Kondors en Alligators met sewentigtalle oorval

Met sewentigtalle teen hulle aangeteken, was dit glad nie ʼn goeie Saterdag vir Chili se Kondors en Paraguay se Alligators op die rugbyveld nie.

Die toerspan van die Nieu-Seelandse Maori’s het Chili in Santiago met 73-0 verpletter; ʼn besoekende Suid-Amerikaanse Vyftiental het Paraguay in Asunción met 75-22 verniel.

Dit was duidelik dat daar nog baie water in die see sal moet loop voor dié twee Suid-Amerikaanse lande selfs op die tweede vlak van wêreldrugby sal kan saamgesels.

Die Kondors het skaars ʼn kwartier teen die Maori’s stand gehou voor hulle met skouspelagtige rugby van die veld af gevee is.

Die wenspan het 11 drieë gedruk, drie daarvan deur die flank Mitch Harpik, en die losskakel Otere Black het 14 punte met sewe doelskoppe behaal.

Die Suid-Amerikaanse span, saamgestel uit spelers van Argentinië, Uruguay en Columbia, het insgelyks 11 drieë gedruk, waarvan Domingo Miotti tien verdoel het om 20 punte aan te teken.

In teenstelling met die Maori’s het die wenspan in hierdie geval in die eerste kwartier al vier keer gaan druk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.