Kommer oor dissipline in KZN se klubrugby

sharks-club-rugbyKommer oor die voorseisoense dissipline in KwaZulu-Natalse klubrugby word vandeesweek in die bond se gereelde klubnuusbrief uitgespreek.

Wedstryde by Harlequins se jaarlikse Ronnie van Rooyen-gedenkklubdag het volgens Jos Robson, die skrywer van die nuusbrief, te veel ontoelaatbare spel en talle geel kaarte vir hoogvatte opgelewer.

Hy sê die skeidsregters het die nuwe hoogvatreël uiters streng toegepas, maar dis dalk goed sodat sake voor die liga begin reggestel kan word.

Luidens die nuusbrief moet ook vuilspel en kantlynjouery, soos by die rugbydag voorgekom het, uitgeroei word voor die ligaseioen op 25 Maart afskop.

Die wedstryd tussen Durban Collegians en Crusaders van Northwood “kan ten beste as `n geveg eerder as `n wedstryd bestempel word”, word berig.

Collegians het die wedstryd met 40-21 gewen.

Die Eerste Ligaklub, Hillcrest het vir `n reuseverrassing gesorg deur die Premierligaklub Jaguars van Sydenham met 53-12 te verniel.

Die ontwikkelingsklub Kwantu se sege van 26-15 oor `n Centurion-vyftiental word ook in `n positiewe lig beskou, al was die Carltonkampioen se eerste, tweede en o.21-span Saterdag in die Noorderbonde se Assupolreeks in aksie.

newcastle-highlanders-logo-300x237Nuwelinge stel Newcastle gerus

♦ `n Klompie nuwelinge het Boschpick Newcastle Highlanders Saterdag gerusgestel met hul vertonings teen Standerton by Piet Retief se rugbydag.

Die klub se eerste span het met 40-21 en die tweede met 34-20 gewen.

André Swanepoel, Newcastle se hoofafrigter, sê Standerton het goed weggespring en sommer vining twee drieë gedruk om met 14-0 voor te loop.

“Newcastle het gaandeweg sy ritme gevind en gewys hy is lus om die bal so vinnig moontlik by sy blitsige buite-agterspelers te kry.

“Die voorspelers het hard gewerk om goeie, vinnige besit te bewerkstellig vir die agterlyn om mee te speel, en Highlanders het met elke strafskop in Standerton se gebied ná tikskoppies die bal onmiddellik by die vleuels uitgekry.

“Die hoë tempo het sy tol van Standerton geëis, en Highlanders het rustyd met 21-14 voorgeloop.”

Swanepoel sê daar was foute, maar Newcastle het as span `n doelwit gestel dat hy tevrede sou wees as hy vir 60 minute voluit kan speel, en die spelers het dit gehaal.

“Die voorspelers het puik geskrum en die lynstane was eweneens goed. Net twee balle is in dié afdeling verloor.

“Die 19-jarige Ruan Fourie (agsteman) het gewys hy kan op dié vlak speel, en is as Highlanders se beste voorspeler aangewys.

“Dit is verblydend dat hy die mas opgekom, en kommer oor dié posisie ná die vertrek van die span se gereelde kaptein, Errit Visser, uit die weg geruim het.

“Mthoko Nkwanyana (haker), skaars 20, het baie goed gevaar. Hy was baie woelig in die algemene spel en het die lynstane sekuur gevoer.”

Sterk hardloper

Swanepoel sê Corné Vermaak (buitesenter) is `n aanwins vir die klub – rotsvas op die verdediging en `n sterk hardloper.

“Shaun Smith (linkervleuel) is nog `n nuweling wat veral met sy werkverrigting en vaart beïndruk het.

“Die blitssnelle Brian Buthelezi (regtervleuel) het met sy twee drieë geskitter, en met `n puik optelslag en goeie aangee `n drie vir Senzo Ntshele (buitesenter) geskep.

“Ntshele, insgelyks `n groentjie, het die bal knap versprei en uitmuntende ondersteunende spel gelewer.”

Newcastle se drieë is deur Buthelezi (twee), Smith, Ntshele, Shile Ngloung (slot) en Janri Barnard (flank) gedruk.

Alex Booysen (losskakel) het goed geskop en met vyf doelskoppe geslaag, twee daarvan van die kantlyn af.

Swanepoel sê die span werk in vriendskaplike wedstryde eerder aan sy fiksheid deur van strafskoppe in die teenstanders se gebied af met die bal te hardloop, en in eie gebied kantlyn toe te skop om aan sy lynstaanwerk te skaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.