Kom ons bêre gou maar die sege oor All Blacks

Daar was niks daarmee verkeerd om die swartgalligheid vir ’n paar dae eenkant toe geskuif het en heerlik te baai in die Springbokke se oorwinning van 36-34 oor die All Blacks Saterdag in Wellington nie.

Hoe gouer ons egter na die werklikheid terugkeer, des te beter.

Kom ons neem niks weg van die Bokke se oorwinning nie, kom ons onthou die res van ons lewens hoe hulle die All Blacks se aanslae afgeweer het, hoe hulle vyf drieë gedruk het, hoe hulle meer as 220 duikslae uitgevoer het om die All Blacks die eerste keer sedert 2009 in Nieu-Seeland te kon klop; hoe hulle met net 25% besit kon wen.

Hoekom dit dan op die rak plaas?

Woensdag was dit die “herdenking” van die slag van Brighton, presies drie jaar gelede, toe die Bokke een van hul grootste skandes nóg gemaak het toe hulle met 34-31 deur Japan in hul eerste wedstryd van 2015 se toernooi om die Wêreldbeker getroef is.

Ja, daar was ook die nederlae van 0-57 teen die All Blacks in Albany (2017), 3-53 teen Engeland op Twickenham (2002), 0-49 teen die Wallabies in Brisbane (2006), 3-38 teen Ierland in Dublin (2017) en (wie onthou nog?) toe die Bokke in 1982 met 12-21 teen die Suid-Amerikaanse Jaguars in Bloemfontein vasgeval het?

Maar die Japanse tragedie het die diepste letsels gelaat.

Dit was ’n baie goeie Springbokspan wat uitgedraf het, onder andere, Bryan Habana, JP Pietersen, Jean de Villiers, Jesse Kriel, Pat Lambie, Ruan Pienaar, Beast Mtawarira, Bismarck en Jannie du Plessis, Victor Matfield, Lood de Jager, Pieter-Steph du Toit, Schalk Burger, Francois Louw in die opdrafspan met Handré Pollard, Fourie du Preez, Adriaan Strauss, Coenie Oosthuizen en Eben Etzebeth op die bank.

Op papier glo ek hulle was beter as Rassie Erasmus se span wat Saterdag gespeel het, maar steeds het hulle slae gekry.

Dit wys nou net (soos die ou geykte uitdrukking dit stel): Jy is net so goed “soos in jou laaste wedstryd”.

Jy kan die beste span in die wêreld wees, jy kan die wêreldrekord vir die meeste agtereenvolgende oorwinnings hou, as dinge die dag met jou verkeerd loop, gaan jy afgetrek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Robert ·

Behalwe vir jou laaste paragraaf kan ek regtig nie agterkom wat jy nou eintlik wil sê. Skryf ‘n slag nuwe goed en nie oor goed wat ons al klaar weet nie. Laaste ding: ons sal oor die sege oor die AB’s rave so lank as ons kan want dit gebeur min en dit maak soet soveel lekkerder. Die AB’s is arrogant n hulle moet aarde toe kom!

Veritas ·

Ons moet net in gedagte hou dat die All Blacks nie soos gewoonlik gespeel het nie. Hulle het ‘n afdag gehad en dit het die Bokke laat goed lyk. Op enige ander gegewe dag sou dinge baie anders verloop het. Hou maar dop wat gebeur op Loftus.

ac ·

Daar is glad niks ‘n ding soos afdag nie sport is sport op daardie spesifieke dag en wen is wen-verloor is verloor.

Robert ·

Die Bokke het gespeel sodat die AB’s gevoel het hulle het ‘n afdag. Die arrogansie het bietjie te veel geword.

Oom Piet ·

Dit wil vir my voorkom of sommiges ‘n slagting verwag op Loftus, ek wonder wie gaan aan die kortste end trek.

ChrisE ·

‘n Lelike wen is altyd lekkerder as ‘n mooi verloor. Enige wen teen die All Blacks is soet. Ons moet teen hulle speel in stadions soos bv in Kimberley, Potchefstroom, Witbank of enige ander veld waar die gras in die winter lekker droog en die oppervlakte solied is. Laat die manne voel hoe dit is om in Suid Afrika rugby te speel. Ek het al op velde gespeel waar ek dink gesnyde gras voor die wedstryd gestrooi is. Ek het ook al op “rugbyvelde” gespeel waar daar nie gras op is nie maar sand. Ons bederf die besoekers. Die groter unies sal natuurlik daaroor tjank want hulle soek mos geld.

Lol ·

ChrisE-Ons huidige spelers is opgepiep en sal meer as die opponente kla oor die toestande.

Peta ·

Om die All Blacks op hulle tuisveld te wen is verseker n wedstryd om lank te onthou.Hulle kan se net wat hulle wil maar dit het seergemaak.Op n vol Loftus gaan dit nie maklik wees nie,daarom voorspel ek nog n “close” game soos Saterdag was.

Gerhard Olivier ·

Die All Blacks is n goeie span omdat elkeen van hul spelers n bal ordentlik kan uitgee. Ons sal sal vir Willie Le Roux baie mis omdat hy goeie hande en visie het. Wat my aanbetref is hy en Diante ons bestes . Hulle sal ook moet plek kry vir Kwagga Smith.Ek verstaan nog steeds nie hoe ons skrum sonder die drie losvoorspelers nie. Is 8 nie beter as 5 in n skrum nie?

LHS ·

Was vir my ook lekker ongelukkig gaan ons dit nie gou weer beleef nie, indien ooit.Solank daar nie n werklike uitstaande kaptein op die veld is nie sal ons nooit weer so gelukkig wees nie. Wat het Kolise by die Stormers beteken in die superreeks, absoluut niks. Nie as speler nie en nog minder as kaptein.Rassie moet sy politieke base tevrede stel, ek verstaan dit maar verander niks aan die realiteite nie. Die AB is verneder voor hulle eie mense en dit voorspel niks goed vir ons onbestendige spannetjie nie. Ek kry die werklike verdienstelike spelers baie jammer, ook die wat moet plekmaak vir spelers wat na meer as 20 jaar van demokrasie steeds nie goed genoeg is om self in spanne te kom nie. Belaglik.

Rinkhals ·

LHS – stem saam met jou. Die Franse klop die Blacks elke 7-10 jaar. Was hulle al wereld kampioene? Nee. Was hulle die afgelope 20 jr bo die Blacks op die wereld ranglys ? Nee. So selfde span wat huidiglik laer as die bontebokke gereken word klop die Blacks elke nou en dan. Help nie ons word bly oor een wen elke 10 jr nie maar ons ploeter voort tussen 5 en 10 op die ranglyste nie. 1995 en 2007 wereldbeker wenners het nie kwota afrigter of spelers gehad nie. Die spelers het die trui gedra op verdienste.

Frans C ·

Die Bokke het gewen omdat hul die kanse wat hul gekry het beter benut het as die
All Blacks,wat die wedstryd met al die balbesit nie kon deurtrek nie. Feit is met beter
skopwerk sou hul dit kon gemaak het,maar geloukkig vir die Bokke en ons het Barrett
‘n afdag beleef en kon die Bokke met verbete verdediging ‘n oorwinning agter hul naam
skryf.

Gaan die All Blacks terugkom.Verseker -maak jou reg vir ‘n aanslag soos min.

ACJ ·

Robert dis net soos jy daar sê die bokke het hulle getrap laat dit vir hulle voel dis hulle afdag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.