Kontinuïteit is Steve se wagwoord

Engeland se Steve Borthwick. (Foto: Andrew Cowie/Colorsport/DPPI via AFP)

Ja, hy moes magteloos toekyk hoe sy span ʼn voorsprong van tien punte teen Skotland in Edinburgh wegsmyt, terwyl Duhan van der Merwe se drie drieë ook moes seermaak.

Maar Steve Borthwick is nie ʼn rugbyafrigter wat die snoeiskêr gryp in ʼn poging om sy span reg te knip nie. Hy het nou net drie veranderinge gemaak vir Saterdag se Sesnasies-wedstryd teen Ierland op Twickenham.

Immanuel Feyi-Waboso en George Martin kry nou hul kans in die opdrafspan nadat hulle op die plaasvervangersbank diens gedoen het, terwyl skrumskakel Alex Mitchell ook weer gereed vir aksie is.

“Wat spankeuse betref, is kontinuïteit baie belangrik – veral as ʼn mens na die toekoms kyk en na die droom om ʼn sterk span te bou. Ons het teen Skotland foute gemaak. Dit was waarskynlik die eerste keer in ʼn hele ruk waar ʼn mens duidelik kon sien dat die druk om Engeland te verteenwoordig swaar op die spelers se skouers rus,” het Borthwick gesê.

Volgens die Engeland-afrigter glo hy in sy span se vermoëns op die rugbyveld.

“Ek kon baie veranderinge gemaak het, maar ek glo in die spelers. Ek weet dat hulle vasberade is om hierdie naweek goeie rugby te speel; ʼn mens kon hul teleurstelling ná die Skotland-wedstryd aanvoel.”

Duidelik stem Andy Farrell heelhartig met Borthwick se ontleding saam – die Ierland-afrigter het immers ook net een verandering aan sy span aangebring.

Hugo Keenan het voldoende van sy kniebesering herstel om die no. 15-trui op Twickenham te dra.

Indien Ierland met die Rose afreken, sal dit hul 12de Sesnasies-oorwinning op ʼn streep wees – ʼn nuwe rekord en hulle sal ongetwyfeld binne trefafstand van die titel wees.

Die wedstryd begin Saterdag om 18:45 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Engeland: George Furbank (heelagter), Immanuel Feyi-Waboso (regtervleuel), Henry Slade (buitesenter), Ollie Lawrence (binnesenter), Tommy Freeman (linkervleuel), George Ford (losskakel), Alex Mitchell (skrumskakel), Ben Earl (agtsteman), Sam Underhill (flank), Ollie Chessum (flank), George Martin (slot), Maro Itoje (slot), Dan Cole (stut), Jamie George (kaptein en haker) en Ellis Genge (stut). Plaasvervangers: Theo Dan, Joe Marler, Will Stuart, Chandler Cunningham-South, Alex Dombrandt, Danny Care, Marcus Smith en Elliot Daly.

Ierland: Hugo Keenan (heelagter), Calvin Nash (regtervleuel), Robbie Henshaw (buitesenter), Bundee Aki (binnesenter), James Lowe (linkervleuel), Jack Crowley (losskakel), Jamison Gibson-Park (skrumskakel), Caelan Doris (agtsteman), Josh van der Flier (flank), Peter O’Mahony (flank), Tadhg Beirne (slot), Joe McCarthy (slot), Tadhg Furlong (stut), Dan Sheehan (haker) en Andrew Porter (stut). Plaasvervangers: Ronan Kelleher, Cian Healy, Finlay Bealham, Iain Henderson, Ryan Baird, Jack Conan, Conor Murray en Ciaran Frawley.

  • Sesnasies-punteleer:
  1. Ierland: 15 punte ná drie wedstryde
  2. Skotland: 9 punte ná drie wedstryde
  3. Engeland: 8 punte ná drie wedstryde
  4. Frankryk: 6 punte ná drie wedstryde
  5. Wallis: 3 punte ná drie wedstryde
  6. Italië: 3 punte ná drie wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.