Kondors en Kiewiete kom tot ʼn val

Dit was nie die Kondors en die Kiewiete se naweek op die rugbyveld nie.

In Santiago, Chili, het ʼn Suid-Amerikaanse Vyftiental die tuisspan met 38-21 verslaan (rustyd 17-7); en in Belfast, Noord-Ierland, het die Ierse provinsie Ulster met 21-5 teen Uruguay gewen (rustyd 14-0).

Die wedstryd teen die Suid-Amerikaners – Argentyne, Uruguayane en Colombiane – was ter voorbereiding van die komende kragmeting teen die Nieu-Seelandse Maori’s, en die Kondors sal gewis die hulp nodig hê van meer van hul oorsese sterre as wat Saterdag beskikbaar was.

Hoewel Chili vroeg in die tweede helfte met 21-17 voor was, het die gekombineerde span meestal die oorhand gehad, en was daar nooit juis twyfel oor die uitslag nie.

♦ Op ʼn papnat Kingspan in Belfast is Uruguay se wenkans byna onmiddellik ná die afskop beduiwel toe sy uitblinkerhaker, Germán Kessler, beseer is, en die onervare Manuel Ardao, ʼn flank wat na haker wil omskakel, by hom moes oorneem.

Die besoekers se skrum het nooit juis behoorlik gefunksioneer nie, en hulle het ook nie heeltemal raad met die Iere se vernietigende dryfmaalbewegings gehad nie.

Uruguay het egter nooit moed opgegee nie, en het kort voor die blaas van die eindfluitjie seker gemaak dat hy ook die telbord haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.