) kry jy `n gehuurde pak.

In Norfolk is daar in 2012 aan die “vierpond-burgeruitdaging” deelgenem. Deelnemers moes kyk wie `n burger, wat bestaan het uit vleis gelykstaande aan 16 plat frikkadelle (dis darem die dun soort wat jy by die kitskos-wegneemplekke) kry, kon verorber. Dis nodeloos om te sê, net een van die 59 hongeres kon dit regkry. `n Rugbyspeler Paul Bridges, het die burger in `n tyd van 57 minute en 31 sekondes verorber. Nou word daar darem met `n “tweepond-burger” meegeding.

Maar ai, as ‘n mens nou al toeskouers met vleispasteie moet lok, is daar duidelik dinge wat lol.

Kom ons wees eerlik, die gehalte van die spel het agteruitgegaan, en daar word te veel rugby op televisie vertoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.