Kommer in Wallaby-kamp oor twee beseerde sterre

David Pocock en israel Folau – kommer in die Wallaby-kamp oor hulle beskikbaarheid. (Foto: PresWord)

Saam met hul afwagting oor wat Rassie Erasmus beplan vir Saterdag se Rugbykampioenskap-toets teen die Wallabies in Brisbane, is daar in die Australiese kamp kommer oor hul beseerde spelers.

Dit is moontlik dat hulle selfs teen spanaankondiging Donderdagoggend nog nie sekerheid oor hul twee voorste spelers se beskikbaarheid vir die toets sal hê nie, want Israel Folau en David Pocock was Woensdagmiddag (hulle tyd) nog onseker of hulle betyds vir die toets fiks sal wees.

Dié twee het teen Woensdagoggend slegs ʼn 50/50-kans gehad om vir die toets gereed te wees, aldus die Sydney Morning Herald op sy webtuiste.

Folau het Maandag en Dinsdag steeds nie kontakoefening gedoen nie. Hy het ʼn spiertjie in sy enkel in die eerste Rugbykampioenskap-toets teen die All Blacks geskeur.

Pocock het ʼn nekbesering in die tweede toets teen Nieu-Seeland opgedoen ná die All Blacks-stut Owen Franks ʼn “nekrol” op hom uitgevoer het.

Daar is ook kommer oor die plaasvervanger-skrumskakel Nick Phipps se ribbesering in ʼn klubwedstryd die afgelope naweek; en die sterk stut Taniela Tupou, wat uitgesproke dreig om die Bokke se skrum “soos ʼn swaar hamer” te tref, sukkel nog met ʼn dyspierbesering wat hoogs waarskynlik nie betyds vir die toets sal herstel nie.

Dit word verwag dat die Wallabies se afrigter Michael Cheika in elk geval vir Folau, Pocock en Phipps in die groep vir die toets sal kies en die span na gelang van hul fiksheid sal finaliseer.

Veral Folau, wat slaankrag van heelagter aan die agterlyn verskaf en Pocock se vaardigheid by die afbreekpunte, is vir die Wallabies onontbeerlik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kiewiet ·

Die Wallabies sal nog steeds die toets wen al speel hulle beseerde spelers nie

Rupert Ashford ·

Folau miskien, maar ek dink Pocock moet vir lang rehabilitasie gaan met daardie nek – hy soek moeilikheid om te vinnig weer te speel.

Haas ·

Kiewiet ek stem nie saam nie, al die tekens dui daarop dat Rassie baie skommels gaan maak. Almal tot ‘n positiewe van die span. Ek glo ons sal die wedstryd met tenminste 12 punte wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.