Kom nou, Suidelike Halfrond, steek lekker tong uit

Dis glad nie moeilik om die All Blacks, Springbokke, Wallabies en Poemas voor ʼn rugbytoetswedstryd in die Rugbykampioenskap op te sweep nie.

Veral nie as ʼn Britse rugbyskrywer dit namens jou doen en al die nodige skietgoed op ʼn skinkbord verskaf nie.

Dis presies wat Stephen Jones Sondag in die Londense Sunday Times gedoen het deur na die Rugbykampioenskap as die tweede vlak van wêreldrugby te verwys.

Hy staaf dit met die wêreldranglys en sê “daai sagte Suide sal eendag bykom”.

Kom, vertel dit vir Eben Etzebeth, Duane Vermeulen, Malcolm Marx, Sam Whitelock, Brodie Retallick, Sam Cane en Agustin Creevy en tientalle ander.

Jones het ná verlede week se Superrugby-eindstryd reeds geskimp dat die Crusaders, wat die Lions in die eindstryd geklop het, nie sal kan kers vashou by Saracens, Montpellier en Leicester nie.

Ja, niemand kan daarteen stry dat Ierland tweede, Wallis derde en Engeland vierde op die ranglys is nie.

Maar hoe ver het Engeland nou weer die reeks van drie toetse in Junie teen die Springbokke (wat sesde is) gewen?

Hoekom vry die Europese klubs só na spelers van “sagte” Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Samoa, Tonga, Fidji, Australië en Argentinië?

Hoeveel keer het lande van die Noordelike Halfrond al die Wêreldbekertoernooi sedert 1987 gewen?

As ek reg tel, nog net een keer, in 2003 toe Engeland dit reggekry het.

En die Suidelike Halfrond? Nieu-Seeland drie keer, Suid-Afrika en Australië albei twee keer.

Hoeveel keer het Ierland al in die halfeindronde of in ʼn eindstryd gespeel? Nul, meneer Jones, nul.

En hoeveel keer was Wallis en Skotland al in ʼn eindstryd? Nul meneer, nul.

Hoekom rig ʼn Australiër Engeland af?  Hoekom word daar na John Mitchell gevry?

Hoekom rig twee Nieu-Seelanders vir Ierland en Wallis af?

Hoekom is daar al soveel spelers van Suid-Afrika vir toetsspanne van die Noordelike Halfrond gekies?

Wat sal met die Noorde se klubrugby gebeur as die meer as 300 Suid-Afrikaanse spelers wat in Europa speel, ewe skielik onttrek word? En wat van die menigte Nieu-Seelanders, Kiwi’s, Australiërs, Samoane, Tongane, Fidjiane en Argentyne?

Dis hoekom daar nou nóg minder gesê hoef te word voor Saterdag se eerste toetse in vanjaar se Rugbykampioenskappe tussen die Wallabies en All Blacks in Sydney en die Bokke en die Poemas in Durban.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wesley ·

Dit is net n klomp opsweep vir klieks en vir hierdie skrywer om net op te kom met sy terugveg artikel. Moet jouself nie daaraan steur nie. Hoort soveel ingelees daarop te word soos die hondjies en blommetjies patroon op n rol toiletpapier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.